Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
e-Volksie wen gesogte prys

Duitse motorvervaardigers het verlede week in New York gewys wie gee die pas in die internasionale motorlandskap aan toe drie van die vyf pryse – waaronder die gesogte Wêreldmotor van die Jaar – deur Duitse groepe by vanjaar se Wêreldmotor van die Jaar-toekenningsgeleentheid opgeraap is.

Volkswagen se ID.4 het met die algehele prys as 2021 se Wêreldmotor van die Jaar weggestap, nadat hy die klein Honda e en Toyota Yaris om die louere uitgestof het.

Die ID.4 en Honda e is albei batterygedrewe voertuie, maar waar die Japanner ’n ware stadsbuksie is, is die ID.4 ’n stasiewa-tipe sportnuts. Die ID.4 is teen jaareinde of vroeg volgende jaar na Suid-Afrika op pad.

Volgens die paneel van 93 internasionale motorjoernaliste van 28 lande – waaronder drie van Suid-Afrika – bied die ID.4 ’n puik kombinasie van moderne tegnologie en gebruikersvriendelikheid.

Die ID.4 is VW se groot aanslag, naas sy kleiner, Golf-tipe ID.3, op die wêreldmarkte net soos die rol wat sy Kewer en Golf in die verlede as gesinsmotor vir almal vervul het.

Die Duitse groep het hoë verwagtinge dat sy nuwe generasie van gesinstipe e-voertuie redelik bekostigbaar en prakties genoeg sal wees om groot aanklank by ’n breë gehoor te vind.

Volkswagen se nuwe, batterygedrewe sportnuts, die ID.4, het met die louere as Wêreldmotor van die Jaar weggestap.

Weelde

In die afdeling vir weeldevoertuie het Mercedes vir die vierde keer met dié titel weggestap, die meeste wat ’n vervaardiger nog in die kompetisie se 17 jaar kon vermag. Die S-klas het die beoordelaars oor die wêreld heen beïndruk met sy weelde, nuwe tegnologie en veiligheidstelsels, gerief en brandstof­doeltreffend­heid.

Die S-klas was eers op ’n langlys van tien modelle benoem, waarna dit tot ’n kortlys van drie verklein is wat die Land Rover Defender en Volvo Polestar 2 (die groep se nuwe e-motor) ingesluit het.

Verrigting

In die afdeling vir verrigtingsmotors het ’n derde Duitser, ook uit Stuttgart, hakskene vir die mededingers gewys. Porsche se nuwe 911 Turbo is hier as die wenner aangewys, nadat hy die Audi RS Q8 en Toyota GR Yaris in sy rubberstrepe laat vaskyk het.

Die 911 Turbo bied ’n kombinasie van puik sportmotor-verrigting en alledaagse gebruikersvriendelikheid. Dit tesame met ’n uitsonderlike waardebehoud oor sy leeftyd en meganiese integriteit. Jy kan hom houe gee vandag, en steeds môre in gemak kafee toe ry om brood te gaan koop.

Stadsmotor

Honda het as vlagdraer vir die Japanse nasie gedien toe sy klein Honda e as die Stadsmotor van die Jaar gekroon is. Die klein Honda e is ougat soos ’n nuwe brak in die huis en wys dat die nuwe era van batteryvoertuie nie vaal en onprakties hoef te wees nie. Die knaap is ’n ware stadsbuks wat veral in Japanse en Europese markte baie prakties sal wees.

Mededingers was die Jazz en Yaris.

Beste ontwerp

Vir die afdeling Beste Ontwerp van die Jaar het al die finaliste vir dié eerbewys in aanmerking gekom. Die kortlys (drie finaliste vir elke afdeling) is aan ’n onafhanklike paneel van sewe internasionaal erkende ontwerpers gegee, wat ’n verslag oor elk opgestel het met hul kundige aanbevelings aan die paneel van motorjoernaliste.

Die wenner was die nuwe Defender, wat beoordelaars gevoel het ’n goeie herinterpretasie van ’n ikoniese ontwerp is.

Onder die stuurmanskap van Gerry McGovern, hoof van Ja­guar Land Rover se ontwerpafdeling, het die Britse groep nou alreeds ses keer dié erkenning ontvang vir beste ontwerp (die Jaguar I-Pace, F-Pace, F-Type, Range Rover Velar en Evoque was vorige wenners).

Meer oor:  Duitsland  |  Prys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.