Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Allesdoen-kampioen

Mercedes-Benz se eerste vol-elektriese sedan, die EQS.
Die 4x4-variant van Renault se puik kruising van teer- en veldwiele, die Duster 1.5dCi, bied een van die motormark se beste waarde-vir-geld-kopies. Egmont Sippel het berge en dale platgery.

Bevind myself nou die dag op ’n stuk snelweg wat skynbaar deur Jan van Riebeeck se Drommedaris ter plaatse afgelewer is. Intussen was daar darem al 369 jaar om aandag aan herstelwerk te gee.

Die probleem, sien, was dwarskrake wat deur die dekades oor die pad oopgebars het; die oplossing was repe teer om die skeure te vul.

Nou bult die pieke van einste opvullings effe hoër as die padvlak. Die repe is ook donkerder as die res. Van bo lyk die snelweg dus soos ’n lang leer; ’n donker dwarsspar van opgehewelde asfalt elke paar meter, doef-doef-doef vir myle aaneen.

Maar krag en spoed is nie hoekom die Duster my aan die Benz herinner het nie. Bandklap oor genoemde padrepe was die rede. Die Duster se doef-doef was gedemp.

En relatief so sag, die klank, in Renault se alwielgedrewe Duster 1.5dCi dat dit my skielik aan Mercedes-AMG se S63 met sy magtige 5.5-liter-V8-biturbo (430 kW/900 Nm) laat dink.

Dis indrukwekkende syfers wat allermins verbaas. Die S-klas is altyd indrukwekkend. Dis hoekom die nuwe een pas as 2021 se Wêreldweeldemotor van die Jaar bekroon is (sien kassie).

Maar krag en spoed is nie hoekom die Duster my aan die Benz herinner het nie. Bandklap oor genoemde padrepe was die rede.

Die Duster se doef-doef was gedemp.

Die S63 s’n was soos kort, kragtige geweerknalle: kwa, kwa, kwa, kwa sonder ophou.

En dit laat mens wonder.

Duster-4x4

Renault se sakpas-kruiswaentjie – uiters geskik vir teer én grond, stad én veld – strek net-net verby 4,3 meter en sy pens troon 210 mm bo die grond, ’n boendoe-vriendelike syfer, maar ook een wat mens met die in- en veral die uitklimslag oplet.

Nie dat daar ooit ’n drang tot ontruiming is nie. Die nuwe Duster bied ’n basiese en eenvoudige, maar ’n funksionele en aangename leefruim met ordentlike toerusting en verpakking.

Selfs die agterkajuit bied genoeg vir kop- en voetgemak en die spaarwiel is volgrootte.

Weens 4x4-hardeware op die Dynamique-model se agteras is sy laairuim sowat 70 liter kleiner as die 2WD s’n, maar omdat einste ruim ver van voor na agter strek, lyk dit uiteindelik vlakker as wat dit waarlik is (450 mm van bo na onder versus die Toyota C-HR se 320 mm, as voorbeeld).

Wat basiese argitektuur betref, is die Duster dus ’n wenner. Sy robuuste aard en vermoëns word boonop goed deur ’n taai en bonkige maar netjiese voorkoms verbeeld; kyk maar hoe maklik en stewig knip die deure toe. En hy’s stofdig. Hierdie outjie kan veld vat. Dis waarvoor hy gebou is. Meganika, sowel as harde- en sagteware, is boonop bewese.

Draai die hele katoetie in stewige bouwerk toe en jy kry ’n winskopie op die handel- én versienvloer; ’n aspek waaraan Renault hard oor die afgelope tien jaar gewerk het.

Verbruik

Les bes is die Duster nie bang vir mensverskrikkers wat hand-in-die-oor by vulstasies wag om beursies te verslind nie.

Met so ietsie onder 6 liter/100 km sal jy 850 km of meer uit die turbo-aangejaagde 1.5dCi-diesel (80 kW/240 Nm) se 50 liter-tenk kan tap, al dryf die waentjie op al vier motorhoeke. Dis boonop maklik om die ratkas teen afdraandes te ontkoppel om ekstra teer uit die tenk te toor en daar is, terloops, nét ’n sesgang-handrat vir die 4WD-variant beskikbaar.

Die Duster is natuurlik nie ’n ware 4x4-bul nie, maar ’n ligte lewenstyler in die kruissegment. Selfs met ekstra hardeware om (deeltydse) vuur na die agterwiele te voer, weeg hy minder as 1,4 ton.

Die geskikte langpadmodus is dus kole op die vooras, wat gekies kan word deur die draaiknop op die tonnelkonsole tussen die voorsitplekke na 2WD te swiets.

Of as jy ’n mengelmoes van paaie ry, na Auto sodat die blikbrein self kan besluit of die voertuig net deur die voorwiele of deur al vier moet dryf.

Lock Mode, beter as 4WD bekend, is dus die aangewese ritregime sou die outjie klippe begin kou. Die Duster is duidelik nie ’n Defender nie, maar hy’s ten minste soos ’n o.18-tienkamp-atleet toegerus om taai terrein te tem.

Veldvermoëns

Eerstens troon sy pens hoog bo die grond. Tweedens spog hy met kort voor- en agteroorhange, wat goeie inval- en vertrekhoeke (van 30° en 34°, onderskeidelik) waarborg.

Derdens knus sy 16”-allooie in uiters hoë 65-profielrubber sodat die Giti-bande (van Singapoer) ordentlik teen die gevare van grondpad-pokke beskerm word.

Vierdens ry die 4WD-Duster op onafhanklike veelskakel-agtervering pleks van 4x2-variante se wringbalk. Die ritgehalte en selfs hantering is soveel beter dat dit mens noop om self te gaan verifieer en ja, wragtig, daar pronk dit: ’n veerstelsel wat, interessant genoeg, nogal op die Alfa Romeo 156 s’n van die jare om die eeuwenteling trek.

Die 156 se agterveerstelsel is weer uit die Lancia Thema s’n ontwikkel wat dit van die 1970’s se Lancia Beta oorgeneem het nadat Sergio Camuffo getaak is om die amperse bankrot Italiaanse premiumvervaardiger te red ná Fiat se oorname in 1969.

Deesdae ry die Duster-4WD – nes die Jeep Renegade en Fiat 500X – eintlik op ’n Camuffo-tipe McPhersonstut-agtervering met skakelarms.

Maar noem dit onafhanklike veelskakels as jy wil. Dit hou die beskrywing eenvoudig en verklaar die waentjie se goeie ritgehalte – wat mens laat wonder hoe die Silwerdiamant se Duster-afgeleide Oroch-bakkie sal vaar as hy eendag as regterstuur beskikbaar is?

As linkerstuur doen die driekwartton-dubbelkajuit uitstekende sake in Suid-Amerika. So, kom nou Renault, ’n Orochgie vir ons in 2022?

Die 4WD-Duster vul juis die kierieskuiwer se maag met ’n ekstra rat (versus 4x2-variante se vyfgang-kaste) vir ’n veldgerigte kruipratio.

In normale gebruik trek mens dus in tweede weg. Maar in die boendoe kan jy ’n olifant kop-aan-kop met eerste stuit.

Hy’s met ander woorde so kort en kragtig soos Rocky Marciano se Suzie-Q-regterhaak. Het Suzie getref en dit was afdraande vir Rocky se teenstanders.

Einste teen afdraandes – of as jy wil, rocky-afdraandes – keer eerste-rat-remming dat die Renault begin weghardloop.

Dit dan die Duster-4WD se vyfde veldgeheim, daai kort openingsalvo. So goed klim hy byvoorbeeld steiltes dat daar situasies ontwikkel waarin jy later teen baie stadiger snelhede as eersterat-spoed na gelyk grond moet terugruspe.

En dit kan lastig raak as jy ’n handrat vir te lank op die grens van wiele-rol en enjinstol moet ry. Die oomblik as jy die koppelaar intrap om die enjin lewendig te hou, dreig jou voertuig met ’n spoed­aanval wat dalk te vinnig is vir die terrein waaroor jy moet katvoet.

Dan’s dit weer ankerpedaal in en koppelaar uit en so word laasgenoemde in siklus ná siklus warm gekarnuffel.

Maar ook hier het die Duster ’n sesde veldvoordeel en dis heuwel-af-beheer, wat die spoed tot 6 km/h beperk. Geen gas of grendel deur die bestuurder nie; los alles en laat die wa sy eie tempo beheer. Heuwel-op-hulp is boonop met die wegtrek beskikbaar en die 4x4-monitor toon die Renault se helling- en kantelhoek, asook die rigting waarin jy ry.

Die 4WD-Duster se sewende getuigskrif vir veldlus is vier terreinkameras, twee wat langs die voertuig se flanke na vore skiet, nog een in die neus en een in die stert. Die idee is om te sien wat om jou aangaan – klippe, rotse, boomstompe en dies meer – maar in werklikheid is die beeldgehalte te swak om van ware navigeerwaarde te wees.

Op die pad

Van groter nut is die funksionele kajuit en sy maklike stuur (nogals met ’n plat boom) wat net genoeg gewig lewer om teen te werk, plus uitstekende remme (wat die Duster in minder as 40 m van 100 km/h stop), asook genoeg lae-strek-wring om hope werk tussen 1 500 en 2 500 r.p.m. te lewer, alles uit ’n dieselbron wat eers teen 5 000 toere deur ’n sagte beperker toegeknyp word.

Voeg ’n volspaar en twee stewige dakrelings by die pluspuntlys.

Daar’s ook ’n oorvloed van goeie ou dieselklater in ’n klassieke, landelike idioom. Genadiglik verdwyn dit teen spoed.

Selfs windgeraas teen 170 km/h is verrassend laag.

Rond dit alles met goeie toerusting af en die Renault doen sy ding.

Soos om padribbe af te lag terwyl ’n Benz S63 AMG met sy swaar lyf en lae-profiel-rubber daardeur opgedoef word.

Daar’s ander dinge ook waaraan mens op doefmomente dink. Soos voertuiggrootte en -gewig. Brandstofkoste. Vogverbruik. Tenkafstand. Penshoogte. Paduitsig. Alwieldryf. Veldvermoëns. Nuttigheid. Veelsydigheid. Karweiwerk. Kantoorritte. Inkopies oplaai. Kinders aflaai. Vakansies. Grondpaaie. Gruis. Sand. Klip. Rots. Ligte ruigtes. Vlak water. Diep valleie. Hoë heuwels. Die meeste daarvan word moeiteloos deur die Duster-4WD getem. En jy kan agt van hulle vir die prys van een S63 AMG koop.

Feitlik almal wat ’n driepuntster ry is boonop bang vir ’n skrapie op die mooie blinke koets. Jy voel almaardeur vasgevang. Jy lewe in geknelde land. Niemand wat die Renault ry tob alte veel oor beuselagtighede nie. Taai werk is die Duster se bedoelde land.

Gevolgtrekking

En ja, die twee motors ding natuurlik om totaal verskillende snitte van die kopers­koek mee. Mens kan nie vergelyk nie.

Net om te begin is die Benz baie botsveiliger. Gehalte kom ook uit ’n ander heelal.

Tog flits dit soms onwillekeurig deur jou kop dat die Duster die meeste kan doen van wat die Duitser op teer kan, al is dit teen helfte van die spoed – en dat ’n Duitse sedan min kan doen van wat ’n Duster in die veld kan.

Sou jy dus ’n driepuntster wou aanskaf wat naastenby grammadoela-tred kan hou, moet jy feitlik dubbel die Duster-prys vir ’n GLA 200d betaal en meer as 50 mm se penshoogte inboet, asook drie jaar (oftewel twee versus vyf) op die waarborgperiode.

Wat mens nogal laat dink.

Want al gaan dit nie om direkte vergelykings nie, gaan dit tog in ’n mate om waardestelsels.

Of hoe?

  • Prys: Renault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD (6-g-hand) – R362 000

Volkswagen se vol-elektriese ID.4.
Honda e.
G’n verrassing: ID.4 is wêreld se beste

In ’n uiters voorspelbare kompetisie is Volkswagen se vol-elektriese ID.4 die afgelope week in New York as 2021 se Wêreldmotor van die Jaar gekroon. Die oulike vol-elektriese Honda e is die Wêreldstadsmotor van die Jaar, Mercedes se nuwe S-klas die Wêreldweeldemotor, Porsche se 911 Turbo die Wêreldverrigtingsmotor en in die enigste kompetisieverrassing het Land Rover se Defender die ontwerpslouere voor die Honda e en Mazda MX-30 weggeraap.

Mercedes-Benz se eerste vol-elektriese sedan, die EQS.

Of was dit nie ’n verrassing nie? Onthou dat heelparty van die joernaliste wat die kompetisie beoordeel nog nooit sekere – of selfs enige – van die motors bestuur het nie. Daarom sal glansname dikwels wen. Meegaande Merc-foto toon nie die nuwe S nie, maar wel Benz se eerste vol-elektriese sedan, die EQS, wat sy wêrelddebuut laas week gemaak het.

Meer oor:  Motors  |  Egmont Sippel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.