Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Breker-bakkies

Skielik reën dit weer bakkies. Egmont Sippel lewer ’n oorsig van die nuutste in die stal van vier M’s: Mazda, Mahindra, Mitsubishi en die sewende geslag D-Max, oftewel Isuzu se nuwe eenton-bakkie.

Bakkiewêreld is brekerwêreld. En deel van brekerwêreld is bekwêreld. Die manne kan almal ’n koue kasteel om die kampvuur geniet, maar veral wanneer dubbelkajuite vergelyk word, raak die taal warmer as die vlamme.

Die laaste paar weke het heelwat nuwe stof vir bekboks gelewer.

Mahindra Pi k Up S6-enkelkajuit

Mahindra het ’n linkersteekhou ingekry met die opkikkering van sy Pik Up-bakkie in S6-enkelkajuit-gewaad.

Mahindra Pik Up S6-enkelkajuit

Alle plaaslik beskikbare Mahindra-bakkies – menende alle S4-, S6-, S10- en S11-variante – dryf uit ’n 2.2-liter-viersilinder-turbodiesel (103 kW/320 Nm).

Die helfte van die 16 variante stuur hul krag eksklusief na die agterwiele (en diesulkes kan 1,2 t dra); die ander helfte stuur hul krag na al vier wiele (met loonvrag van 1,1 t).

Die vars S6-enkelkajuite (die 4x4 én 4x2) spog ná dese met ’n ligte stileringskuur (nuwe rooster, kop- en flikkerligte, misligte en laaibak-rolstaaf), plus krag-kantspieëls, kruisbeheer, enkelaanraak-flikkers vir baanverandering en opgegradeerde sitplekke (met hoogteverstelbaarheid vir die bestuurderstoel, plus armleunings vir albei insittendes).

Sentrale sluitgerief, lugreëling, reënsensitiewe veërs, selfnivellerende kopligte, staan/gaan-tegnologie, USB/Bluetooth-konnektiwiteit, ’n 12V-laaisok, twee lugsakke voor en ABS-remme was voorheen al standaard.

’n Waarborg van 4 jaar/120 000 km sluit padbystand in. Benewens die eerste smering op 10 000 km volg versien-afstande elke 20 000 km.

Mitsubishi Triton Xtreme

Met sy lae GVR (geraas, vibrasie en ruheid)-vlak, plus gepolitoerde dryflyn (insluitende ’n intelligente gladde outo) is Mitsubi-shi se 4x4-dubbelkajuit-Triton een van ons land se verborge geheime.

Die verfynde 2.4-liter-viersilinder-turbodiesel (133 kW/430 Nm) koppel aan ’n sesgang-outokas en Mitsubishi se Super Select II 4WD-stelsel, ook met hoë- en laestrek, plus ’n sentrale sluitewenaar.

Mahindra Pik Up S6-enkelkajuit

Nou’t einste Xtreme ’n ligte reguit regter gegooi deur Android Auto en Apple CarPlay, asook “sport”-afwerking vir die outokierie, in die kajuit by te voeg, terwyl eksterne byvoegsels prominent in swart vertoon: die nuwe buffer-en-rooster-kombinasie, ’n enjinkapskermstrook, dakrelings, ’n Kekosport-rolstaaf in die laaibak, deurhandvatselskulpe om die verfwerk teen naelkrappe te beskerm, dik wielboë met silwerkleurige vasskroef-boute, gepaste A-Line Hazard-allooie (met Pirelli Scorpion All Terrain-bande), plus ’n Bo-sal-touhaak . . . alles in swart.

Die laaibak, nou met rubber uitgevoer, kry ’n spanseil plus hidrouliese EZDown-agterklapgerief met, raai, ’n slot.

’n Fabriekswaarborg dek 3 jaar/100 000 km, die diensplan strek vir 5 jaar/90 000 km en padbystand vir 5 jaar/onbeperkte km. Die versien-afstand is elke 10 000 km of jaarliks.

Al hierdie ekstratjies, seg Mitsubishi, is R100 000 werd, maar teen R640 000 is die gekikkerde Xtreme net R40 000 duurder as voorheen.

Maskara kos geld.

Mazda BT-50 en Isuzu D-Max

Mazda het nie by ’n linkersteekhou of reguit regter gehou nie. Met ’n geheel nuwe, derde geslag BT-50 wat pas per elektroniese media bekend gestel is, het Hirosjima eerder ’n elegante, gladde opstopper gelewer.

Waar die vorige BT-50 feitlik identies aan die Ford Ranger was – minus die goeie rit, mildelike spesifikasie en bulstilering – is die nuwe BT-50 ’n gesamentlike poging met Isuzu Motor Limited.

Wat eerste opval, is uiteraard die nuwe jas in die teken van Mazda se Kodo-ontwerpsfilosofie: vloeiende lyne, goeie verhoudings en stil, skoon metaaloppervlakke, plus bultende wielboë wat die nuweling ’n vingerdikte breër as sy voorganger maak.

Inderwaarheid is hy ook ’n pinkielengte korter en ’n duimlengte laer.

Mitsubishi

Waar die vorige BT-50 se kajuit boonop deur ’n prominente, regop middelkonsole gekenmerk is, bied die nuweling ’n lang, horisontale voorpaneel. Visueel vertoon dit stil, netjies en motoragtig gemeet aan die bonkige, steroïdbelaaide voor- en middelpanele van feitlik alle bakkies, die nuwe Isuzu D-Max (of dan die BT-50 se halfbroer) se dramatiese paneelaanbieding ingesluit.

Aan Mazda-kant spog die stuurkolom uiteindelik ook met teleskopiese verstelling, terwyl die infovermaakstelsel groot, duidelike raakskerm-ikone bied, plus Android Auto en Apple CarPlay. Semi-skottels sal ook goeie dy- en flankondersteuning op rowwe terrein waarborg.

Standaardtoerusting is boonop met kruisbeheer, blindekolhulp en outonome noodrem-ingryping verbeter, terwyl kruisverkeersensors teen naderende voertuie waarsku wanneer die BT-50 uit ’n parkeerarea tru.

Die elegante, nuwe Mazda dryf uit Isuzu se hersiene 3.0-liter-viersilinder-turbodiesel, wat uiteraard ook in die nuwe D-Max sal pronk. Isuzu Japan het ongeveer R1,2 miljard in Port Elizabeth belê om die sewende geslag Max – nou veel meer lewenstylbakkie as werkesel – aldaar te bou, hoewel bekendstellingsplanne uiteraard deur Covid-19 vertraag is.

Mazda BT-50

Die hersiene Isuzu-bron lewer ’n goeie klompie perde meer as voorheen (140 kW/450 Nm versus 130 kW/380 Nm). Dis uiteraard veel meer as die vorige Mazda BT-50 se 110 kW/375 Nm uit ’n 2.2-liter-viersilinder-turbodiesel en klop selfs Toyota se huidige 2.8-liter-viersilinder-turbodiesel (130 kW/420 Nm vir die handrat en 130 kW/450 Nm vir die outo).

Dis egter ook ’n snars minder as die vorige BT-50 se 147 kW/470 Nm uit Ford se 3.2-liter-vyfsilinder of die komende, gekuurde Hilux 2.8 se 157 kW/500 Nm.

Voornemende BT-50-kopers sal tussen ’n sesgang-hand- of outokas kan kies, terwyl 4x4-variante laestrek byvoeg.

Loonvrag is 1 065 kg en die bakkie kan 3,5 t tou.

  • Weens Covid-19-vertragings is Mazda nog in die duister oor die plaaslike bekendstellingsdatum en pryse. Die beloofde bekendstellingsverslag oor VW se nuwe T-Roc-lewenstyler volg oor twee weke.
Meer oor:  Motorrubriek  |  Bakkies  |  Egmont Sippel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.