Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Die Leeu kry naels

Peugeot se nuwe 2008 stel nuwe standaarde in die kompakte kruiswa-nis. Sy Franse chic het Egmont Sippel oorrompel.

Amper 30 jaar gelede wag ek ’n halfuur lank in ’n tou om ’n pakkie uit Parys se Sorbonne-poskantoor na Nederland te stuur. Die man agter die toonbank weeg daai

Foto:

pakkie. Dis ses gram swaarder as die toegelate twee kilogram.

Die man weier volstrek om die pakkie te aanvaar. Hy beduie waarnatoe volgende, alles in Frans. Dis à gauche hier en à droite daar, vir omtrent ’n kilometer, maar buite reën dit. Ek skuil onder die afdak van ’n straatkafee en drink koffie tot die hemele bedaar.

Dan weer vort tot by die volgende poskantoor en arriveer met die pakkie, maar sonder my kamera. Dêmmit! Moes hom by die straatkafee vergeet het.

Frankryk maak soms so met ’n mens. Dis die Sorbonne en die Boulevard St. Michel waaroor Peter Sarstedt gesing het. Die Louvre en die Notre Dame. Die Moulin Rouge en Montmartre. Die Arc de Triomphe en die Eiffel.

En dan, skielik, ’n nagmerrie uit nergens. Die Notre Dame brand. ’n Mercedes bots teen die Pont de l’Alma se betonpilare. Marie Antoinette se kop rol op die Place de la Révolution.

Of Peugeot bou ’n 407 of 607.

Welter, Ploué, Vidal en die ADN

Die 407 word die beste deel van 20 jaar gelede in Frankryk bekend gestel. Hy’s nóg ramp nóg Rambo. Nes die 607 is hy egter ’n vaal, karakterlose wa.

Wat wou Peugeot bereik? Bou vir die massas, as jy goedkoop wil bou. Of skuif op na die premiumsegment, as jy gehalte soek. Maar vergeet van half-premium, half-massamark.

Oor aandete sê ek so toe Robert Peu­geot my mening vra. As direkte afstammeling van Émile en Armand Peugeot en ’n firma-ringkop sien ek die skok op sy gesig toe ek die 407 begin kritiseer, veral ook oor hoofontwerper Gérard Welter se obsessie met lang, slap kopligte soos daai verlepte horlosies in Salvador Dalí se skildery La persistència de la memòria (Die hardnekkigheid van herinneringe).

Die 407 lyk pap en moeg. Van flair en persoonlikheid is daar min sprake. Veel beter was die kopligte wat Welter vir 1968 se Peugeot 504 ontwerp het, dalk omdat dit – in sy eie woorde – deur Sophia Loren se oë geïnspireer is.

Op sy tyd was Welter natuurlik ’n prominente lid van die laat-1970’s se Projek M24-taakspan wat die ikoniese Peugeot 205 gelewer het. Die belang van M24 was juis dat ontwerp en stilering, wat voorheen merendeels deur die Italiaanse ontwerpshuis Pininfarina behartig is, weer binnenshuis gedoen sou word.

’n Wenpunt wat dalk effens deur die toetsmotor se treffende baksteengoue Orange Fusion-kleur in kombinasie met ’n swart dak verbloem word, is die 2008 se verbasende goeie grondvrye hoogte van 210 mm.

Dié rigtingverandering spoor PSA Peugeot Citroën aan om ’n imposante nuwe ontwerpsentrum genaamd die ADN (Automotive Design Network) in Vélizy-Villacoublay, in Parys se buitewyke, te bou.

Kort ná die voltooiing in 2004 tree Welter af en Citroën se destydse stileermeester, Jean-Pierre Ploué, word PSA se hoofontwerper. Terselfdertyd word Ploué se Citroën-onderling, Gilles Vidal, as Peu­geot-stileringsdirekteur aangestel.

In 2010 kondig die twee ’n nuwe Peugeot-ontwerpstaal aan, een wat uiteindelik in 2016 se tweede-geslag 3008 vorm aanneem, voor dit in 2019 se tweede-geslag 208 en 2008 asook in 2020 se gekuurde 3008 konsolideer tot wat ons deesdae as moderne Peugeot-ontwerp identifiseer.

Ploué en Vidal se nuwe visie kry in 2014 belangrike stukrag toe die dinamiese Carlos Tavares, voorheen van Renault, die PSA-groep se hoofindoena word.

En pas ses maande gelede is PSA se 50:50-samesmelting met Fiat Chrysler Automobiles amptelik bekragtig om die supergroep Stellantis as die planeet se sesde grootste motorvervaardiger te vestig.

Báie dinge het dus by Peugeot gebeur in die dekade en ’n half sedert die ADN se oprigting en, kort daarna, Welter se vertrek. Maar die grootste aanduiding dat Die Leeu van Sochaux nou uiteindelik die soort voete gevind het om méér as net ’n massaspeler te word, lê straks in die bekendstelling van hul nuwe 2008.

Verrigting en kajuit

Die 2008-kruiswaentjie is die eerste Peugeot om op die maatskappy se CMA-platform (Common Modular Architecture) te ry en hy doen dit goed. Veral op hoë 60-rubberprofiele dra die GT Line-variant se 17”-Michelins die wa se 1,3 ton met genoeg skokabsorpsie om die 2008 na ’n ware Peugeot te laat voel.

Die 1.2-liter-driesilinder-turbotjie verrig lekker (96 kW/230 Nm; 0-100 km/h in 10.5 sek; topspoed net onder 200 km/h; 7 liter/100 km), terwyl die sesgang-outokas goeie en gladde skakelings met die voorwiele bied, indien nie altyd die allerhaastigstes as jy skielike verbysteekwoema soek nie.

Foto:

Die stuur is boonop lig en maklik in stadsverkeer, maar wel met ’n bietjie gevoel as jy aanstoot.

Waar die 2008 – nes ander moderne Peugeots – wel irriteer, is in die relatiewe lang druk wat die aansitknop vereis voor die enjin swaai of afskakel. Inderdaad benodig die meeste voorpaneelfunksies (soos infovermaak) ’n sekonde of twee meer as die norm om hul ding te doen.

Maar boeta, as die instrumente eers verlig, lewer dit ’n skouspel soos min, deurdat sommige inligting hologrammaties in rooi, blou of kwartsgroen geprojekteer word om skynbaar met 3D-diepte bo die i-Cockpit se basispaneel te dryf.

Dis bes moontlik ’n eerste in die ganse motorbedryf en dit werk soos melktert saam met Sondagtee.

Die instrumentpaneel word boonop in ’n unieke huls met “gryphandvatsels” op sy kante aangebied. Die agterkajuit bied goeie ruimte (en, nes die voordeure, ook sagte elmboogrusse), terwyl ferm materiaalsitplekke met leerstroke en lemmetjiegroen stikwerk afgewerk word.

Die res van die hoëgehalte-kajuit is ewe vars en onderskeidend. Waar vele vervaardigers die eenvoudigste moontlike funksionele argitektuur nastreef, lewer Peugeot ’n modulêre uitleg met vele vlakke, hoeke en dieptes, alles rondom Sochaux se nou al bekende klein en laaggeplaasde stuurwieletjie met ’n plat bokant en boom sodat instrumente bó die roer sigbaar is.

Stilering en gevolgtrekking

Bakstilering is voorts ’n vreemde kruis tussen flair en formaliteit; hoekig en kantig, gewis, met interessante geometriese interseksies van nate en vlakke wat driehoekvorme (of pylpunte wat na mekaar skiet) op die sypanele skep.

Die snoet is effens stomp, terwyl die bonkige rooster met ’n swetterjoel regop silwer stafies afgewerk word. LED-kop- en dagryligte roep voorts die beeld van drie leeukloue op, plus twee slagtande wat weerskante na onder byt.

Einste lewer die agterligte drie leeukloue plus ’n dik, swart glansstrook wat die ligsamestelle (nes op Porsche- en Audi-produkte) verbind. Die woord “Peu­geot” in ’n klein, swart stafie op die kante van die agterligte is ’n voorbeeld van die subtiele visuele detail waarmee die 2008 afgerond word.

peugeot

’n Wenpunt wat dalk effens deur die toetsmotor se treffende baksteengoue Orange Fusion-kleur in kombinasie met ’n swart dak verbloem word, is die 2008 se verbasende goeie grondvrye hoogte van 210 mm.

In kombinasie met soepele vering, asook traksiebeheer met ritmodusse vir teer, sneeu, sand en modder, maak dit popspeel van grondpaaie, middelmannetjies en ligte veldterrein.

Die laairuim bied ’n dubbelvloer (deurgaans met vilt afgewerk) en toerusting is puik: krag-alles, klimaatbeheer, kruisbeheer, stembeheer, laanhouhulp, outo-ruitveërs, sitplekverwarming, banddrukmonitors, parkeerhulp (met kringkamerahulp), satnav, Apple CarPlay/Android Auto en ’n hoogteverstelbare bestuurderstoel.

Uiteinde van die saak is vermoënde kruiswiele in 4,3 meter-korte formaat met deeglike bougehalte plus ’n goeie waarborg (5 jaar/100 000 km) en diensplan (3 jaar/60 000 km).

As boetiekbesie is die 2008 inderdaad ’n ewe groot openbaring as die geval van ’n kamera wat destyds vir ’n volle halfuur eenkant op ’n straatkafeetafel in Parys sou staan, sonder dat dit deur ’n verbyganger gegaps is.

Soms verras die Franse jou. Robert Peugeot het straks ook tydens die wêreldbekendstelling van die 407-sedan beter geluister as wat ons vermoed het.

Nou’s dit die koperspubliek se beurt om hul ore vir Die Leeu se brul oop te maak.

  • Prys: Peugeot 2008 1.2T – R360 000-R430 000; 1.2T GT Line – R480 000.
Meer oor:  Motors  |  Egmont Sippel  |  Peugeot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.