Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Heer en kneg

BMW 730Ld
BMW 730Ld
BMW se  M-motors ry harder as ooit tevore, en sy weeldeskepe  al hoe sagter. Egmont Sippel ontleed die resultate aan die hand van die X2 M35i en die 730Ld.

Soms beland mens in ’n goeie hotel of restaurant en alles is chroom, kreef en kaviaar. Dinge is styf en ongemaklik. Jy verlang na iets platter op die aarde, soos João se sardientjies in ’n eetplek vol skeepshout en sokkerplakkate.

Meng kan mens die twee eetstyle nié.

Vergeet dus van ’n alles-in-een-konkoksie.

Presies dít het motorontwerpers jare lank gemantra. ’n Sedan is ’n sedan, ’n stasiewa ’n stasiewa ensovoorts.

’n Halwe dekade ná 9/11 het Nissan egter die baanbreker-Qashqai as alles-in-een-wiele in Parys, Frankryk, onthul; ’n volmaakte versnit of kruising van luikrugte en lewenstylers, slêp bêng in die middel van die motorheelal.

Styltaxi’s en onregeerbares
BMW X2 M35i
BMW X2 M35i

Op dieselfde tydstip was München se eerste moderne kleinmotor, die 1-reeks-luikrug, maar twee jaar oud. In 2009 volg die X1-kruiswaentjie en in 2014 die 2-reeks se Active Tourer, ’n kompakte veeldoeler of “knusbus”.

Maar BMW is BMW en synde uit ’n spesifieke Beierse boom te spruit – een met sportiewe vesel en sap – het München eintlik ’n baba-es-joe-wie met meer lyf en houding as die X1 of Active Tourer gesoek.

Ontmoet 2017 se X2, ’n alles-in-een met eenderse mate en selfs ’n identiese penshoogte (182 mm) as die Qashqai – maar met een groot dimensionele verskil: Die X2 koes heelwat laer as ander kompakte kruisers onder die wind deur.

Dít juis as deel van sy sportiewe gene.

Waar die res – insluitende die X1 en Active Tourer – eintlik maar styltaxi’s is, het die X2 elemente van München se X- en M-poele vervleg om ’n ekstroverte rondritsrakker vir aktiewe siele te bied.

In BMW se bemarkingstaal was die X2 “onregeerbaar”.

Maar duidelik nie onregeerbaar genoeg nie.

Ontmoet die X2 M35i.

Enjin, ratkas, verrigting
BMW 730Ld-kajuit
BMW 730Ld-kajuit

Nou, João se sardinhas asadas en porco preto is puik.

Maar sonder gastronomiese garnering herinner sy hoender aan die intreevlak-X2 (sDrive18i: 1.5-liter-driesilinder; 103 kW/220 Nm). Skrop, skrop hy sonder om luidkeels te kekkel. En pik, pik hy net via die vooras.

Smulpape soek egter peri-peri. Vir húlle stuur die X2 M35i se 2.0-liter-viersilinder-turbobron ’n hetige 225 kW/450 Nm na al vier hoeke. Dis Golf R-kontrei (228 kW/400 Nm). Ook met alwieldryf kap die VW 250 km/h, die Beemer 240 km/h. Direkte mededingers is hulle nie, maar albei motors verslind die 0-100 km/h-lopie in minder as vyf sekondes, die Golf met behulp van ’n sewegang-DSG-kas, die Beemer via ’n vinnige, gladde agtgang-ZF-outokas.

Benewens klassieke sportmotorverhoudings – een derde glas, twee derdes metaal – vul die M35i sy platprofiel-Pirelli P Zero’s met tamaaie 20 duim-allooie.

Kyk ook net hoe kwaai en intens staar hy, weerskante van ’n niertjierooster wat omgedop is om visuele gewig pad toe te trek.

Soeke na identiteit
BMW X2 M35i
BMW X2 M35i

Verrigting is inderdaad dan indrukwekkend, maar penshoogte (182 mm) en dakhoogte (1,526 m) pla.

Want hoekom sou jy soveel grondvrye hoogte soek as 40-profielbande die boendoe ieder geval verboten maak? Of in ’n warm worsbroodjie wou lewe waarvan die dak – laag soos hy vir ’n kompakte kruisvoertuig is – steeds ’n middelvinger (90 mm) hoër as die Golf R s’n troon?

Overgesetsynde: In die veld gaan nóg die Bim nóg die VW dit waag, en op teer gaan die R seëvier. Die hele idee van ’n blitsbuks is tog spoed, veral deur draaie waar ’n lae gravitasiepunt stabiliteit bevorder.

Voorts wil jy so lig moontlik vlieg, omdat elke ekstra vesel versnelling en remwerk vertraag en middelpuntvlietende kragte aanjaag. Teen 4,360 m kort is die X2 inderdaad kompak, maar teen ’n amperse 1,7 ton is die M35i omtrent 150 kg swaarder as die R. So, wat wil die Beemertjie nou eintlik wees?

Vis nóg vlees

Wel, duidelik ’n vuurpyl in die lyf van ’n rondritsrakker.

As blitsbuks staan die M35i egter te hoog, terwyl sy dooie roer duidelike wringstuur maar geen terugvoer bied nie. Selfs remwerk in draaie boesem min vertroue in, daar dit die neus eers na binne trek en dan reguit maak, terwyl dit andersom moet wees.

Die ratkas, enjin en warm knetterklanke is puik, maar dis te min om die M35i as blitsbuks te red.

As ritsbuks faal hy eweneens weens ’n beknopte agterkajuit, ’n klein agterruit en ’n beperkte brandstoftenk (51 liter teenoor die Golf se 55) – plus ’n ongenaakbare harde rit, selfs al blaas jy die bande bietjie af.

Gooi alles bymekaar en die M35i is nóg vis nóg vlees. En wat sal jy sê as João sy hoender as sardinhas assadas of porco preto voorsit?

“Hei, João, het jy jou varkies verloor? Hierdie dis is nóg vis nóg vark! Kry jou spyskaart in bedwang. Of is jou pluimvee ‘onregeerbaar’?”

Langbak-730-diesel

BMW 730Ld

München se slagwoord vir die X2 wou positiewe konnotasies van individualiteit en opwinding vestig, van ’n vrye gees in kontak met ’n ongerepte natuur en Die Groot Avontuur.

Die reeks se peri-peri-variant is egter ’n siniese versameling van generasie-Y- en -Z-motorversugtinge: krag, spoed, spog, hoogsit en handelsmerk. Die M35i is kneg tot al die verkeerde verwagtinge.

En terwyl BMW normaalweg sterk in segmente vir kleiner motors vertoon (dink die 3-reeks, die M2 of die eertydse M140i), dop die M35i sy toets. Hy’s onaangenaam om te bestuur. Daar’s min te geniet. Hy maak jou verlang na iets platter op die aarde. Soos die 730Ld.

Die langbak-Sewe-diesel is veel tuiser in sy eie dop as die M35i en dien dus sy eie nering soveel te beter, al is dit in die opperwêreld van chroom, kreef en kaviaar, waar dinge maklik hoipolloi raak, menende styf en ongemaklik.

Rustig

Die 730Ld dra egter ’n ontspanne weelde. Die uitspattige groot rooster is geforseerd, maar daarvandaan raak alles net kalmer en beter. Met ’n ekstra 140 mm tussen die aste vis-à-vis die standaard-Sewe spreek die Ld se stille metaal-uitgestrektheid (5,260 m) van rustige selfvertroue. Só ook die ekstra agterbeenruimte, allerpragtig gekwilte leersitplekke (plus armrusse) en die sublieme dryflyn. Van buite herken mens die 3.0-liter-reguitses-dubbelturbo (195 kW/620 Nm; 0-100 in 6,2 s; 250 km/h) wel as ’n diesel, maar van binne klink die langslagbron met sy sagte drukverhouding van 16,5:1 hoogstens na ’n growwerige petrol.

Die outokas is ’n agtgang-ZF, wat alles sê, terwyl ritgehalte op 20 duim-wiele (245/40- en 275/35-Pirelli P Zero’s) deur lugvere gebotter word.

Uiteindelik is dit die wringkragtige en windstille manier waarop 1,95 t uit die agterwiele dryf, in kombinasie met onpretensieuse weelde en uitstaande dinamika, wat die 730Ld Individual as trotse heer vestig, en ’n stil een daarby.

Sy elegansie is onderbeklemtoon. Buiten daai enorme rooster en hope rigiede metaal ontbreek die 730Ld aan geleentheidsgravitas. Die ontwerp is blokkig en modulêr, die voorpaneel alledaags en drukknop-aanwysings moeilik om te lees.

Die 730Ld lewe binne sy eie grense.

Die Benz S350d L se baas is hy nié.

Maar hy’s ook niemand se kneg nie.

En wie sou dít ooit kon sê, dat BMW so goed met ’n groot ou platte sou slaag, en so liederlik met ’n kleintjie sou misluk?

  • Pryse: BMW X2 M35i – R899 400; BMW 730Ld Individual – R2,1 miljoen.
Meer oor:  Egmont Sippel  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.