Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Is dit nog ’n Landie?

Land Rover se nuwe Defender het ’n omstredenheid ontketen. Is hy nog die bosbrekende Landie van ouds? Egmont Sippel bespreek Solihull se jongste wiele.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die koste is katastrofies. Groot grosse fauna word verwoes.

Maar ná ’n erge veldbrand loop die flora mettertyd weer uit.

Waar sovele heen is, sal die grassaad mettertyd weer buig, die skape wei, die beeste bulk.

En almal sal weer lag en lewe.

Dít het ons van C.M. van den Heever geleer. Dís die siklus.

Einste so ná die Tweede Wêreldoorlog.

In 1948 word Porsche gebore, terwyl die ontwerp van Maurice en Spencer Wilks se eerste Land Rover ook lyf kry.

Die twee broers se prototipe is juis op die onderstel en aste van ’n Willys Jeep gebou.

Land Rover het dus uit sy aartsvyand, die Jeep, gegroei; ’n oorlogsproduk wat deur generaal en later pres. Dwight Eisenhower as “een van Amerika se drie deurslaggewende wapens in die oorlog” beskryf is.

Land Rover het dus uit sy aartsvyand, die Jeep, gegroei; ’n oorlogsproduk wat deur generaal en later pres. Dwight Eisenhower as “een van Amerika se drie deurslaggewende wapens in die oorlog” beskryf is.

Ons weet hoekom. Die Willys was taai, duursaam en uiters veldvermoënd. Met sy ligte lyf, en as die planeet se eerste massa-geproduseerde voertuig wat ná die oorlog deur al vier wiele kon dryf, het die Jeep ontoeganklikheid toeganklik gemaak.

Die Engelse moes hul eie kersie aansteek om by te hou.

Klassieke ou Landie

Reekse I, II, IIA, IIB en III volg onder Rover en British Leyland. Land-Rover (soos die naam tot in 1978 geskryf is; mét ’n koppelteken) is ’n treffer in alle uithoeke van die Britse Ryk, menende groot dele van die wêreld.

Die redes is legio.

Eerstens het die Landie met ’n stewige boksgesweisde raam en vierwieldryf gespog wat insittendes tot in die hart van die boendoe – en terug – kon karwei. So tuis soos Tarzan het hy hom in die oerwoud bevind en so tuis soos Lawrence van Arabië in die sand.

Tweedens was dit kanniedood-voertuie. En wat wel skeefgeloop het kon jy terstond nog met ’n tang en stuk bloudraad fieks.

Derdens was die aluminiumbakwerk roesvry. Jy’t sommer die binnekant van jou bosbielie met ’n tuinslang skoon gespuit.

Solihull het dus ’n wenner gebaar, een waarvan ’n plat, regop voorruit in twee seksies gedeel is, elk met sy eie luggleuf daaronder.

Aanvanklik was daar ook twee naby mekaar geplaaste ronde kopligte weerskante van ’n omgedopte T-rooster, alles in ’n versonke neusseksie tussen wielboogmetaal wat dik en stomp op die Landie se voorpunte wag sou staan.

Op daai wagtorings, en agter, was piepklein flikkerligte. Doplose wiele is merendeels in wit of bakkleur geverf.

Sommige Landies had ’n harde dak, ander ’n seilkap, ’n derde lot was totaal hoedloos en in die ou dae was daar ’n spaarwiel op die enjinkap; ’n goeie ou taaier, in ordentlike Afrikaans. Op hardekappe het Alpynse kantvensters voorts in die ronding tussen lyf en dak gepronk.

Later van tyd het die versonke neusgedeelte verdwyn en die hoofligte – steeds kogelrond – is na buite geskuif.

Maar deurentyd het die vierkantige voertuigboks genaamd Land Rover die avontuurlustige Ingelse ontdekkingsreisiger tot ’n (omgedopte) “T” verpersoonlik.

Nooit as te nimmer sou hy ’n gedaanteverwisseling ondergaan nie. Dit was die geloof. Maar jy sal jou wat verbeel.

Nuwe Defender

Die nuwe Defender is op Jaguar Land Rover (JLR) se aluminiumplatform genaamd D7 gebou.

Vir die bosbuks – wat glad nie meer ’n buks is nie – is D7 tot D7X ontwikkel. Die “X” staan vir “extreme”.

Nes Tarzan dus drie keer sterker as die volgende ou moes wees om lustig met bobbejaantoue deur die oerwoud te kon swaai, is die Defender se eenheidsraam drie maal meer wringbestand as sommige teenstanders s’n.

Nes Tarzan dus drie keer sterker as die volgende ou moes wees om lustig met bobbejaantoue deur die oerwoud te kon swaai, is die Defender se eenheidsraam drie maal meer wringbestand as sommige teenstanders s’n.

Die res van sy woesterny-arsenaal is ewe indrukwekkend.

Op lugvere is die nuweling se inval- en uitvalhoek onderskeidelik 38° en 40°.

Vergelyk dit met die Benz G-klas se 30° en 31° om te besef hoe goed dit werklik is. Of meet sy waaddiepte van 900 mm teen die G-klas se 700 mm of die ou Defender se 500 mm.

So ver, so goed. Die nuwe Defender kan skorrie-morrie. Die oorbreekhoek is puik en die elektriese stelsel en harnas is ontwerp om ’n uur lank sonder enige skade onder water te leef.

Daarby is die elektronika-spoed van 100 Mb/sekonde beduidend vinniger as voorheen, wat die infovermaakstelsel – met 85 elektroniese beheer-eenhede – uiteindelik ’n plesier maak om te gebruik. Einste word programvernuwings sommer per afstand gedoen.

Die Defender, eens die toonbeeld van basiese, ongekunstelde geen-nonsens-eenvoud, het die moderne eeu betree.

Vergelyking

Nie alles is ’n verbetering op dit wat was nie. Die vorige Defender 110 se invalshoek was amper-amper ’n fenomenale 49°. Die nuwe 110 se beste is 11° minder.

Dis ook net mooi die katalisator vir baie hardebaarde om hul hande hemelwaarts te hef voordat die nuwe Defender as ’n blote lewenstyler afgeskryf word.

’n Rasegte veldbreker is hy nie, redeneer hulle.

Maar jy sal jou liederlik misgis. Die invalshoek is maar een syfer uit baie, en op meeste van die ander word die ou Landie afgeransel.

Toentertyd was die 90 se vertrekhoek byvoorbeeld ’n fenomenale 47°. Die nuweling wat Rapport bestuur het, bied 40°. Maar onthou, dis die 110-variant met sy langer asafstand.

Vergelyk hierdie syfer met die vorige Defender 110 se 36° en dis ’n beduidende verbetering.

’n Ander harde punt wat die nuweling se albastertjies blink vryf is die een waarop mens ry: die pad, spesifiek as dit geteer is.

Weg is die hop en skommel waarmee die ou Landie soos ’n skip in rowwe water heen en weer sou slinger.

Weg is die hop en skommel waarmee die ou Landie soos ’n skip in rowwe water heen en weer sou slinger. Die pedale lyk ook nie meer of hulle van ’n skrootjaart kom nie. Die ou, swaar koppelaarpedaal ontbreek selfs, want álle Land Rover-ratkaste is deesdae outomaties. Drukknoppe vir deure is iets van die verlede, terwyl die skarniere nie langer met die oop- en toemaakslag klap en kraak nie.

Die kantspieëls verstel nou met krag en ook die ventilasie en klank is gemoderniseer.

Inderdaad is die hele voertuig uit môre se mandjie, van stoelbekleedsel, deur die infovermaakstelsel tot by die enjin en onderstel.

En die draaisirkel is – halleluja – ’n duisend keer korter.

Goed. Daar’s nog dingetjies wat mens in ruil vir die Defender 110 D240 First Edition se R1,3 miljoen kon verwag.

Soos ratspane op die stuurkolom. Of noodflikkerligte met ’n beter ergonomiese plasing. Of deure se binneknip wat nie agter insittendes se buiteknie versteek word nie; tans moet jy jou been beweeg om toegang tot die knip te kry.

Die drywer se syspieël kan gerus ook wyer stel en ikone – soos vir ritmodusse (gemak, modder/slote, gras/gruis, sand, rotskruip en waterwaad) – kan langer vertoon word voordat hulle weer verdwyn. Soos dit is moet mens die ikone meer as eenmaal oproep as jy dit ordentlik wil lees.

Volkswagen is einste aan hierdie lastigheid skuldig.

Met al drie sitplekrye in’t plek is die Defender se laaibakspasie ook knap.

Sy remme is boonop ’n effe stekelrig.

En Goodyear se Wrangler Duratrac-veldrybande (255/60-R20’s) gor en gons voltyds op teer.

Op die pad

Bogenoemde is alles relatiewe klein besware.

Die sterk punte, waarvan daar hope is, begin by Land Rover se gladde en stil Ingenium-dieselbron, ’n dubbelturbo-2,0-liter-viersilinder (177 kW/430 Nm, 0-100 in minder as 10 s, 190 km/h).

Dis genoeg skop om die Defender gemaklik van die lyn te kry, hoewel daar nie veel woema in die opperstrekke oorbly om klein gapings op die hoofweg te vat nie.

Die gladde agtgang-ZF-outokas dra ook sy deel by om vooruitgang deur al vier wiele so naatloos moontlik te maak, maar wat ’n ware weelde-element aan die ervaring verleen is vier voortreflike lugvere.

Eerstens kan hulle die voertuig se pens tot ’n ongelooflike 291 mm lig om die meeste veldhindernisse tot blote velrimpels te relegeer, terwyl teerpaaie niks van die vorige model se bons, skommel en vaagheid opdis nie.

Bygesê, dat krulvere op mindere Defender-variante bes moontlik meer weerbarstig sal ry, vergeleke met die toetsmotor se sagte diepslag-vering, wat skokke soos ’n spons absorbeer. Saam met aste wat geensins in hul monteerpunte sidder of ril nie is bakbewegings deurgaans dus bedaard.

Uiteinde van die saak is dat selfs bakbeheer en hantering – via ’n goed belaaide stuur – bo verwagting goed is.

Al wat pla is inderdaad daai Wranglers se gor en gons.

Origens ry mens so lekker soos in ’n Discovery. En dis juis die beswaar uit sekere oorde: dat die twee voertuie te eenders is. In die najaging van moderniteit het Land Rover die Defender se persoonlikheid en karakter prysgegee.

Dis ’n siening wat ’n bietjie steek hou.

Totdat jy die veld slaan.

Ontwerp en kajuit

Van buite staan Gerry McGovern se nuwe Defender duidelik in die teken van die oue. Dis veral die kortbak-90-model wat die eertydse silhoeët sterk oproep.

Een kyk en mens wéét dis ’n Defender, die eerste geheel nuwe een in amper 40 jaar.

Uiteraard gaan hy dus ’n vorm van vordering toon, ook wat stilering betref.

En die nuweling tref in’t metaal. Hy’s waarlik mooi.

Die vierkantigheid is behou, maar sonder die gebruik van plat panele. Die metaal word deurentyd op subtiele maniere en plekke gebuig; genoeg om moderniteit te suggereer, maar ook te min om die tradisionele boksagtigheid te negeer.

Insgelyks is die kajuit ’n gebalanseerde mengsel van die Defender se tradisionele stoere funksionaliteit en Solihull se moderne weelde, wat in sy ekstreme vorm ’n Range Rover optower.

Eerstens word die voorpaneel deur twee soliede dwarsbalke geraam. Die harde plastiekbekleding gee effe mee, maar dis ook fors en sterk genoeg om jou daaraan te herinner dat jy hier met ’n aardse voertuig te doene het.

Tweedens is die voorpaneel van tierlantyntjies gestroop, maar stoorplek is volop.

Derdens is heelwat skroefkoppe (soos die deurpanele s’n) onbedek gelaat.

Maar vierdens is daar ook ’n bietjie aluminium plus toegang tot moderne elektronika wat onder meer ’n Pivi Pro-infovermaakstelsel met sukses aanvuur.

AppleCarPlay en Android Auto werk nou goed. Selfs die truspieël bied ’n interessante vernuwing in die vorm van ’n trukamera wat sy beeld op die spieël uitspeel as jou Defender tot teen die dak gelaai is.

Beste van alles is die ClearSight-kamerafunksie wat jou toelaat om “deur die voertuig se enjinkap” na die voorwiele se plasing en oriëntasie te kyk. Op dié manier kan jy maklik daai groot klip met die skerp punt misry.

Veldvermoëns en gevolgtrekking

Die vorige opmerking werp ons vierkant terug na die belangrikste vraag rakende die nuwe Defender: Kan hy die oue in die veld ewenaar?

Boeta. Jy moet hom deur sand of water druk en heuwels bestyg of agterlaat om te besef waarmee jy hier te doene het. Met lae-strek en ewenaargrendels in die middel en agter, alles gekoppel aan Solihull se bewese Terrain Response plus heuwelbeheer-tegnologie, klim die nuweling teen gradiënte uit wat na ’n vertikale Stairway to Heaven lyk.

Heuwel af lyk dit weer na ’n Highway to Hell. Jy kan direk in die bodem van die kwaad vaskyk, maar die Defender klou treetjie vir treetjie tot onder voordat hy treetjie vir treetjie anderkant uitklim, selfs al moet jy op jou weg soos Moses deur die Rooisee waad.

Heuwel af lyk dit weer na ’n Highway to Hell. Jy kan direk in die bodem van die kwaad vaskyk, maar die Defender klou treetjie vir treetjie tot onder voordat hy treetjie vir treetjie anderkant uitklim, selfs al moet jy op jou weg soos Moses deur die Rooisee waad.

Die nuwe Defender ewenaar dus nie die oue nie. Hy oortref hom, by verre op teer, maar ook in die veld én uiteraard as gesinsvoertuig omdat hy soveel beter ry en soveel meer ruimte bied.

Die antwoord op die kernvraag – of die nuweling dus ’n ware Defender of eintlik ’n Discovery Lite is, ’n egte veldbreker of net nog ’n lewenstyler? – is dat hy ’n volwaardige voertuig in albei kategorieë is.

Hy’s oneindig beter op teer, ’n ware lord Greystoke in die beskawing. Maar hy’s selfs ook beter veld- en avontuurwiele as voorheen, ’n regte Tarzan van die oerwoud en wildernis en woestyn.

En tog is daar iets wat haper en dis bes moontlik die naam.

Solihull se nuutste moes eintlik ’n grênder titel gehad het sodat daar aan die onderpunt van die reeks, op dieselfde platform en met dieselfde enjins, nog ’n goedkoper weergawe ingeskuif kon word. Een met ’n handratkas en volronde kopligte, pleks van halfrondes – en dalk ’n spaarwiel op die bonnit.

Oftewel een wat jy ’n “Landie” kon noem.

Die oue het die nuwe gebaar, ja. Die gene is nog daar. En van agter die stuur lag en roep die lewe soos altyd.

Maar die Defender is eenvoudig nou te tegnokraties en te goed om sy eertydse troetelnaam te eien.

Grand Defender sou beter gepas het.

  • Prys: Land Rover 110 D240 First Edition – R1,296 miljoen.
Meer oor:  Defender  |  Egmont Sippel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.