Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Kordate Koreaantjie

Kia se vierde-geslag Rio het onlangs ’n middellewekuur ondergaan. Twee dekades ná die eerste model is dié kleine Koreaan nou ’n ware weeldewaentjie. Egmont Sippel het die 1.4-outovariant bestuur.

Was dit die Spectra? Of die Rio-sedan?

Nie dat dit saak maak nie. Teen 100 km/h het die nuwe Kia wat Rapportin 2005-bekendstellingsritte op die Hoëveld bestuur het, ieder geval oor die pad begin dryf.

En erger. Teen die nasionale spoedgrens was daar ook ’n windfluit rondom die syspieëls wat geklink het asof die Kaapse Suidooster in twee geskeur word. Kajuitplastieke het met ’n nare reuk ge­pông. Paneelgapings van wisselgroottes het ’n donker skadu oor bougehalte en betroubaarheid gegooi.

In 2005 het Lexus byvoorbeeld 11 pryse in Amerika se J.D. Power-betroubaarheidsindeks gewen, gevolg deur Chevrolet met agt, Ford met ses, Toyota met ses, ensovoorts.

En erger. Teen die nasionale spoedgrens was daar ook ’n windfluit rondom die syspieëls wat geklink het asof die Kaapse Suidooster in twee geskeur word.

Kia se groottotaal was nul.

Toentertyd het die maatskappy wel 1,1 miljoen tjorre wêreldwyd verkoop, maar die hele lot was onderontwikkeld, onverfynd en goedkoop, asof hulle uit slaptjips en sopbene aanmekaar geflans is.

Maar juis in 2005, toe maak die hoofindoena Tsjoeng Mong-koo ’n belangrike skuif. Mong-koo se pa was die merkwaardige Tsjoeng Joe-joeng, wat die Hyundai-maatskappy in 1947 en die Hyundai-motormaatskappy in 1967 gestig het.

Aanvanklik bou hy motors onder kontrak, maar vir sy eie debuutmotor – 1975 se Pony – werf Joe-joeng Engelse ingenieurs. Dryflyntegnologie word ingekoop en Giorgetto Giugiaro stileer die Pony as ’n korter weergawe van sy eie VW Passat-ontwerp.

Wat dit alles met Kia te make het?

Wel, dis ’n patroon wat hier gevestig is. Anders as Japannese motorbouers was en is Hyundai nie bang vir uitheemse talent nie. Met Hyundai se 1998-oorname van ’n bankrot Kia word die benadering na laasgenoemde oorgedra.

Nuwe ontwerpateljees word byvoorbeeld in Irvine, Kalifornië, en Rüsselsheim, Duitsland, beplan.

Vroeg in 2005 word Tom Kearns boonop as die Kaliforniese ateljeebaas gewerf. Saam met ’n mede-Amerikaner, Kip Wasenko, en die Brit Simon Cox was Kearns vir Cadillac se moderne “Arts & Science”-ontwerpfilosofie (van skerp nate en skoon metaalvlakke) verantwoordelik.

In 2005 vestig Mong-koo einste ook sy seun, Tsjoeng Eoeisoen, as president van Kia-motors.

Nie links nie en Eoeisoen maak ’n meesterskuif van sy eie deur “die wêreld se beste motorstileerder”, Peter Schreyer, in 2006 as hoofontwerper aan te stel.

Kia het beeld en visuele karakter gekort. Schreyer – voorheen van Audi en VW – het dit onder meer met die “tierneus” gelewer; stukkies metaal wat in’t middel van die sierrooster – een van bo, een van onder – na mekaar “hap”, soos die onderkant van ’n kat se neus en die bokant van sy bek.

Gewapen met hierdie soort grofgeskut – nuwe ontwerpateljees wat onderskeidelik deur Schreyer en Kearns gelei is – het Kia se wêreldwye verkoopsyfer van 1,1 miljoen motors in 2005 na 2,8 miljoen in 2019 gestyg. Die verwagting vir 2021 is ’n paar dosyn kort van 3 miljoen.

Bygesê, dat ontwerp net as lokaas dien. Sonder stewige ingenieurs- en bougehalte of goeie materiale en tegnologie kan niemand karre verkoop nie.

Kia-sterre

Drie Kia-sterre sedert 2005 was die kleine Picanto, die kompakte Rio en die kwasiveldgerigte Sportage.

Daarby spog die stal met ’n boel lewenstylers naas die Sportage, soos die Soul, Seltos, Sorento, Sonet, Stonic, Niro en die groot, suksesvolle Telluride (wat juis deur Kearns ontwerp is).

Die pragtige klein Stonic word natuurlik op dieselfde platform as die Rio gebou, ’n luikruggie waarvan 2011 se derde geslag ’n vroeë Schreyer-stempel sou afdruk. ’n Lus vir die lewe het uit sy wakker oë, pikante hupsheid en vloeiende wigvorm gestraal.

Kia is as ’n ernstige motorvervaardiger aangekondig.

Ses jaar later en die vierde-geslag Rio het gewys hóé ernstig, toe die vorige model se vars, vrolike, opgewekte jeugdigheid deur ’n formele volwassenheid vervang is.

Maar ’n klein motortjie sonder ’n knertsie jeugdigheid kan ook té ernstig aandoen; 2017 se Rio het net so bietjie swaar aan sy groot oop bek gedra, soos ’n vis wat te veel water sluk.

Dis einste hierdie Rio wat nou via klein en subtiele maar belangrike stilistiese veranderinge gekikker is.

Die lugdam is gekrimp en die vorm verander sodat dit met skerp onderste weglêpunte deur die lug klief, eerder as wat dit teen die wind bots en beur.

Kopligte is ook effens nouer met skerper eindpunte, terwyl die vlakker sierrooster se basislyn ewewydig met die grond streep om ’n varser, wakkerder en meer selfversekerde beeld te projekteer.

Luggeute weerskante van die lugdam integreer boonop beter met die geheel.

Selfs wiele het onder die loep gekom. Op die intreevlak-LS-variant word staalwiele met 15”-allooie vervang, terwyl die EX-variant se 15”-allooie na 17-duimers opgegradeer is.

Binnelangs spog die hersiene LS boonop met verbeteringe soos ’n 203 mm-infovermaak-raakskerm met CarPlay en Android Auto pleks van ’n blote radio, terwyl die EX ná dese met ’n LCD-inligting­kassie in die instrumentpaneel asook invou-spieëls spog.

Wat ook opval, is fyn berekende funksionaliteit, veral op topgespesifiseerde Rio’s.

Daar’s byvoorbeeld drie dakliggies. Die tonnelkonsole voor die rathefboom spog met twee stoorvakkies. Daar’s stoorhulse in al vier deure se armleunings. Die elmboogrus van die voorkajuit se diep middelkassie kan na vore en agter beweeg.

Die poeierkassie is lekker groot en so ook die voetrus. Die handrem is waar hy moet wees vir ’n regterstuurmodel. Dakhandvatselbewegings is gedemp.

Instrumente is eenvoudig, mooi en maklik om te lees. Stuurwielspriete is topklas en funksioneel. ’n Driespeek-stuurwiel spog met satellietbeheer vir klank en dies meer. Klimaatbeheerknoppe is groot en duidelik. Alles is skoon, logies en ergonomies uitgelê.

Kajuitontwerp onderstreep boonop ’n volwasse selfvertroue, veral via ’n kalme voorpaneel plus ’n plat, stil en skoon bopaneel.

’n Groot laairuim (onder meer te danke aan ’n skyfspaar) bied ’n netjiese rubbermat plus ’n ekstra bêrehuls in sy wand, terwyl die luikklap ’n grypopening vir die toemaakslag op albei klappunte bied. Agtersitplekke slaan boonop 60/40 plat.

Bind al hierdie funksionaliteit in goeie verpakking toe en belaai dit met klasleidende standaardtoerusting en net een vraag bly oor: Hoe vertoon die outjie op die pad?

Wel, hy rem goed, die LS en EX se agtertrommels ten spyt; die Tec-variant rem via skywe alom. Die 1.4-liter-viersilinder (73 kW/135 Nm; 175 km/h; 0-100 in 13 s vir die outo of 11,5 s vir die handrat) is ’n bewese eenheid, alhoewel die outjie nou 6 kW mínder as 2011 se Rio lewer.

Outo-modelle se wins kom egter in die vorm van ses gange, vergeleke met toentertyd se vier. En dís nou vooruitgang op ’n kleintjie soos die Rio, veral omdat die kas net nou en dan in byvoorbeeld ’n bergpas vir ratte jag.

Origens gedra die outo hom soos ’n grootmotorkas, wat kwalik verras, daar die Rio deesdae van voor tot agter met ’n amperse grootmotorgevoel skitter.

Slaptjips en sopbene is dus lankal vergete. Inderwaarheid is bougehalte deesdae ’n hoogtepunt; voel maar net hoe stewig die deure toemaak.

En so gepraat: Daai elegante “reguit” weeldelyn van die skuins deursnit voor elke agterwiel is in 1997 vir die eerste keer op Audi se A6 gesien.

Wie hom destyds ontwerp het?

Dieselfde man wat daai lyn so reguit op die nuutste Kia Rio sou trek.

En dit word nie verniet ’n weeldelyn genoem nie. Net swaargewigte met baie metaal – soos Bentleys, Rolls-Royces, Jaguars, Audi’s en BMW’s – spog daarmee.

Wat dit mos laat lyk of die gekuurde nuwe Rio as ’n mini-weeldewa bekend kan staan.

Of hoe?

  • Pryse: Kia Rio – R281 000 tot R362 000; 5 jaar/onbeperkte km-waarborg; alle modelle buiten 1.2 LS met ’n 4 jaar/60 000 km-diensplan.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.