Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Laat daar lig wees

Daar skuil ’n goeie waarde-vir-geld-lewenstylertjie onder die futuristies-gedetailleerde dop van Hyundai se nuwe Creta. Egmont Sippel het hom oor die Kersvakansie beproef.

Onthou nog Renault se ligblou-en-geel F1-motor uit die vroeë tot middel-2000’s?

Dis wiele en kleure waarin Fernando Alonso die jaers­titel in 2005 en 2006 gewen het.

Renault se amptelike livrei soos op Jean-Pierre Jabouille se RS01 uit 1977 was natuurlik volgeel, met swart-en-wit afwerking. Omdat die aangejaagde 1.5-liter-Gordini-V6-enjin – F1 se eerste turbobron – gereeld sou opblaas, merendeels in ’n wolk van wit rook, is die RS01 sommer gou as die “geel teepot” gedoop.

In 1985 was die span dus uit F1 en in 2002 weer terug met hul geel kleur plus genoeg ligblou om jou aan Frik, Naas en Uli te laat dink. Benewens die blou het die hoofborg se kenteken ook na ’n Japanse skrifkarakter gelyk.

Mild Seven was ’n Japanse sigaret. Miskien het die teken selfs iets soos “jou longe gaan oppak” beteken, sonder dat ons dit geweet het.

En met reg. Mild Seven was ’n Japanse sigaret. Miskien het die teken selfs iets soos “jou longe gaan oppak” beteken, sonder dat ons dit geweet het.

Deesdae versteek Jaguar ook ’n boodskap in die vorm van hul motors se dagryligte. J-lemme word dit genoem; dit lyk na “J’s”. En jy het dit? Jaguar. J.

Ditto vir Peugeot. Die handelsmerk se kenteken is ’n leeu. Dis hoekom die afwerking op kop- en stertligte deesdae aan drie leeunaels herinner.

Vervaardigers probeer al hoe meer om iets oor hul persoonlikheid en identiteit via ontwerp te laat spreek.

Wat ons by Hyundai se nuwe Creta bring.

Polariserende ontwerp

Die eerste Creta het vier jaar gelede in Suid-Afrika geland, nadat hy reeds in 2014 in China en Indië gedebuteer het.

Ontluikende markte sou die Creta kry, ontwikkelde markte die moderner Kona.

Die Creta is dus van fênsie gestroop.

Die wagwoorde was goeie, soliede, waarde-vir-geld-wiele met eenvoudige, beproefde meganika op ’n robuuste onderstel.

Die nuwe Creta is steeds voorwielgedrewe en word steeds in Indië gebou, nou met ’n effe gerekte en breër bak plus ’n langer asafstand vir meer agterkajuitruimte.

As die ix25 het hy nogmaals sy gesig eerste in China gewys.

Maar as Mild Seven ’n naambeeld kan ontwerp wat na ’n Japanse skrifkarakter lyk, en as Jaguar hul produkte met J-lemme identifiseer, en as Peugeots hul motors met leeukloue merk, kan Hyundai seer sekerlik ligsamestelle stileer om na letters in die Koreaanse of Chinese “alfabet van idees” te lyk.

Moderne Koreaans het juis oorspronge daar waar Noord-Korea aan China grens.

Die nuwe Creta se voor- én agterligte vertoon dus ’n vorm van kalligrafie waarmee kopers in die wa se primêre mark kan identifiseer.

En in die res van die wêreld soos Indië en Suid-Afrika?

Wel, dis gewis nie revolusionêre stilering nie, maar dit is nogals futuristies en beslis polariserend. Daar’s selfs iets van ’n SsangYong Kyron of Actyon in die Creta se laag geplaaste agterligte, met hoofelemente wat onder die agterklap se primêre dwarsnaat hang.

Nes met 1998 se Fiat Multipla of die hedendaagse Nissan Juke gaan Creta-stilering geliefd of gehaat wees.

Destyds se Multipla met sy lae snoet en drie stelle kopligte (misligte in die buffer, dompligte op die neus en hoofstraalligte net onder die voorruit) was egter ’n goeie waentjie met sy drie voorste sitplekke en diep syvensters se fantastiese paduitsig.

Skakel dus die liggie aan voordat die baba saam met die badwater uitgegooi word. Die Creta het baie sterk punte. Stilering gryp vooruit, ook met baie metaalvoue en selfs ribbe en relings op die dak, maar meganika en dinamika is merendeels betroubares wat ons reeds goed ken, al het syfers liggies verander.

Die vorige onaangejaagde 1.6-liter-petrolviersilinder (90 kW/150 Nm) het byvoorbeeld plek gemaak vir ’n onaangejaagde 1.5-liter (84 kW/143 Nm). Ditto vir die vorige 1.6-liter-turbodiesel (94 kW/260 Nm) wat deur ’n 1.5-liter-weergawe (84 kW/250 Nm) vervang is.

Die klem is duidelik op koste en verbruik, maar kragoordragkeuses is nogtans volop: ’n sesganghandrat of kegeltransmissie vir die 1.5-petrol en ’n sesgang-outokas vir die 1.5-diesel.

En dan die stukkie ingenieurswese wat alles in Cretaland verander: Hyundai se 1.4-liter-petrolturbo (103 kW/242 Nm) wat die voorwiele via ’n dubbelkoppelaarkas (DKK) dryf.

Verrigting

Dis ’n gladde, welklinkende en lewendige viersilinderturbo’tjie, die 1.4-liter, wat maklik vanuit die wegtrekslag opgeklits word en goeie middestrek-oemf lewer.

Punte ook aan ’n véél verbeterde sewegang-DKK, wat help om die Creta se ligte 1,23 ton-lyfie in sowat 10,5 sekondes vanuit die wegspring verby 100 km/h te wikkel.

Verbruik van sowat 8,5 liter/100 km is so-so, maar kunsmatige toer-aanjaging tydens ratwisselings – oftewel ’n outomatiese versneller-“blip” wat in die Creta uiterse gladde skuiwe bewerkstellig – het ook iets hiermee te make.

Stopkrag via skywe alom is goed (100-0 km/h in 40 meter), maar bakbeheer op die inval na draaie kan uitrafel as jy ná hewige remwerk vinnig van die ankers klim. Die neus volhard ook om die rigting van ’n kurwe te volg as jy in ’n draai noodrem, terwyl dit eintlik ideaal is as die voertuig homself eers vir ’n oogknip lank reguit trek om die bak onder beheer te kry.

Bande kan boonop in harde draaie hul byt verloor en wyd glip, wat nogmaals bakbeheer befiemies. So-by-so is die hoë lyf tot bakrol geneig. Die punt is dus dat die Creta vir rustige dinamika gebou is.

Ritgehalte op 215/60-R17-Nexen-rubber is heel skaflik, merendeels te danke aan ’n waarlik goed geveerde vooras. Die agterste wringbalk bied ongelukkig nie veel slagdiepte nie, wat beteken dat die Creta 10 of 15 km/h vergeleke met jou gemiddelde wa oor groter spoedhobbels inboet.

Die stuur is teen lae snelhede ook ’n knerts swaarder as die norm vir hierdie segment, maar die Hyundai parkeer sy 4,3 m-korte lyfie steeds maklik.

Kajuit,
toerusting en teenstanders

Ná die eksterieur se estetiese skok val die kajuit (ten volle in swart in die 1.4T) as uiters konvensioneel op, hoewel die platboomstuurwiel met interessante vierspeek-afwerking spog. Ditto vir die vorm van voordeure se luidsprekerdeksels.

Die infovermaakstelsel is nuut en bied uiteraard Apple CarPlay en Android Auto.

Die res is eenvoudig, minimalisties en funksioneel. Groot beheerknoppe is ordentlik uitgelê, die infoskerm spog met duidelike grootfont-grafika en konvensionele instrumente lees maklik.

Deure maak wyd oop, klank is goed, elmboogrusse word selfs gekussing en bouwerk is stewig.

Selfs met ’n volspaar is die laairuim steeds heel skaflik en toerusting is topklas (krag-alles, ’n veelfunksie-stuurwiel, koordlose foonlaai, kruisbeheer, ’n trukamera met parkeerhulp, LED-kopligte, ses lugsakke vir Executive-modelle, ABS-remme en ESP-stabiliteit en -traksie).

Van goedkoop na duur lees Hyundai se rits lewenstylers dus Venue, Creta, Kona, Tucson en die splinternuwe Santa Fe. Elk maak ’n goeie saak vir homself, soos heelwat ander lewenstylers in hul onderskeie nisse doen – en daar’s ’n klomp goeies om Creta-pryspunte.

Dink Peugeot 2008, VW T-Roc, VW T-Cross, Mazda CX-3, Mazda CX-30, Nissan Qashqai, Toyota C-HR en Kia Seltos (wat basies Kia se weergawe van die Creta is), om nie van groter lewenstylers soos die Kia Sportage, Toyota RAV4 en Hyundai Tucson se intreevlakvariante te praat nie.

Hoe om dus te kies?

Wel, wat van die waarborg en diensplan? Is dít onderskeidend genoeg?

Of kan jy Koreaanse skrifkarakters lees om die liggies aan te sjwiets?

  • Prys: Hyundai Creta 1.4T Executive – R485 000; 5 jaar/150 000 km-waarborg met ekstra 2 jaar/50 000 km op die dryflyn en 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Meer oor:  Egmont Sippel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.