Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: ’n Vuurwarm siel

Trek net daai aaklige plakkers van die Golf GTI TCR af en jy’t waarskynlik die innemendste motorpersoonlikheid in die Volkswagen-stal. Egmont Sippel skryf.

Vier jaar gelede het Volkswagen ’n Golf in Suid-Afrika bekend gestel wat netjies tussen die GTI- en R-variante ingeskuif is.

In sommige opsigte – soos die 0-100 km/h-lopie – was hy meer GTI as R. In ander opsigte – soos prys en kragsyfers – was hy meer R as GTI.

Op die pad het die GTI Clubsport egter baas oor sy twee warm Golf-boeties gespeel.

Die R was gemaklik sterker (206 kW versus 195 kW) en van 0-100 km/h ’n volle sekonde vinniger (5,2 s versus 6,2 s), merendeels weens vasgryp deur al vier wiele teenoor die Clubsport se voorwielwoema.

Maar sulke syfers was net deel van die vergelyking.

Hier’s die relevante res: Die GTI was daai knertsie te pap, veral onder die enjinkap, vir ’n pakkie tjips van sy soort. Die R se veerstelsel was weer ’n bietjie te hardgebak, die aanbieding effens te klinies.

Die Clubsport, daarenteen, was net mooi knapperend genoeg sonder om alles droog te braai. ’n Paar lugdinamiese veranderinge het byvoorbeeld die GTI se negatiewe lig van 60 kg tot positiewe aërodruk omgetower, terwyl vering aangepas is om die stert effens-effens losser te maak sodat die Clubsport selfs met ’n mate van stuurywer deur draaie gelooi kon word.

Groot pret! En maklike pret! Mens kon die Clubsport met die volste vertroue op sy grense boor en wonderlike padkontak en bestuursplesier daaruit put.

Golf GTI TCR

Spring na 2020 en hier’s ons weer.

As swanesang vir die uitgaande Golf 7 se GTI-reeks bied Wolfsburg die TCR – en die Touring Car Racing-variant van die GTI doen presies wat die Clubsport gedoen het; hy’s net vinniger en selfs meer dinamies.

Weliswaar skiet sy 213 kW/380 Nm steeds ’n entjie korter as die hedendaagse R se 228 kW/400 Nm. Maar daar’s ’n goeie rede: 213 kW is blykbaar die kraggrens wat VW sinvol deur ’n Golf 7 se voorwiele kan pomp. Entoesiastiese versnelling breek juis genoeg voorwieltraksie om die vooras te laat hop.

Omgekeerd is inrat-versnelling sterk en die versneller sensitief genoeg om die TCR se wulpsheid uit te buit. Nes die Clubsport spog die nuweling met ’n speelse stert, een wat jy veral op die remme in draaie kan ingooi.

Die TCR stop op ’n tiekie, van 100 km/h af ver onder die 40 m-hoogwatermerk wat die grenslyn tussen goeie en swak stoppers aandui.

Dis boonop sterk ankers waarvan ons praat. Die TCR stop op ’n tiekie, van 100 km/h af ver onder die 40 m-hoogwatermerk wat die grenslyn tussen goeie en swak stoppers aandui.

Vir ’n laer gravitasiepunt het VW die TCR se pens (nes die Clubsport s’n destyds) met 20 mm laat sak. Vering is ook verstyf en die voorwiele se negatiewe vlughoeke is met ’n verdere drie grade verhoog.

Padvertoning

Gooi alles in een pot en dinamika skitter.

Die stuur is skerp en akkuraat, soos te verwagte, maar ook net mooi waar hy moet wees betreffende wielgrootte, gewig, gevoel en gladde werking – met ’n aangename verrassing in sportmodus, want vir die eerste keer sedert Wolfsburg elektriese (versus hidrouliese) kragondersteuning op 2001 se VW Lupo gebruik het, bied Volkswagen ’n stuur met goeie en vloeiende gewig in sportmodus.

Voorheen was die belading, in sportmodus, nog altyd te swaar, te halsstarrig en te dood, ’n probleem waarmee Audis ook gesukkel het. Ontspanne stuurbelading in sportmodus help dus klaar om die TCR ligter op sy wiele te laat voel, maar die waarheid is dat die nuweling – teen net minder as 1,4 ton – onderskeidelik omtrent 35 kg en 50 kg minder as die GTI en die Clubsport weeg.

Kombineer dit met sy laer gravitasiepunt, ’n lewendige stuurratio, doelgeskape vere en dempers met ordentlike stampstoppers, 235/35-R19-Pirelli P Zero’s (vergeleke met die Clubsport se 40-profiel-Bridgestones), elektroniese glipbeheer op die vooras, dinamiese onderstelbeheer as ’n standaard-item, plus VW se uitsonderlike stewige bak- en bou-integriteit en die TCR is waarlik rats deur die kronkels.

Bakbeheer is puik, stuurtraagheid is daar nie en die sesgang-dubbelkoppelaarkas se blitsige skuiwe help om die astrant deurentyd by kookpunt te hou.

Een met die motor

Nog meer as in die Clubsport (want hier’s minder gewig op platter bandprofiele) raak mens dus één met die motor.

Ritgehalte vir so ’n fermgeveerde soos die TCR is boonop goed.

Maar die kersie op die koek is ’n wakker klankbaan wat die enjin se gewilligheid met ’n deurlopende energieke grom bevestig, veral ook as jou regtervoet in Race-modus van die versneller klim en die dubbelloop-uitlaatpyp kartetse begin skiet.

Maar die kersie op die koek is ’n wakker klankbaan wat die enjin se gewilligheid met ’n deurlopende energieke grom bevestig, veral ook as jou regtervoet in Race-modus van die versneller klim en die dubbelloop-uitlaatpyp kartetse begin skiet.

Nog ’n pluspunt is petrolverbruik (in die orde van 8 liter/100 km as jy bestendig ry), maar satnav, ’n trukamera en sleutellose motortoegang het, selfs as opsies, in die hek geduik.

Die voordeel is dat die ligter TCR nou soveel beter en prettiger in draaie in duik. Jy kan mos altyd satnavfunksies met Apple CarPlay of Android Auto uitvoer, dan nie?

En ten minste kan die voorste semi-skottels verwarm as toestande – soos gietende reën of kruipverkeer op ’n koue dag – te onvriendelik raak om die TCR self warm te ry.

Die res is, toerustingsgewys, min of meer wat mens sal verwag.

Vir R30 000 minder as sewe grotes kan jy dus die Clubsport gereïnkarneer aanskaf; nou met meer krag en selfs beter hantering, maar met dieselfde warm siel wat mens nie aldag uit ’n Volkswagen losjaag nie.

  • Prys: VW Golf GTI TCR DSG – R669 000.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.