Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Range Rover Sport, VW Touareg

Egmont Sippel bespreek twee van die beste in hul onderskeie prysklasse, die Range Rover Sport SDV8 en die Volkswagen Touareg 3.0 V6-diesel.

Die moderne motormark, weet ons, word deur lewenstylers oorheers. In die VSA is amper die helfte van alle nuwe motors wat verkoop word, sogenaamde es-joe-wie’s. Sedans dra minder as ’n kwart tot die totale syfer by.

Mense wil hoog sit, veilig voel en na die boendoe wegbreek.

Mense wil hoog sit, veilig voel en na die boendoe wegbreek.

Twee van die beste in die plaaslike mark is luukse turbodiesels, die Range Rover Sport HSE Dynamic SDV8 en die Volkswagen Touareg 3.0 V6 TDI Executive met R-Line-afwerking.

Ons Touareg-toetsmotor het skuins ná grendeltyd opgedaag, ’n maand of twee voor Land Rover se imposante Ranger.

En sommerso, kort voordat hierdie storie gedruk is, val laasgenoemde van die pryslys af. Land Rover bemark nie meer die Range Rover Sport SDV8 nie.

Range Rover Sport
Range Rover Sport

Dis ’n jammerte. Die langslag-4.4-liter-V8-turbodiesel met ’n lae drukverhouding van 16,1:1 was die hart van ’n hoogs indrukwekkende voertuig.

Tog is ’n traantjie onnodig.

Eerstens is daar nog ’n paar SDV8’s hier en daar op handelsvloere te vind.

Tweedens is die SDV6 nader aan die SDV8 as “dêmmit” aan ’n vloekwoord – en R200 000 goedkoper.

Die Ses rol ook op kleiner wiele met dunner bande, maar met ’n dikker profiel, wat waarskynlik beteken dat hy selfs nog lekkerder as die Agt ry – wat hemels moet wees...

Dis ’n groot finansiële meevaller waarvoor jy ’n sekonde tydens die standaardversnellopie inboet (0-100 km/h in 8 sekondes teenoor 7). Die Ses rol ook op kleiner wiele met dunner bande, maar met ’n dikker profiel, wat waarskynlik beteken dat hy selfs nog lekkerder as die Agt ry – wat hemels moet wees, want die SDV8 se ritgehalte is nie uitstaande nie.

Dis fantasties.

En dis die ding omtrent die Agt: Mens kan ’n verskeidenheid van vergelykings tref om te wys hoe goed die Ses is – en hy ís. Krag- en wringpieke raak-raak aan die groter bul s’n; 225 kW/700 Nm teenoor 250 kW/740 Nm.

Gegee dat die Ses boonop 125 kg minder as die Agt se 2,45 ton weeg, verbaas dit allermins dat hy, teen 8,5 liter/ 100 km, die beste deel van ’n liter/ 100 km minder drink.

Dit lewer ’n duisend salige kilo’s uit die SDV6 se 86 liter-tenk teenoor die SDV8 se 915, as jy mooi met elkeen op die langpad werk – iets wat maklik kom, want die Range Rover Sport is ’n uitstaande teerpaddier.

Range Rover Sport
Rustige teerpadmaniere

Goed, met al daai hoë, regop gewig en ’n absorberende sponsrit op lugvere – vir die Ses én die Agt – is dit logies dat die Sport nie waarlik ’n atleet is nie.

Sag, ja. Statig. Koninklik. Kalm. En komkommerkoel.

Sag, ja. Statig. Koninklik. Kalm. En komkommerkoel.

Maar ’n swaar en ’n hoë lyf op ’n lang asafstand en lugvere, gekombineer met ’n lewelose stuur, lewer nog ’n snars te veel van daai klassieke top-sware gevoel deur draaie, asook ’n ligte, skeepsagtige gedryf in reguit lyne.

Bakbeheer en dinamika steek dus by teenstanders soos die Touareg, die BMW X5, Merc GLE en selfs ook die Volvo XC90 af.

Maar maak dit ’n bloue duit saak?

Nie as daar blou bloed deur ’n wa se are vloei nie. Die Ranger is steeds goed genoeg om 99% van kopersbehoeftes op dinamiese vlak te bevredig.

Die groot ding op teer bly dus hemelse ritgehalte.

Maar teer is nie die Sport se groot ding nie. Veldwerk is.

Vermoënde veldvreter

Onthou dat die huidige Range Rover Sport, die tweede geslag, reeds in 2013 gebuig het.

En dat sy forse vierkantigheid steeds goed lyk, veral ná ’n middellewekuur in 2018.

Dat hy steeds meer kopruimte as enige teenstander bied.

Dat sy krag steeds via een van die allerbeste agtgang-outokaste na al vier wiele versprei.

Dat hy steeds ’n laestrek-oordrakas en uitstekende as-artikulasie bied – plus ’n pens wat van 213 mm na 278 mm oppomp – om ’n grap van veldwerk te maak.

Dat hy steeds Terrain Response, nou opgedateer, inspan om die lugvere, vastrapbeheer, versnellersensitiwiteit en ratkas vir verskillende soorte terrein (teer, rots, sand, modder/groewe en gras/gruis/sneeu) aan te pas.

Neem ook in ag dat die kajuit gemoderniseer is en deesdae met ’n veel beter infovermaakstelsel as voorheen spog, al is dit nog nie op die vlak van sy Duitse teenstanders s’n nie.

Dít alles.

En nog is het einde niet.

Uitklophou
Range Rover Sport-kajuit
Range Rover Sport-kajuit

Die SDV8 bied goeie krag en ruimte, dinge wat jy kan meet en in syfers verwoord.

Maar ware troefkaarte kom in die vorm van sintuiglikhede, waarvan die volle impak net in direkte kontak met die voertuig ontsluit word.

Soos die genoemde, fantastiese ritgehalte en fenomenale veldvermoëns.

Soos ’n amper onbepaalbare ambience van onderbeklemtoonde Engelse weelde, klas en rustigheid, die soort wat van jou ’n vorstelike heer of ’n ruiterlike dame met jodhpurs maak.

En soos die uitklophou, wat via die uitlaatpype geplant word: Die SDV8 se klankbaan. Hy mag ’n diesel wees, met die oudio dalk nie heeltemal so ryk en soet soos ’n petrol-V8 wat jou in die oneindige goue daeraad van ’n somersoggend toevou nie.

Maar agt kokers se warm intimiteit laat jou steeds soos die inwoner van ’n sywurmkokon voel as jy besadigd dorpry of al grommende snelry.

Maar agt kokers se warm intimiteit laat jou steeds soos die inwoner van ’n sywurmkokon voel as jy besadigd dorpry of al grommende snelry.

R2 miljoen bly egter ’n stywe dop in ’n segment waar wiele wat vier vyfdes van die SDV8 se vermoëns lewer net drie vyfdes van sy geld kos.

Omgekeerd is dit daai laaste vyfde wat twee vyfdes van ontwikkelingskoste beloop. Jy kan op jou kop staan, maar hierdie soort adel skop jy nie onder elke vyfde of 50ste of 500ste bos los nie.

Dis spesifiek tot ’n Range Rover beperk waarvan die Sport ’n spesiale variant is.

  • Prys: Range Rover Sport HSE Dynamic SDV8 – R1,965 miljoen.

VW Touareg
VW Touareg

Daar’s ’n V-stut onder Wolfsburg se Touareg-lewenstyler wat van wyd voor die agterwiele tot net voor die agterbuffer punt.

Dis nie ’n “V” vir Volkswagen nie.

Dis ’n “V” vir vasvat, vashou en vakmanskap. Beter bakbeheer is die einddoel. Want in Wolfsburg is ingenieurswese baas. Die Touareg mag nou wel naas die Audi Q7 in Slowakye se Bratislawa-aanleg gebou word, maar ontwerp sowel as harde- en sagteware stam van Duitsland – en dis onmoontlik om mis te kyk.

Met die naakte oog kan jy dus sien en met jou hele wese sal jy aanvoel dat hierdie wa stewigheid spel. Hy’s soos ’n kluis gebou.
Range Rover Sport
Range Rover Sport

Met die naakte oog kan jy dus sien en met jou hele wese sal jy aanvoel dat hierdie wa stewigheid spel. Hy’s soos ’n kluis gebou.

Ons TDI-toetsmotor met sy 3.0-liter-V6-turbodiesel is op opsionele 285/40-R21-Pirelli P Zero’s en met opsionele lugvere in R-Line-afwerking afgelewer. Dis gróót wiele met ’n breë loopvlak en dun profiel – ideaal vir goeie hantering, maar bruut as dit by ritgehalte en padgeraas kom. Of só sal mens verwag. En dit kán beter.

Maar vir wat die R-Line wil wees is ritgehalte absoluut aanvaarbaar as jy lugvere (teen ’n halwe-R100 000 ekstra) vir kussingwerk kies. Jy kan spoedhompe byvoorbeeld soos ’n Duane Vermeulen stormloop. Hobbels wat gewoonlik ’n maksimum van so 60 km/h toelaat kan maklik teen 90, 100 km/h platgejaag word.

Doef-doef is al wat jy (in gedempte toon) hoor. Maar voel, voel jy niks. In die mate dat ’n Touareg se lyf laag lê – 1,7 m tot dakhoogte, vergeleke met die Merc GLE, Volvo XC90 en Range Rover Sport se onderskeidelike 1,772 m en 1,775 m en 1,780 m – bly die R-Line se lyf plat soos ’n paling as jy hooi oor hobbels gooi.

Net die wiele beweeg – doef-doef – op en af.

VW Touareg
Enjin en verrigting

Nie dat die R-Line-rit in Range Rover-terrein skoffel nie.

Maar onder meer te danke aan genoemde laeprofiel-Pirelli’s, ’n ligte lyf met groot bakstewigheid, ’n relatiewe lae dak en gravitasiepunt en een van die kortste asafstande (2,895 m) in die segment vir groot premium-lewenstylers hanteer die Touareg strate beter, veral met opsionele agterwielstuur (wat die agterwiele onder 50 km/h tot 5° in die teenoorgestelde rigting as die voorwiele draai en bo 50 km/h in die dieselfde rigting vir stabieler laanwisseling en reguitlynspoed).

Penshoogte kan ook in vier vlakke – van 162 mm (teen meer as 140 km/h) tot by 300 mm (teen minder as 25 km/h) – gevarieer word.

Einste is die V6 ’n juweel met meer as genoeg oemf (190 kW/600 Nm) om, met die hulp van alwieltraksie, die Touareg se twee ton in 7,2 sekondes van die lyn verby 100 km/h te skuif.

’n Porsche Cayenne, Audi Q7 of Q8 en BMW X5 is haastiger, maar buiten die Porsche is die VW (met V-maks van 235 km/h) die vinnigste.

Topspoed is natuurlik van mindere belang, maar dit gee verdere insae in die vermoëns van ’n dieselbron wat dwarsdeur sy toerestrek uiters glad, stil en sterk verrig.

Hier’s egter die lekkerste deel: Die versneller is supersag en -fyn ingestel, wat van belang raak as jy tru, of parkeer, of by ’n oprit in- of uitry.

Hier’s egter die lekkerste deel: Die versneller is supersag en -fyn ingestel, wat van belang raak as jy tru, of parkeer, of by ’n oprit in- of uitry.

Die VW-groep gee groot aandag aan hierdie soort detail en die Touareg wys dit. G’n wonder dat Wolfsburg destyds ook eerste daarmee was om die terugklapbeweging van dakhandvatsels te demp nie.

Ewenwel is meganiese en tegniese verfyndheid stewig op die spyskaart, wat beteken dat die Touareg maklik teen 1 250 toere deur die dorp suiker, terwyl die naald met ywer na ’n hoë toerpiek van 4 800 klim wanneer jy boor.

En as jy van 100 km/h nie gemaklik in minder as 40 m tot stilstand kom nie, het jy swak gebriek; die Touareg stop beter as feitlik al sy direkte mededingers.

Omgekeerd behoort ’n reuse-90 liter-tenk met verbruik van nagenoeg 7,5 liter/100 km in die orde van 1 200 km te lewer voordat jy weer moet volmaak.

Dis van die Kaap tot in Johannesburg en weer terug na Beaufort-Wes, met een hervulling tussenin.

Kajuit en gevolgtrekking
VW Touareg-kajuit
VW Touareg-kajuit

Binnelangs word die Touareg deur sy gevorderde Virtual Cockpit-instrumentpaneel, maar veral ’n intimiderende groot infovermaakskerm oorheers. Daar’s baie plek in die voetruim, terwyl die tonnelkonsole – asook die voetrus en B-pilare – sypaadjie-breed is. Die platboomstuur word verhit en ’n tamaai panoramiese glasdak kan die trans insluk.

Daar’s selfs nog ’n CD-speler in die poeierkassie as jy reken Dire Straits se musiek is te groots om op iets so klein soos ’n stokkie of skyfie te pas.

Nes die Range Rover bied die Touareg agt lugsakke.

En dan kan jy met die veiligheidstelsels begin, te veel om te noem, want dit vul ’n tegniese biblioteek: laanhulp, syhulp, sleepwahulp, IQ-ligte, kameras, radars, sensors . . .

Maar uiteinde van die saak is waarskynlik die beste, volledigste en vermoëndste lewenstyler as jy waarde vir geld inreken, plus die gemak waarmee hy nie net teer kou nie, maar ook die veld.

Die Touareg mág maar. Per slot van rekening kom sy naam van Noord-Afrika se nomadiese Toearegs. Sand, klip, rots, berg en woestyn is hul habitat. Voeg veld, woud, water en wildernis vir die VW by en jy’t ’n wenner.

  • Prys: VW Touareg 3.0 V6 TDI R-Line 4Motion – R1,335 miljoen.
Meer oor:  Motors  |  Vw Touareg  |  Range Rover Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.