Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Ruimteskip

Die wêreldbekendstelling van Hyundai se Staria-veeldoeler is pas  in die digitale ruimte gedoen. Egmont Sippel skryf.

Wat eerste tref, is uiteraard die voorkoms.

Hyundai se nuwe Staria, waarvan die wêreldbekendstelling Dinsdagoggend in die kuberruim plaasgevind het, lyk of dit iewers van doer tussen die sterre by die verkeerde straat afgedraai het om ’n halfeeu te vroeg op Planeet Aarde te land.

En jy het dit, vrind Faan? Ster/“star”, straat/“via”. Staria.

Kortom: Hyundai se nuwe veeldoelbus is ’n greep uit die toekoms, behalwe dat dit vanjaar nog wiele gaan rol, selfs op Suid-Afrikaanse paaie.

Hyundai se Staria-veeldoeler.
Hyundai se Staria-veeldoeler.

Wat veral opval is natuurlik die neusontwerp, eerstens te danke aan ’n horisontale ligstraal wat oor die breedte van die bus span en tweedens oor die sierrooster- en koplig-aanbieding.

Die luukse Premium-model se hoëtegnologie-LED-hooflampe (in die vorm van ysblokkies) plus driedimensionele roosterversiering skep selfs die indruk van ’n hemeltrans vol sterre.

As sodanig verbeeld die bus ’n ruimteskip.

Omgekeerd is die Staria ook ’n skip vol ruimte.

Hyundai se Staria-veeldoeler.
Hyundai se Staria-veeldoeler.

Dis omdat Hyundai hom van binne na buite ontwerp het. Teen 5,3 m is die bus lank genoeg vir ’n rojale 3,3 m tussen sy aste. Teen amper 2 m hoog en breed kon Hyundai boonop vier rye sitplekke inpas om sewe, nege of selfs 11 insittendes te vervoer – of net twee, sou mens die paneelwa-variant (met ’n vragvolume van 5 000 liter) kies.

Funksionaliteit, veelsydigheid en veiligheid het as ruggraat vir SangJoep Lee en sy ontwerpspan in Namjang, 40 km suidwes van Seoel, in Suid-Korea, ge­dien.

’n Skoolkind van gemiddelde lengte kan byvoorbeeld regop in die bus staan, terwyl die Staria ook met praktiese oplossings soos ’n kabellose kommunikasiestelsel tussen voor- en agterpassasiers spog.

As sodanig verbeeld die bus ’n ruimteskip. Omgekeerd is die Staria ook ’n skip vol ruimte.

Die voorste twee stoele in die nege-sitplek-variant se agterkajuit kan boonop deur 180 grade swaai sodat insittendes na mekaar kan kyk. Saam met stemmingsbeligting wat 64 kleure bied plus die Staria se lae skouerlyn – wat groot en diep syvensters verseker – roep dit die ambience van ’n moderne sneltrein op; lekker vir geselsies of konferensies.

Benewens die keuse om veral die tweede ry se stoele ver na vore en agter te gly, kan die topmodel se “premium ontspanning”-sitplekke amper soos ’n straalvliegtuig s’n met die druk van ’n knoppie plat genoeg vir ’n ordentlike slapie vou, terwyl volwassenes in die derde ry steeds gemaklik sit.

Hyundai se Staria-veeldoeler.

Of die hele lot sitplekke kan platgeslaan word om een groot bed te vorm as jy in jou “room with a view” met sy panoramiese syvensters gaan kampeer.

Die nutskassie wat op die voertuig se ruggraatlyn na vore en agter oor die vloer kan gly is ook ideaal om as tafel te dien.

Uiteindelik kan jy dus kies of jy die Staria as ’n kantoor, ’n ateljee of ’n mobiele (en uiters moderne) kampeertent wil benut, of sommer net as ’n gesinswa.

Die voorwielgedrewe Staria, nou met veelskakelvering op die agteras, vuur via ’n sesgang-handrat of agtgang-outo uit die bestaande, maar verbeterde, 2.2-liter-VGT-turbodiesel of 3.5-liter-V6-petrol, waarvan Suid-Afrika jaareinde net die diesel-outo (131 kW/431 Nm) kry.

Die diesel, terloops, is dieselfde bron as wat later vandeesmaand in Hyundai se nuwe Santa Fe op plaaslike bodem buig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.