Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Seb se ware kleur

Sebastian Vettel en Ferrari se paadjies skei einde vanjaar. Is die voormalige kampioen na Mercedes op pad? Egmont Sippel stel ondersoek in.

Sebastian Vettel in aksie. Foto: Getty Images

As die wêreld kon wees wat hy net nou die dag nog was, sou Formule Een ’n week gelede in Monaco resies gaan jaag het. Ewe was Amerika se beroemde Indianapolis 500 vir 24 Mei bestem.

Intussen is Indy na Augustus geskuif en die Grands Prix van Monaco, Australië, Nederland en Frankryk is afgeskryf. ’n Verdere ses is reeds uitgestel: Bahrein, Viëtnam, China, Nederland, Spanje, Azerbeidjan en Kanada.

Dit laat 12 renne met ’n vaste datum op vanjaar se F1-rooster. Dinge kan oornag nog verander, maar die plan is om oor bietjie meer as ’n maand in Oostenryk weg te spring.

Dit sal ’n sekere hergeboorte verteenwoordig, in dieselfde jaar dat Sebastian Vettel se verhouding met Ferrari gesneuwel het.

Sebastian Vettel
Sy opsies

Die aankondiging van volgende jaar se skeiding tussen Duitse ruiter en Italiaanse perd is drie weke gelede gedoen.

Die viermalige F1-kampioen sal die 2020-seisoen in rooi voltooi, maar in 2021 sal Carlos Sainz jr. die Pronkende Perd langs Charles Leclerc s’n beman. Wat lê dus vir Vettel voor?

Een van drie dinge. Hy roep die sport vaarwel. Hy vat ’n sabbatsjaar. Of hy jaag volgende jaar vir ’n ander span.

Oor ’n maand – net twee dae voor die beplande Oostenrykse GP op 5 Julie – raak Seb 33. Dis nie eens so oud soos Ayrton Senna was toe die grote Brasiliaan die tweede laaste fase van sy roemryke renloopbaan in ’n Williams aangepak het nie.

Carlos Sainz jr.

Die idee was om ’n rits wêreldtitels in Frank Williams en ingenieur Patrick Head se motors met Renault-krag, Adrian Newey-lugdinamika en Johann Rupert se Rothmans-geld te verower, waarna Senna sy renloopbaan in rooi sou wou voltooi.

Is dit Vettel se lotsbestemming? Was Ferrari sy laaste hoera?

Nieteenstaande ’n lang lys van “die jongste tot nog toe”-rekords in F1 (waarvan ’n klomp sedertdien deur Max Verstappen verslind is) is Vettel sekerlik ook nog te jonk om tone te gaan tel.

Dalk uitgebrand?

Lewis Hamilton is twee en ’n half jaar ouer as Vettel. Hy’t alle rede om met F1 te volhard, want net om die draai wink Michael Schumacher se rekord van sewe wêreldtitels. Lewis het ses.

Maar selfs met hierdie wortel voor sy neus het Hamilton al laat blyk dat hy – in hierdie vreemde tye – soms wonder of hy kans sien vir wat voorlê: die kondisionering en sweet en dissipline en opoffering.

Maar selfs met hierdie wortel voor sy neus het Hamilton al laat blyk dat hy – in hierdie vreemde tye – soms wonder of hy kans sien vir wat voorlê: die kondisionering en sweet en dissipline en opoffering.

Bygesê, die Engelsman beleef elke nou en dan so ’n vals fase. Maar hier’s die punt: Die lyf en gees kan nie onbeperk op die randjie van lewe en dood balanseer nie. Op ’n dag raak jy te oud.

Het Vettel daai punt bereik? Beslis nie fisiek nie. Hamilton het, soos Senna en Schumacher en Fangio voor hom, bewys dat F1-jaers nog springlewendig op 33 kan wees.

Is Seb dan geestelik uitgebrand?

Dis moontlik. Oor die laaste drie jaar het hy met toenemende reëlmaat laat blyk dat hy besig is om F1 te ontmin. Hy kla gereeld. Hy was woedend toe renbeamptes hom laas jaar in Kanada gepenaliseer het nadat hy eerste oor die wenstreep was, maar die sege aan Hamilton moes afstaan. Hy soek die klank en bruutheid van onaangejaagde V10- of V12-enjins.

Oor die laaste drie jaar het Vettel slordig begin bestuur en baie foute gemaak. In 2017 en veral 2018 het hy wêreldtitels deur sy vingers laat glip.

Nes Ricciardo dit in 2014 by Red Bull sou doen, het Leclerc gewys daai nr. 1-vinger wat Seb so graag in die kameralens druk, is nie onaantasbare eiereg nie.

En toe daag die jonge Leclerc in 2019 as spanmaat op. Nes Ricciardo dit in 2014 by Red Bull sou doen, het Leclerc gewys daai nr. 1-vinger wat Seb so graag in die kameralens druk, is nie onaantasbare eiereg nie.

Ferrari te onbekwaam?

Die ander moontlikheid is dat Vettel eenvoudig besluit het dat Ferrari te onbekwaam is om in die nabye toekoms ’n motor te bou wat Mercedes kan troef.

Die laaste drie jaar het belowend gelyk, daar die Pronkende Perd ’n V-maks-voordeel oor die res van die veld sou oopskeur. Maar ná Red Bull se klagtes in Texas en ’n FIA-ondersoek na die vloeitempo en volume van Ferrari se brandstofstelsel in laasjaar se slotren te Abu Dhabi het die rooi motors se topspoedvoordeel in vanjaar se wintertoetse verdwyn.

Ferrari sê dis omdat die SF1000-ontwerp hoë aërodruk eerder as lae windsleur prioritiseer.

Vettel weet dalk anders. Miskien het Ferrari se kragvoordeel oor die laaste drie jaar in ’n onwettigheid geskuil wat nou ontbloot en verbied is, wat beteken dat Maranello eintlik maar die tweede beste motor in F1 bou, en klaar.

Met die span se fokus voortaan ook op Leclerc was die tyd ryp om te loop. Ieder geval sal 2021 die begin van ’n nuwe hoofstuk in Seb se lewe wees.

Die vraag is: By die huis? Of op die baan?

Sabbatsjaar?

Indien eersgenoemde, sal dit beteken dat Vettel finaal uitgetree het of ’n sabbatsjaar (of Sebjaar) geniet.

In die afgelope drie dekades het vier wêreldkampioene hul F1-stewels vir ’n wyle opgehang: Alain Prost (1992), Nigel Mansell (1993 en die grootste deel van 1994), Schumacher (2007-’09) en Kimi Räikkönen (2010-’11).

Bygesê, dat Mansell en Räikkönen steeds in ander formules gewiel het. Mansell en Schumacher het albei op 41-jarige ouderdom na F1 teruggekeer en Räikkönen op 32.

Vettel is dus allermins te oud vir die sport. Maar hy is te oud om nou ’n sukkelende span soos Renault tot ’n wenner op te bou. Hy sal net voortjaag as hy ’n potensiële wenmissiel kan looi.

Vettel is dus allermins te oud vir die sport. Maar hy is te oud om nou ’n sukkelende span soos Renault tot ’n wenner op te bou. Hy sal net voortjaag as hy ’n potensiële wenmissiel kan looi.

Van volgende jaar is Ferrari se deur vir hom toe. Red Bull (saam met wie Vettel al vier sy jaerstitels verower het) kan vir Albon uitskop, maar dis amper ondenkbaar dat Verstappen en die spanbaas Christian Horner ’n tweede alfa-jaer sal aanvaar in ’n span wat nog gebou word.

Dit laat Mercedes, waar Valtteri Bottas tot dusver teen Hamilton gesukkel het.

En omdat die Silwerpyle se nr. 1-nr. 2- hiërargie op natuurlike wyse gevestig is – Hamilton was eenvoudig net vinniger en beter – is daar min spanning tussen die twee jaers, en daarom ’n helende harmonie tussen die twee helftes van die Merc-kuip.

Hoekom sou spanbestuurder Toto Wolff nou aan hierdie ideale milieu wou torring?

Vettel in ’n Silwerpyl?

Wel, Hamilton het al dikwels verklaar dat hy mal oor kompetisie is en, anders as Schumacher, enige jaer as spanmaat sal verwelkom. Hou verder in gedagte dat Merc en Seb albei Duits is en Wolff ’n Oostenryker met Duits as moedertaal.

In 2008, toe Ferrari vir Fernando Alonso nadergehark het om in 2010 vir die Italianers te jaag, moes Maranello aan’t einde van 2009 óf van Felipe Massa óf van die vinniger en bestendiger Räikkönen ontslae raak.

Alonso se hoofborg, die groot Spaanse bank Santander, het bemarkingsmunt uit die Brasiliaan se Suid-Amerikaanse tuiskontinent bespeur en Massa as spanmaat behou.

En wat sou nou ’n groter goue pyl in Mercedes se silwer bemarkingskoker plaas as ’n Duitse ridder wat die wêreldtitel in ’n Teutoonse wa verower?

En wat sou nou ’n groter goue pyl in Mercedes se silwer bemarkingskoker plaas as ’n Duitse ridder wat die wêreldtitel in ’n Teutoonse wa verower?

Is Vettel dus na Mercedes op pad? En indien nie in 2021 nie, dan in 2022?

Die kanse hiervoor lyk amper so rooskleurig as Alonso se moontlike terugkeer na Renault.

Meer oor:  Sebastian Vettel  |  Mercedes  |  Formule Een  |  Ferrari
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.