Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Stadig oor die klippertjies

Onder die enjinkap mag Renault se Triber-veeldoelertjie lig in die broek wees. Maar die res lewer groot dividende op ’n klein voetspoor. Egmont Sippel was verras.

Die grootste deel van die jaar is verby. Waar het die tyd heen gevlieg?

Dis wat almal wil weet, sonder dat iemand ’n antwoord kan gee. Daar ís nie ’n antwoord nie, seg sommige.

Maar hulle’s verkeerd. Daar is.

Sy naam is Triber. Renault Triber.

En as dit dalk na ’n speling op

“Bond, James Bond” klink, slaan jy die bal mis.

Daar lê ’n hele wêreld, ’n grote heelal, tussen die Triber en 007. Die een doen sy ding deur baccarat in die Monte Carlo-casino te speel. Glans, opwinding en Aston Martins is die wagwoorde. Die ander doen sy ding as ’n bussie vol mense in die agterbuurte van, sê nou maar, Mumbai. Armoede en kruipsnelhede is waarskynlik die wagwoorde.

Daar lê ’n hele wêreld, ’n grote heelal, tussen die Triber en 007. Die een doen sy ding deur baccarat in die Monte Carlo-casino te speel. Glans, opwinding en Aston Martins is die wagwoorde.

Die ander doen sy ding as ’n bussie vol mense in die agterbuurte van, sê nou maar, Mumbai. Armoede en kruipsnelhede is waarskynlik die wagwoorde.

Maar daar ís vae ooreenkomste.

Die een se naam beteken “band” of “bind” in Afrikaans, terwyl die ander losweg iets soos “behorende tot ’n stam” oproep, wat ook op binding dui.

Wat is egter die “stam” waartoe die Renault Triber kan behoort?

Prys

Wel, beslis nie die baccarat-spulletjie in ’n casino nie. Die Triber behoort aan veel minder welgesteldes, aan mense wat skaars die helfte van ’n Mazda3- of Honda Civic-sedan se prys kan betaal.

Die Renault-veeldoeler behoort dus aan daai groot gros mense wat moet krap om twee pare wiele onder hul bas in te skuif.

In tye dat motors onbetaalbaar duur raak, is dit die meeste van ons. Voertuie wat in Indië gebou word, raak nou voorland. Die toekomspyle wys onbeskaamd in die rigting van iets soos Renault se R200 000-bussie wat, nie hoeveel nie, maar ’n volle sewe insittendes kan vervoer. Dit lewer ’n prys-per-persoon-ratio van minder as R30 000. Vergelyk dit bietjie met R5 miljoen per persoon vir ’n Ferrari SF90 Stradale. Something’s got to give, soos Marilyn Monroe gesê het.

Dís hoekom dit nodig is om die Renault Triber met erns te bejeën en te kyk of hy sin maak.

Dim
ensies en verpakking

Sitplek vir sewe maak beslis sin, des te meer as jy alles in 3,990 m kan inprop.

Die Triber neem inderdaad min ruimte in beslag en parkeer relatief maklik met sy kort lyfie, veral daar die twee goedkoper variante – die Expression en Dynamique – parkeersensors agter bied, terwyl die Prestige-vlagskip ’n trukamera byvoeg. Die vraag is egter of dit enigsins moontlik is om sewe mense sinvol in ’n waentjie van minder as 4 m in te pas?

Toe wel. Renault se hoofontwerper, Laurens van den Acker, reken daar’s ’n “tikkie Da Vinci” in die verpakking.

’n Kort enjinruim plus agterwiele wat tot op die stert se hoeke teruggedruk is, skep byvoorbeeld ’n asafstand van 2,636 m, wat lank vir dié segment is. Vergelyk dit met die veel duurder Toyota Rush en Honda BR-V se asafstand van onderskeidelik 2,685 m en 2,655 m in lywe van onderskeidelik 4,435 m en 4,453 m.

Einste bied die BR-V ook sitplek vir sewe, maar die Rush vat net vyf.

Mens sou ook verwag dat die twee Japannese se langer lywe meer bagasiespasie lewer, wat dit inderdaad doen. En tog, met sy agterste sitplekke uitgehaal – wat sonder die hulp van gereedskap gedoen kan word – is die Triber se laairuim nie soveel kleiner as die Rush of die BR-V in vyfsitplekformaat nie.

Selfs ’n brandstoftenk van 40 liter vergelyk goed met die BR-V se 42 en die Rush se 45. Gegee dat die Triber (teen net meer as 6 liter/100 km) ook minder voggies sluk, is sy benaderde tenkafstand (van meer as 600 km) selfs ’n bietjie beter as die twee Japannese s’n.

Enjin en koppelaar

Die omgekeerde is ’n kleiner enjin waarvan die las om te vervoer teen ’n stywer eksponensiële kurwe styg vir elke ekstra persoon wat saamry.

Met sewe aan boord sukkel ’n onaangejaagde 999 cc-driesilinderbron wat ’n skamele 52 kW/96 Nm lewer, teenoor die Rush en BR-V se 1.5-liter-viersilinders wat onderskeidelik 77 kW en 88 kW na die voorwiele stuur.

Selfs met net een persoon aan boord is die Triber een van die stadiger skilpadjies. Jy sal ’n Max Verstappen moet wees om in minder as 16 sekondes van rustende tot 100 km/h te versnel.

Selfs met net een persoon aan boord is die Triber een van die stadiger skilpadjies. Jy sal ’n Max Verstappen moet wees om in minder as 16 sekondes van rustende tot 100 km/h te versnel.

Bulte noop jou ook om bietjie deur die vyfganghandratkas te roei, en dit alles op seevlak. Selfs op hoofweë sal die kierie soms geroer moet word en verbysteek op ’n landelike pad raak ’n kwessie.

Die grootste probleem is egter om die Triber – sonder turbokrag, soos dit is – by volstoom te kry, en nie net oor sy pap klein enjin nie. Daarmee kan mens met ’n vragvol geduld nog saamleef.

Wat irriteer is die koppelaar se hoë bytpunt in ’n strek wat nouer as ’n toe deur is. Vóór daai skrefiedunne strek gly die koppelaar; ná hom ruk die Triber na vore wanneer jou linkervoet skiet gee.

Die gevolg is dat die progressie alte dikwels onelegant is, sou mens nalaat om te konsentreer.

Renault beplan om die Triber met ’n geoutomatiseerde handratkas, oftewel ’n AMT (automated manual transmission) toe te rus, asook ’n turbo-aangejaagde enjin vroeg volgende jaar.

Prys in ag genome, sou dit die moeite loon om vir die turbo te wag, maar moenie te opgewonde oor die ratkas raak nie. Tot dusver was Renault se AMT-kaste so vaak dat jy bes moontlik aan die slaap sal val voordat die Triber 100 km/h haal.

Dis einste hoekom ons beweer dat daar wel ’n antwoord is op die vraag oor die spoed waarteen tyd verbyvlieg.

Ry ’n Triber. Dan sal jy weet hoeveel uur jy in elke sekonde kan inpak. Dis soos die driekwartier wat verbyvlieg as jy besig is. Maar staan nou ’n minuut lank voor die mikrogolf om jou koffie op te warm en kyk hoe sleep tyd sy voete.

Is dit die einde van die Triber? Dop hy die toets?

Toerusting en funksionaliteit

Allermins. Die enjin mag klein en karig wees en die dryflyn effe kreupel, maar ontwerp, stilering, toerusting en funksionaliteit is uitstaande vir ’n voertuig by die R200 000-merk.

Sy verpakking is puik en stilering feitlik op dieselfde hoë standaard; die Triber is ’n veeldoelertjie wat soos ’n lewenstylertjie lyk. Vir ’n goedkoop meneertjie is die kajuitontwerp – sitplekke, deure en die tweekleur-voorpaneel – ook uitstaande.

Renault praat van ’n 100 moontlike sitplekkonfigurasies – die sitplekke kan omtrent almal heen en weer gly of vou of oprol of uitgehaal word – maar daar’s vier basiese matrikse wat Renault Camp (vir twee sitplekke), Surf (vier sitplekke), Life (vyf) en Tribe (sewe) noem.

Daar’s ook twee poeierkassies waarvan een, nes die tonnelkonsolekas, verkoeling bied.

Daar ís ook ’n swetterjoel toerusting, van kragstuur, afstandsluit, Bluetooth/USB, ’n 12 V-sok, twee voorlugsakke, voorste kragvensters en parkeersensors agter tot ABS-remme met EBD en goeie, sterk lugversorging (ook vir die agterkajuit) as standaard in die Expression-variant. Die Dynamique voeg kragspieëls, kragvensters agter , ’n ekstra 12 V-kragprop, ekstra luidsprekers, ’n laai onder die drywerstoel, dakrelings en ’n raakskerm vir infovermaak met Apple CarPlay en Android Auto by.

Daarbenewens spog die Prestige-vlagskip met ’n trukamera, aansitterdrukknop, kantlugsakke voor, sleutellose toegang, ’n 12 V-sok vir die agterkajuit en 15 duim-allooie pleks van 14 duim-staalvellings by.

Die Triber is gewis nie ’n Bondmobiel nie, al is daar ’n vae syferverband tussen sy getal sitplekke en die agent se kodenaam. Daarby is ritgehalte ietwat s(w)ewende, maar sy hantering kom uit Blofeld se boek van diabolika.

Daarvoor vergoed die Triber met ruimte, veelsydigheid, toerusting, styl en prys. Vir R200 000 kan jy nie vir veel meer vra nie.

  • Pryse: Renault Triber 1.0 Expression – R178 000; 1.0 Dynamique – R188 000; 1.0 Prestige – R203 000.
Meer oor:  Motors  |  Egmont Sippel  |  Renault Triber
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.