Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Swart sege

Valtteri Bottas in aksie. Foto: Getty Images
F1 se langverwagte terugkeer is laas Sondag met hope aksie op Oostenryk se Red Bull Ring gevier. Vandag se Stiermarkse GP speel op einste baan af. Egmont Sippel skryf.

Ernie Duffield sou waarskynlik die regte kommentator gewees het om F1 ’n week gelede in die Oostenrykse GP van die lyn te help.

Op sy dag het oorle’ Ernie die frase “And away they go!” sinoniem met perdewedrenne gemaak, maar synde sewe maande sedert F1 se 20 vuurwaens laas in gelid aangetree het, sou dit ’n gepaste manier wees om die hervatting te vier.

Dit alles nou op die Red Bull Ring, net buite Spielberg, in die Oostenrykse provinsie Stiermarke, waar 2020 se tweede ren juis vandag beslis word.

Hoekom dan twee Grands Prix binne agt dae op dieselfde baan?

Fernando Alonso

Wel, Covid-19. Soos die res van die planeet moes selfs die wêreld se geldmagtigste sport die knie voor die koronavirus knak en wag dat die virus bedaar – terwyl Renault pas aangekondig het dat Fernando Alonso volgende jaar, saam met Esteban Ocon, vir La Régie gaan jaag.

Was die openingsnaweek boonop ’n maatstaf sal vanjaar se titel tussen die twee Mercedes-jaers uitgespook word.

Die wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het al drie oefensessies oorheers en sy spanmaat, Valtteri Bottas, het troonposisie gegaps.

En meer, want Bottas – met sy voorliefde vir die 4,318 km-korte Red Bull Ring – was in al drie kwalifiseringsessies vinniger as Hamilton, onderskeidelik met 0,087 en 0,081 en 0,012 sekondes.

Mercedes se Valtteri Bottas vier sy sege in Oostenryk saam met Charles Leclerc (links) van Ferrari en die McLaren-jaer Lando Norris. Foto:Mark Thompson | Getty Images
Vettel en Bottas

Die Brit soek natuurlik sy sewende wêreldtitel, wat Michael Schumacher se rekord sal ewenaar; Bottas het ander planne.

Einde 2019, seg die Fin, was hy geestelik én fisiek weens sy skeisaak gedaan.

Vanjaar se lang grendelpouse het egter tyd geskep om sy batterye in die herlaai-sok te prop en toe arriveer laas Sondag se kikkerdoepa in die vorm van ’n sege.

Vir Valtteri is daar vanjaar natuurlik meer as net ’n wêreldtitel in’t spel. Hy veg ook om ’n vernuwing van sy Mercedes-kontrak. Word hy einde 2020 gepos en sy drome om ooit die sport se goudste beker vas te hou, is swakker as om ’n Finse aurora met kaal hande te vang.

Sebastian Vettel, sien, neem einde vanjaar finaal van sy rooi oorpak afskeid.

Carlos Sainz, tans by McLaren, sal Seb se perd in 2021 opsaal. Mens sou dus reken dat Vettel en Maranello dalk verskille had oor Seb se spanstatus of die rigting waarin die motor moes ontwikkel.

Maar, nee. Die waarheid is dat Ferrari eenvoudig versuim het om die Duitser se kontrak te hernu. Die wêreldtitel wat Vettel in 2017 deur sy vingers laat glip het, die een wat in 2018 weggesmyt is en die manier waarop die jonge Charles Leclerc sy jis laas jaar sou skop, was skynbaar genoeg om Seb van sy Steierende Hings te slinger.

Vettel se kanse om nou ’n nes in een van F1 se twee ander hoë bome te skrop, lyk so vrotsig as sy Spielberg-vertoning laas Sondag.

Vettel se kanse om nou ’n nes in een van F1 se twee ander hoë bome te skrop, lyk so vrotsig as sy Spielberg-vertoning laas Sondag.

Red Bull het klaar hul renwa aan Max Verstappen se ster gehaak en by Mercedes sal alles van Bottas se prestasie afhang. Die Fin is onder die soort druk wat taiga-woude in sy moederland spontaan aan die brand kan steek.

Maar onthou dat Merc se spanbestuurder, Toto Wolff, ook Bottas se rensake behartig. Valtteri sal derhalwe veilig wees, solank sy Silwerpyl ten minste in die skadu van Hamilton s’n boer.

Swart Mercs

Só gepraat: Uit solidariteit met die geveg teen rassisme, asook F1 se “We Race as One”-inisiatief was die Silwerpyle verlede naweek in swart gedrapeer. Ditto vir die res van die jaar.

Voor die wedren het Hamilton en 13 ander jaers boonop in geknielde posisie teen rassisme geprotesteer.

Verstappen, Leclerc, Räikkönen, Kvyat, Giovinazzi en Sainz het nie die knie gebuig nie, maar almal het swart “End Racism”-T-hemde gedra, Hamilton s’n met die woorde: “Black Lives Matter”.

In hul nuwe livrei is die Merc-motors, na baie se mening, selfs mooier as in silwer. Gooi die twee bymekaar en jy kry natuurlik ’n almagtige All Black met ’n silwervaring – of ster – op sy bors.

In hul nuwe livrei is die Merc-motors, na baie se mening, selfs mooier as in silwer. Gooi die twee bymekaar en jy kry natuurlik ’n almagtige All Black met ’n silwervaring – of ster – op sy bors.

Ieder geval was dit twee Swart Pyle aan’t spits van laas naweek se wegspringrooster totdat Red Bull – met nuwe stawende getuienis – op rendag gekla het dat Hamilton voet-in-die-hoek verby ’n geel vlag is. Minder as ’n uur voordat Ernie Duffield se “And away they go!” so uiters van pas kon wees, is die Brit van tweede na vyfde op die wegspringrooster gerelegeer.

Die netto effek was om Verstappen tweede op die baan te plaas, maar op mediumgrein-bande in stede van sy naaste teenstanders se sagtes.

In najaging van Max se derde agtereenvolgende Oostenrykse GP-sege wou Red Bull dus spoed vir een minder kuipestop verruil. Elektriese probleme het egter tot die eerste van ’n rits onttrekkings deur vele motors gelei.

Selfs die Swart Pyle het met elektriese ratkasprobleme gesukkel.

Ferrari-vaart

So dramaties en amper chaoties was vanjaar se openingsren met sy drie veiligheidsmotor-periodes dat ’n paar van die voorafgaande besprekingspunte feitlik verlore geraak het.

Die eerste was Mercedes se DAS (Dual Axis Steering, waaroor Voet in die Hoek reeds vroeg vanjaar verslag gedoen het)-stelsel.

Die tweede was Ferrari se gebrekkige spoed. Teen 326 km/h was Leclerc se SF90 laas jaar die vinnigste motor deur die spoedval; teen 312 km/h was sy SF1000 vanjaar die stadigste! En in kwalifisering het hy jaar op jaar ’n sekonde verloor. Maranello blameer swak lugdinamika, maar Alfa Romeo en Haas (ook met Ferrari-krag) was ook ’n sekonde elk stadiger as ’n jaar gelede.

Dít, terwyl die res van die veld 2019-tye kon handhaaf, ten spyte van ’n ekstra sensor vir brandstofvloeitempo wat ná ondersoeke op Ferrari se 2019-enjins deur die FIA vereis word.

Die gevolgtrekking? Ferrari het oor die vorige twee, drie jaar alweer gekroek.

Die gevolgtrekking? Ferrari het oor die vorige twee, drie jaar alweer gekroek.

Die derde besprekingspunt was Racing Point se spoed. Die eertydse Force India-span het laas jaar se Mercedes-ontwerp onbeskaamd gekopieer en dis teen die gees van die sport, seg sommige.

Maar in die soeke na groter opwinding het baie kenners net nou die dag nog drie motors per renspan voorgestaan.

Wat’s dan verkeerd met twee nuwe en twee ou motors van elke topspan, al jaag hulle onder verskillende vaandels?

Kyk nou net hoe lekker was dit om uiteindelik weer ’n McLaren-jaer, as voorbeeld, by die ná-rense sjampanjetafel te sien. Ernie Duffield sou dit waarskynlik met ’n “And a-home they came!” gevier het. Ditto Fernando. Welkom terug!

  • Vandag se Stiermarkse GP word van 15:05 op SuperSport 6 uitgesaai, terwyl gister se kwalifiseringsessie van 12:05 herhaal word, ook op SS6.
Meer oor:  F1  |  Oostenryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.