Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Tawwe Tienie

Mahindra se Pik Up S10 is ’n taai, robuuste bakkie, maar groter bestuursgerief het om ’n outomatiese ratkas gesmeek. ’n Ligte kuur en ekstra standaard-toerusting – plus daai outokas – het die S11 gelewer. Egmont Sippel skryf.

Toyota is nie meer die enigste motorvervaardiger in Durban nie. Sedert 2018 lewer Mahindra die volle Pik Up-bakkiereeks deur half-opgeboude eenhede van Indië in ’n nuwe aanleg naby die Koning Shaka-lughawe te monteer.

Die geharde werkesel bied 4x2- en 4x4-variante in enkel- en dubbelkajuitvorm, laasgenoemde met ’n laestrekkas.

En meer, want met ’n afwerkingspakket wat in Suid-Afrika ontwikkel en bekend gestel is – ’n bul van ’n bosbreker, ’n bielie van ’n rolstaaf, agt-speek-sierwiele, blink nawe, daai soort ding – het Mahindra einde 2018 ’n spesiale dubbelkajuit-uitgif bekend as “Karoo” geskep.

So gewild was die pakket dat alle Pik Up-dubbelkajuite (die S6, S10 en S11) deesdae ’n Karoo-variant in twee- of vierwieldryf bied.

Om es-joe-wie-belangstellendes nader te hark is die S10 onlangs ook met beter standaardtoerusting en ’n sesgang- outomatiese ratkas gekikker om die nuwe S11-vlagskip te skep.

Stilering en voorkoms
Mahindra se Pik Up S10

Van voor lyk die hersiene Pik Up soos ’n omgekrapte boerboel. Op die hoeke tuur twee kwaai kykers. Sewe slagtande vul die breë, plat bek bo ’n opgekrulde onderlip. Misligte priem in die kieste en die voorkop is in sy dwarste met ’n byl oopgekloof.

Dis ’n strydlustige aangesig.

Die sy-aansig bedaar ’n effe, maar buiten fop-luguitlate skuins agter forse voorwielskouers is daar steeds ’n dik, konkawe karaktersloot wat net voor die agterwiele na bowe wip voordat die sy-metaal enduit in twee gekloof word.

Karoo-variante kry boonop breë, uitgeboude hoepels om die agterwiele.

Desnieteenstaande is daar tog ’n ander dominante visuele element. Die Pik Up, sien, is iets van ’n langeraat wat ongemaklik nou en hoog vertoon.

Irritasies

Kennismaking begin met hierdie visuele gespletenheid – ’n effe koddige, regop lyf agter ’n weerbarstige aangesig – plus ’n paar irritasies.

Die kajuit kort byvoorbeeld gryphandvatsels. Synde dat die inklimtrap ’n staaf eerder as ’n plank is, en daarom van mindere waarde tydens bestyging, sal veral vroue van die lewenstylkudde só ’n handvatsel waardeer.

Van agter die stuur daag ’n tweede irritasie op: Die sleutelgat kyk met 90° weg van die stuurkolom én hy’s versonke. Tydens ’n vroetelsoektog na die gleuf skuur jou vingers maklik oor die sleutel se middelknoppie en pieeep-pieeep-pieeep gil die alarm.

Satellietbeheerknoppies op die stuurwiel se dwarsspeke plaas boonop te na aan die roer se raam. Hou nou die stuur vas waar jy moet – met jou hande op kwart oor nege – en dit gebeur alte maklik dat een van daai knoppies, soos stembeheer, in die loop van alledaagse bestuurswerk geaktiveer word.

Of rem hard, en in die proses waarin jou gewig na vore werp, druk ’n duim dalk op die klankdoofknoppie. Voorts kort die S11 se ruitveërs ’n wisseltempo vir sagte reën.

Baksteenkantig, nou en regop
Mahindra se Pik Up S10

Die volgende twee irritasies het met die stuurkolom en -wiel self te doen.

Eersgenoemde is sonder ’n teleskopiese funksie, maar ten minste is die bestuurder se voorstoel hoogteverstelbaar. Saam met deure wat loodreg van die dak tot in die vloer val – en nie alte ver van insittendes se buite-arm nie – pik die Pik Up se baksteenkantige sypanele tog maar ’n bietjie asem uit die kajuit.

Een gevolg is patetiese dun deursakke, sonder bottelhouers. Wat dus om met drinkgoed te maak, want die twee holtetjies voor die ratkierie is hopeloos te vlak vir bottelvasgryp.

Dit kon erger, soos Land Rover se taaiste tot redelik onlangs bewys het. In die Defender van ouds het jou buite-skouer, -boarm en -elmboog deurentyd teen ’n deur of ruit se binnekant gestamp of geskuur of geskaaf.

Die Mahindra se baksteenkantigheid laat ’n bietjie meer vryheid van beweging toe, maar mens bly vaagweg van beperkinge bewus.

Of is dit dalk ’n voordeel, as jou bakkie gereeld in nou stegies moet werk?

Die Pik Up is 1,820 m smal vergeleke met die Toyota Hilux se 1,855 m, die Ford Ranger se 1,860 m en die VW Amarok se 1,954 m (syspieëls uitgesluit). Kombineer voorts die Pik Up se smal lyf met ’n besonder hoë dak – teen 1,860 m gemaklik hoër, in dalende orde, as die Ranger, Amarok en Hilux s’n – en die beeld van ’n langeraat word deur ’n buitengewone lae pens versterk.

Grondvrye hoogte van 210 mm is onderskeidelik 27, 60 en 76 mm laer as die Ranger, Amarok en Hilux s’n.

’n Probleem in die alledaagse omgang is dit nie, maar kan die Mahindra se pens buitengewoon maklik tydens harde veldwerk gekielie of gekrap word?

Dis feitlik vanselfsprekend dat die Hilux se tamaaie penshoogte die beste resultaat in hierdie verband sal waarborg, gevolg deur die Amarok, maar hier’s die verrassing: Weens ’n kort asafstand ewenaar die Mahindra se oorbruggingshoek die Ranger s’n.

Sit dáái in jou Pik Up-pyp en rook dit.

Inval- en vertrekhoeke, plus laaibak

Gegee ook dat die Mahindra ’n amper weglaatbare klein vooroorhang het – die bakwerk haak soos ’n olifantslurp om elke voorwiel – en dit volg dat die invalshoek gemaklik die dubbelkajuit-kategorie se beste is.

Omgekeerd is die vertrekhoek gemaklik die swakste, wat natuurlik beteken dat die stert onder spesifieke veld-omstandighede te vroeg tydens die uitval kan skraap of sleep.

Nie dat die Mahindra ’n besonder lang laaibak het nie; binnebakmate is korter (en nouer) as die Hilux, Amarok en Ranger s’n. Ten minste bied alle modelle ’n regop sper-en-vasbindraam tussen die kajuit en ’n laaibak wat, terloops, nie kan sluit of gerubber is nie.

Met vyf bladvere op elk van die vaste agteras se dravere en ’n loonvrag van net 5 kg minder as ’n ton (teenoor ander dubbelkajuite se sowat 860 kg) kan jy egter maar láái; 4x2-Pik Up-variante dra 1 095 kg. Tel ook sommer die leerraam-onderstel se kruisbalke terwyl jy op jou rug onder die Pik Up ingeskuif het. Daar is ’n volle ses van hulle, met twee in die vorm van dik, sterk buisbalke.

Voorts kan mens aan ’n ferme leëbak-rit voel dat die Mahindra reg ingestel is om renostertjies en olifantjies te vervoer.

Te danke aan JK Tyres se uiterse hoë-profiel-Elanzo Supras (245/75-R16) is ritgehalte egter fieterjasieloos; die neus se dubbelmikke beïndruk spesifiek.

Opsomming

Die Mahindra Pik Up S11 is ’n geharde 4x4-dubbelkajuit-werkesel met genoeg moderne toerusting om, ten spyte van ’n swaar stuur en stadige draaisirkel, ook as lewenstylkandidaat te funksioneer.

Hoogtepunte is die dryflyn, onderstel en eenton-loonvragvermoë.

Mahindra se 2.2-liter-turbodiesel paar uitstekend met Aisin se gladde sesgang-outokas, terwyl laestrek en ’n Eaton-sluitewenaar op die agteras ’n ideale werkmaat in die Pik Up se sterk, robuuste onderstel vind om taai veldwerk met minagting te oorkom – solank die relatiewe lae pens saamspeel.

Verbruik – wat selfs deur 8 liter per 100 km kan breek as jy langpad ry – is eweneens goed, maar die kersie op die koek is die aankoopprys, asook versien­tye van een maal per jaar of elke 20 000 km, ’n waarborg van 4 jaar/ 120 000 km en ’n versienplan van 5 jaar/ 90 000 km.

Hoe’s daai vir waarde vir geld?

  • Prys: Mahindra Pik Up S11-outo D140 4x4 – R415 000.


Kajuit en toerusting

Mahindra se Pik Up S10

Mahindra se Pik Up bied klein irritasies, as jy puntenerig is, maar die S11 se standaardtoerusting is verbasend gevorderd vir ’n bakkie wat op die oog af klassieke ouskool beliggaam – soos klimaatbeheer, ’n raakskerm met sat-nav, kragvensters alom, ’n afslaan-armrus vir albei voorstoele (met materiaalsokkies oor elkeen wat ooprits en afhaal vir maklik was), Bluetooth, Aux/USB-punte, voormisligte, swaai-kopligte, outo-ligte, outo-veërs, ’n verbasende skerp trukamera (maar geen waarskuwingsensors nie), ABS-remme met EBD, traksiebeheer en twee voorlugsakke. Daar’s ook modderpoelliggies vir die uitklimslag ná donker en ’n lekker gróót voetrus. Die klankstelsel bied selfs twee luidsprekers in die dak, bo die (verhitbare) agtervenster.

Buiten vir effe beperkte kantspasie bied die voorkajuit ook goeie ruimte, veral met ’n regaf voorpaneel wat voor die voorpassasier weggesny is.

Die agterkajuit is leefbaar, veral vergeleke met ander dubbelkajuite. Knieruimte is goed, en so ook kantuitsig, te danke aan ’n hoë sitplek en diep syvensters.


Enjin, verbruik, ratkas, dinamika

Die S11 dryf, soos alle Pik Up-bakkies (enkel- én dubbelkajuite) uit Mahindra se verrassende goeie langslag-viersilinder-2.2-liter-turbodieselbron met direkte enkelspoor-inspuiting en ’n top-gemonteerde tussen-koeler (onthou die bylgeuf op die kap)?

Saam met Oostenryk se AVL – die planeet se grootste onafhanklike maatskappy vir die ontwikkeling, simulasie en toetsing van dryflynstelsels – is die mHawk-enjin afgelei van Mahindra se groter, swaarder en primitiewer agtklep-viersilinder, ’n 2.5-liter-turbodieselbron genaamd m2DiCR. Op sy beurt stam die “Mahindra 2 valve (per cylinder) Diesel Direct Injection Common Rail” (46 kW/180 Nm) uit ’n ou Peugeot-bron.

Die 2 179 cc-mHawk spog met ’n aluminium-silinderkop, dubbelkopnokasse, vier kleppe per silinder, ’n turbo met varieerbare wiekgeometrie plus Bosch se tweede-geslag-enkelspoorstelsel met solenoïed-inspuiters teenoor die m2DiCR se enkelkopnokas, twee kleppe per silinder, vaste wiekgeometrie en ’n Delphi-inspuitstelsel.

Met ’n drukverhouding van net minder as 18:1 lewer mHawk se selfontsteking krag- en wringpieke van 103 kW en 320 Nm, onderskeidelik om 4 000 r.p.m. en van 1 500-2 800 r.p.m. Verbysteek of die sleep van ’n boot, woonwa of Ventertjie is maklik genoeg.

Die stuur is aan die swaar kant en die draaisirkel te traag vir maklike stadsparkering, maar op die oop pad is die Mahindra se 2.1 ton verbasend rigtingstabiel, juis te danke aan die onsensitiewe stuur en die lae penshoogte wat die hoë Jakob Regop se gravitasiepunt pad toe trek.

Teen hoër snelhede dreun eerder as klop en kletter die mHawk, en 130 km/h kom maklik. Daarna het jy ’n lang, reguit stuk pad nodig, verkieslik met effe van ’n afdraande, as jy die spoednaald tot by 155 km/h wil druk.

Die deurrubbers begin reeds by 100 km/h skuurgeluide maak en teen 130 km/h gesels hulle lustig in hul rame saam met die Pik Up se pad- en windgeraas. Interessant genoeg het die waarskuwingsikoon vir ’n oop deur telkens bo 130 km/h aangegaan.

Die Aisin-verskafte sesgang-outo is glad en slim genoeg vir alledaagse bakkie-take, terwyl 2H, 4H en 4L via ’n eenvoudige draaiknop op die tonnelkonsole geskakel word. Die sluitewenaar op die agteras, daarenteen, is ’n gesofistikeerde Eaton-produk wat geen handearbeid verg nie omdat dit, soos benodig, outomaties sluit sonder dat die bestuurder eens daarvan bewus is.

Teen ongeveer 9-10 liter/100 km behoort die Pik Up se 80-liter-tenk ook in die omgewing van 800 km of meer te lewer voor jy weer swartgoud moet tap.


Mahindra en Ford

In 2017 reeds het Mahindra en Ford ’n samewerkingsooreenkoms vir produkontwikkeling, elektrifisering en tussen-voertuigse skakeltegnologie onderteken.

Volgende jaar se nuwe Ford EcoSport dryf juis uit Mahindra se nuwe 1.2-liter-driesilinder-T-GDI-turbobron (van Mahindra se mStallion-enjinfamilie). Die “D” in GDI het niks met diesel te doene nie. GDI staan vir Gasoline Direct Injection, ’n tegnologie wat al ’n eeu oud is, maar eers – met die koms van elektroniese inspuitbeheer – ’n kwarteeu gelede op groot skaal deur Mitsubishi in passasiersmotors ontgin is.

Deel van die GDI-geheim is gestratifiseerde inspuiting, met alle ingespuite petrol in ’n wolk om die vonkprop gekonsentreer, vir beter ontbranding, wat ultra-brandstof-arme inspuiting toelaat en verbruik verlaag (hoewel NOx-uitlate hoër is).

Mahindra se 1.2-liter-T-GDI (97 kW/230 Nm) is gemaklik sterker, maar ook suipversigtiger, as die EcoSport se huidige 1.0-liter-driesilinder-EcoBoost-turbobron (92 kW/170 Nm). Die T-GDI buig eersdaags in Indië, in Mahindra se XUV300 Sportz.

Meer oor:  Egmont Sippel  |  Pik Up S10  |  Mahindra  |  Bakkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.