Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Twee in een

Die Corolla Hatch wat in die voetspore van Toyota se staatmaker-Auris- en -RunX-luikrûe gevolg het, is op verskeie maniere twee motors in een. Egmont Sippel filosofeer.

Ons weet hoe groot korporasies soms werk, hulle wat ’n bestuursraad benodig om besluite te neem. So goed soos ’n voorryman se systap en min of meer teen dieselfde tempo.

Dis hoekom sulke rade of komitees dikwels oor hul eie lomp voete val. Toyota-stilering as voorbeeld.

Tokoeo Foekoeitsji: “Toyotas is nog altyd deur komitees ontwerp. Nie een van die raadslede se gevoelens moes gekwets word nie. Enigiets wat aanstoot kon gee is uit die ontwerp verwyder totdat daar niks oorgebly het nie.”

Só praat ’n bek mos. En ná baie dekades kom die woorde nie net van buite nie, maar van binne; ’n Toyota-man homselwers, Foekoeitsji, hy wat sedert 1974 al vir die maatskappy werk en in April 2011 as TMC (Toyota Motor Corporation, Lexus ingesluit) se globale ontwerpshoof aangestel is.

Van 2012 dien Foekoeitsji boonop in Lexus se internasionale bestuursraad en in 2014 word hy Lexus-president, die makoeloe-baas, die man met die lang sweep.

En dit sê nogal iets omtrent kunstenaarstatus in ’n maatskappy wat in 1937 reeds deur Kiitsjiro Tojoda gestig is, dat dit ’n driekwarteeu sou neem voordat een van hulle in ’n gesaghebbende institusionele TMC-orgaan kon dien – en dit ook maar net omdat 2007-2008 se finansiële krisis die swaar gewonde Japanse motorbedryf gedwing het om nuwe oplossings te soek.

Kiitsjiro se agterkleinseun en huidige TMC-hoofindoena, Akio Tojoda, het ontwerp terstond tot fokuspunt verhef, met Foekoeitsji-san as veldmaarskalk. Die opdrag was om stilisties te gaan oorlog maak sodat Toyota, maar veral Lexus, ’n eie gesig en identiteit kon ontwikkel.

“As 100 modemodelle voor jou verby loop,” seg Foekoeitsji, “is dit moeilik om enige name of individuele kenmerke te onthou.

“Wat in die geheue vassteek is iets spesiaals, soos Hollywood se moewiesterre – Angelina Jolie, Johnny Depp, Nicolas Cage, Carrie Fisher.”

Cage van Leaving Las Vegas-faam? Inderdaad. Maar hy’s nie juis ’n Brando of ’n De Niro nie, ou Niklaas.

Fisher?

Ongelukkig reeds oorlede. En met alle respek: Wie onthou nog vir Carrie versus supermodelle soos Cindy Crawford, Claudia Schiffer en Christie Brinkley? Of dalk help dit as jou naam ook met ’n “C” begin, al is die van Fisher.

Terug egter na Tokoeo. “Ons motors moet moewiesterre wees,” seg hy. “Dis hoekom ek sekere ontwerpwaagstukke soos Lexus se uurglas-rooster aangaan.”

Of beskou die C-HR. Of die jongste Toyota Corolla met sy wrede, wye barberbek en kopligte wat soos helder kristalwater tussen rotsskeure vasgevries is.

Sonder Foekoeitsji sou hierdie tweestuks nie so radikaal vertoon het nie.

Maar hou vas, daar’s meer. Die ingenieurs het ook hul kant gebring. En die tegnici. Sedert die Corolla Hatch se internasionale debuut in 2018 is die outjie selfs al twee keer liggies gekikker!

Kikkerings en verrigting

Die eerste vars water het die Corolla-kelkie net voor grendeltyd-2020 getref, ’n jaar nadat die nuwe Hatch plaaslik uit Japan sou aanland. Want raai, ná 44 somers word die Corolla nie meer inheems gekweek nie. In sy plek bou Durban se Prospecton-aanleg nou die Quest, oftewel die 11de geslag Corolla.

Vroeg 2020 se kikkerlys het met ’n keuse van tweekleur-bakafwerking en ’n koordlose foonlaaier begin. Die top-gespesifiseerde Xr-variant is ook met voorstoelverwarming bedeel, plus ’n leer-Sweedse-leer-bekleekombinasie, outo-hoofstraal-LED-kopligte en ’n boel veiligheidstoerusting (soos baanhoubeheer, aanpasbare vaartbeheer en ’n pre-botsstelsel).

Dit buiten ’n infovermaak-raakskerm, dubbelsone-klimaat, aanboord-Wi-Fi, stembeheer, sleutellose enjinswaai, ’n veelfunksie-stuurwiel, vaartbeheer, traksiebeheer, sewe lugsakke, ’n trukamera en 16”-allooie wat alles voorheen reeds standaard was, selfs op goedkoper Xs-variante.

Spring daarvandaan na laat 2020 en ’n tweede minikuur verryk die reeks verder met Android Auto en Apple CarPlay, Google Maps- en Waze-navigasie, Apple Music-, Joox-, Spotify- en SoundCloud-apps, plus Toyota Safety Sense, wat piep-piep as die motor se stert tydens tru-du gevaar in die vorm van kruisverkeer gewaar.

In minder as twee jaar sedert April 2019 het Toyota dus ’n splinternuwe Corolla Hatch met ’n verfrissende voorkoms en (uiteindelik) ’n sinvolle, mooi kajuit in Suid-Afrika bekend gestel, alles op die maatskappy se splinternuwe TNGA (Toyota New Global Architecture)-platform – waarna veiligheidsbewustes en tegnokrate tydens twee kikkerfases tevrede gestel is, terwyl die Xr se sexy nuwe tienspeek-18”-allooie, gesool met 225/40-R18-Dunlop SP Sport Maxx-rubber, koel katte se hart warm laat pomp.

Dis ’n bekvol.

Maar hoe ry lae-profiel-18”-wiele, vergeleke met die res van die reeks se uitstekende rit op 55-profiel-16”-allooie? Verbasend goed. Of dalk nie so verbasend nie, gegee die nuwe Corolla se gevorderde, onafhanklike veelskakel-agtervering.

Die Dunlops skree bietjie as jy hard deur draaie druk. En selfs met die enjin en kegeltransmissie in Sportmodus is die 1.2-liter-viersilindertjie (85 kW/185 Nm) te pap vir waarlike vuurwerk, moderne tegnologie soos ’n turbo-aanjaer en direkte elektroniese brandstofinspuiting ten spyt.

Die standaard-versnellopie duur byvoorbeeld ’n amperse 11 sekondes, hoewel die Hatch darem 200 km/h in ’n reguit lyn haal. Die middestrekke lewer boonop ’n soort woema wat jy uit ’n 1400 sou verwag en die 1.2-liter-oondjie skree net mooi nooit nie, al druk jy hom heeltyds tot by sy 6 000 r.p.m.-piek.

Die stuur is lieflik belaai en remwerk is strate beter as die Xs-modelle met hul kleiner wiele en derhalwe kleiner skywe, die voorstes in alle gevalle geventileer.

Dis ook so hittete of die kegeltransmissie ewenaar die eienskappe van ’n klassieke outokas (hoewel die rubberband­effek nog nie heeltemal so goed soos die Honda CR-V s’n hokgeslaan is nie).

Gemiddelde verbruik sal waarskynlik tussen 1,0 en 2,5 liter meer as die amptelike syfer van 6,1 liter/100 km registreer. Op die oop pad behoort 50 liter sap die Xr se 1,36 ton darem 600 km of verder te sleep.

Kajuit en gevolgtrekking

Gemeet teen die verlede is die voorkajuit ’n hoogtepunt, al is die instrumentpaneel – tipies Japannees – met te veel fonte en effe deurmekaar geplaaste inligting volgepak.

Klimaatknoppies is ook klein en moeilik om te lees, maar deursakke is uiteindelik van funksionele grootte en die Xr se sitplekke skottel net mooi genoeg.

Voorts bied die voorkajuit goeie ruimte, maar die Hatch is twee karre in een: Van die B-pilare vorentoe en van die B-pilare agtertoe; die agterkajuit en spesifiek die laairuim sal lug uit jou longe pers.

As klap in ’n gesinskoper se gesig meet laasgenoemde byvoorbeeld ’n karige 360 mm van bo na onder, al is die spaarwiel net ’n skyf. Ironies genoeg is dit juis die eise van moderne ingenieurswese – in hierdie geval ’n puik nuwe veelskakel-agteras pleks van ’n wringbalk – wat die laairuim van onder begin knyp.

Maar, o, gaats, hy word ook van bo plat gedruk, juis omdat Foekoeitsji-san voorrang aan vorm bo funksie gegee het om ’n sportiewe, plat rug in Hollywood-idioom te vestig.

En as 16”-wiele nog nooit einste idioom na behore kon ondersteun nie, sal die gekikkerde Xr se 18-duimers dit wel doen.

Die eindresultaat is ’n Corolla Hatch wat een getroue ou meester – naamlik funksionaliteit – effe opsy geskuif het om ’n nuwe een – voorkoms – te verwelkom.

Verblydend is dit egter dat Toyota se klassieke kernfilosofie van hope toerusting in ’n betroubare ingenieurspakket ongeskonde gebly het. Voel maar net hoe sag en stewig die deure toeknip; beter as ’n Mercedes s’n.

Of dit alles genoeg is om die Corolla se aartsvyand, die VW Golf, te klop? Wel, laasgenoemde het spoorloos van handelsvloere verdwyn en, skokkend genoeg, is dit ’n ope vraag of Suid-Afrika ooit die nuwe, agtste geslag Golf in sy basiese vorm sal kry.

Wat nogal iets is om oor te dink . . .

  • Prys: Toyota Corolla Hatch 1.2 Xr – R434 000.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.