Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Einde van die pad vir 3 GT?

’n Dekade gelede het BMW die dolosse op die mat gegooi met ’n rits nuwe, vreemde voertuie in ’n poging om te sien wat vind byval by die kopers en wat val tussen die krake deur.

Dink aan rygoed soos die X6 en die 5-reeks GT, wat gou opgevolg is deur hul kleiner stalmaats, die X4 en 3-reeks GT.

Koepee, stasiewa, of luikrug? BMW se koddige 3-reeks GT laat almal kopkrap. Kopers soek eerder ’n sportnuts, het die vervaardiger besef.

Van hierdie viertal was dit toe net die sportnutse, die X4 en X6, wat blyk suksesvol te gewees het. Die 5-reeks GT is reeds met die slanker, sportiewer 6-reeks GT vervang, en nou het BMW pas aangekondig die 3-reeks GT gaan ook nie vervang word wanneer hy binnekort die einde van sy rakleeftyd bereik nie.

Harald Krüger, grootbaas van BMW AG, het dié nuus verlede week in München bekend gemaak toe hy die groep se finansiële resultate by ’n beleggerskonferensie bekend gemaak het.

Dit was ’n dapper poging van BMW destyds om so baie van die spreekwoordelike spaghetti teen die plafon te gooi om te sien wat bly teen die dak vassteek. Die tydsberekening was perfek vir die twee sportnutse, want dit is tans die groeisegment en vervaardigers kan nie voorbly met nuwe nisweergawes hiervan nie.

Maar terselfdertyd het veeldoelers soos ’n klip in onguns by kopers verval. Die twee GT-modelle was veronderstel om ’n nis te ondersoek vir kopers wat graag die ruimte van ’n sportnuts wou hê, asook die hoër ryposisie, maar nie geïnteresseerd was in die sportnutse se aggressiewe voorkoms of 4x4-vermoëns nie.

Sowel die 5- as die 3-reeks GT’s het wêreldwyd maar baie swak verkoop. Die oefening herinner ook aan Mercedes se eie waagstuk met die R-klas ’n dekade gelede.

Daar is gerugte van ’n moontlike 4-reeks GT wat ’n sportiewer koepee of vierdeur-koepee in gedagte het. Maar ons verwag nie dat BMW dié roete sal opsoek nie. Hierdie segment word reeds goed genoeg deur die gewone X4 en die beplande 3-reeks GranCoupe gedek (’n plat, vierdeur-sportsedan met raamlose vensters en ’n dinamiese voorkoms).

Op dieselfde konferensie het Krüger ook slegte nuus gehad. Hy het verskeie stappe aangekondig waarmee BMW gaan probeer om in die volgende paar jaar sowat R200 miljard te bespaar.

Een manier is om die ontwikkelingsproses te verkort. Tipies sal ’n vervaardiger ’n nuwe model vir ’n jaar reg om die wêreld neem waar ingenieurs hom in woestyne, sneeu en bergpaaie gaan ry om die werking van sy stelsels en hantering in uiterste toestande te evalueer. Krüger het daarop gesinspeel dat moderne rekenaarprogramme die meeste van dié funksies vandag kan naboots, teen ’n fraksie van die koste en vinniger ook.

Nog ’n kostebesparingsmaatreël is om minder enjinkeuses per modelreeks te bied – tot die helfte van wat tans gebied word. En laastens moet die voertuie eenvoudiger ontwerp word en moet daar meer gedeelde onderdele wees. BMW se sterkpunt was nog altyd sy dinamiese vertoning op die pad, so ’n mens hoop dat sy besparings nie dié aspek negatief gaan raak nie.

Meer oor:  Bmw  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.