Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Eindelik – nuttige tegnologie

Knormoer sien die nis-sportmotorgroep Lamborghini het ’n puik 2019 agter die rug.

Bosch se nuwe sonskerm bestaan uit ’n reeks seskantige, deursigtige blokkies. Blokkies kan individueel verdof word om die son weg te keer.

Die groep het pas sy verkoopsyfers bekend gemaak, en met ’n totaal van 8 205 Lambo’s wat nuwe eienaars gevind het, was dit inderdaad die Italiaanse groep se beste verkoopsjaar nog.

Die rede? Lambo se Urus, die vervaardiger se nuwe sportnuts.

Almal weet elke Jan Rap en sy maat wil ’n sportnuts hê. Maar dat dié miljoenêrsklub ook oor hul voete sal val vir ’n Lambo-4x4, was ietwat van ’n verrassing vir Knormoer.

Teen 4 962 eenhede was die Urus die Italianers se gewildste model teen amper 70% van al sy voertuie wat hy laas jaar verkoop het.

En net om dinge verder in perspektief te plaas, voorverlede jaar het Lamborghini nog net onder die 6 000 voertuie verkoop. Verlede jaar se rekordverkope beteken ’n sprong van 43% binne slegs een jaar.

En noudat Knormoer in vyfde rat is met die syfers: In 2013 kon Lamborghini slegs 2 121 voertuie uit die toonkamers laat rol.

Amerika, met amper die helfte van alle Urusse wat verkoop is, was die groep se grootste mark.

  • Knormoer sê die Urus is net nie in sy smaak nie. As dit nou ’n moderne LM002 was, dán het hy sy tekke platgedraf om by sy naaste handelaar uit te kom.

Goeiemôre, my sonskyn

Gedink ná ’n eeu van die motor op die pad dat die nederige sonskerm bo teen jou voorruit steeds nie verder verbeter kan word nie?

Verkeerd. Al het die sonskerm (net soos die tandeborsel, die kam en die potlood) onveranderd gebly deur die jare, is daar eindelik nou ’n nuwe weergawe op pad.

By die onlangse Consumer Electronics-skou in Las Vegas het die Duitse tegnologie-groep Bosch sy nuwe virtuele sonskerm uitgestal – en op die koop toe ’n prys vir beste nuwe ontwerp daarmee losgeslaan.

Waar die sonskerm tot op hede bloot ’n stuk viniel met ’n smukspieëltjie is wat jy kan afwip as die son laag voor jou lê, kan Bosch se skerm deursigtig wees, of ’n paar kolle pikswart verkleur om die son uit jou oë te hou maar die res van die paneel deursigtig.

Die gedagte is heel logies. Die hele sonskerm-paneel is eintlik ’n deursigtige LCD-skerm (vloeibare kristal). Die skerm is in ’n rits klein, seskantige blokkies opgedeel.

In die dak sit ’n kamera wat jou gesig en oogbewegings monitor. Sou die blikbrein aflei dat die son skuins van links af in jou oë skyn, sal hy die linkerkantse blokkies pikswart verdof totdat ’n skadu op jou gesig val.

Dus, die son skyn nie meer in jou gesig nie, maar jy kan steeds deur die res van die skerm na die pad voor jou kyk.

Die gedagte is baie eenvoudig, maar die blikbrein-tegnologie moes straks eers genoegsaam op dreef kom om dit te kon laat werk, raai Knormoer.

  • Nou soek Knormoer net so ’n stelsel wat hy in sy ore ook kan prop. As iemand weer so aanhou mor in jou ore, jy weet . . .

’n Beemer-Benz, enigiemand?

As ’n Suid-Afrikaner is Knormoer ook al lankal gewoond aan skoknuus, van moord en roof tot treine wat afgebrand word en veroordeelde bedrieërs wat op hul laaste bene is, maar dan jare later nog fluks gholf speel.

Nou blyk dit in Duitsland begin mense wonder of Mercedes-Benz en BMW nie dalk binnekort gaan moet saamsmelt nie.

Dit nou nadat Merc pas ’n skokkende halvering in sy wins vir 2019 aangekondig het. Dis als die gevolge van die EU-wetmakers wat wil wegdoen met tradisionele binnebrandenjins.

Ons sit reeds met ’n Renault-Nissan, ’n Peugeot-Citroën-Opel en ’n Fiat-Alfa-Chrysler. ’n Beemer-Benz is straks nie so vergesog nie?

  • Knormoer weet alle T-hemde kom uit China. Karre hoef seker nie dieselfde pad te stap nie?
Meer oor:  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.