Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Einstein-oomblik’ laat Max kleitrap

Ná vier rondes in vanjaar se seisoen – die boeiendste Formule Een-reeks sedert 2012 – staan sake só: drie seges vir Mercedes se verdedigende kampioen, Lewis Hamilton; teenoor een vir Red Bull-Honda se Max Verstappen.

Onder sy drie nederlae móét Sondag se Spaanse ren die wrangste kol in die 23-jarige Hollandse kragkoeldrankie-knapie se keel laat. Want vir elkeen van die drae slae wat Hamilton aan hom in onderskeidelik Bahrein, Portugal en Sondag in Spanje uitgedeel het, was daar by laasgenoemde ook drie uit vier geleenthede waar die Red Bull-span die spreekwoordelike self-skerpgemaakte swaard aan die Mercedes-matador oorhandig het.

En hulself daarna geoffer het.

Verstappen se ondergang was die nasleep van ’n sameloop van mistastings, machismo, hubris, oorsaak en gevolg; waarvan die saadjies alreeds in Vrydag se oefenrondtes geplant is.

Daniel Ricciardo (links, McLaren) het Sondag in Barcelona een van sy beter vertonings gelewer toe hy nie net haastiger as sy spanmaat Lando Norris was nie, maar ook die haastige Red Bull van Sergio Pérez (foto) opdraande gegee het. Foto: Getty Images

Dié dag se inskerpsessies het dit laat blyk ’n enkele kuipestop sou Sondag met ’n oorskakeling na die mediumdigte Pirelli’s voldoende wees om die skuurpapieragtige Spaanse baanoppervlak te oorleef; inaggenome al die spanne se misnoeë met die hardste, stadigste bandvariant. Vervolgens het Verstappen oor die volgende twee dae sy allokasie mediumbande opgebruik sodat hy ’n enkele stel vir Sondag se wedren sou oorhê, gebaseer op die aanname dat hy Sondag slegs een keer by die kuipe sou aandoen.

Met waarneming van 2019 se ren- en weerdata (2020 se ronde is in Augustus gehou en dus nie as verteenwoordigend gesien nie) was Mercedes daarenteen minder oortuig dat ’n enkele kuipestop die knoop sou deurhak; en het ’n tweede – uiteindelik deurslaggewende – stel van die mediums op hande vir Sondag oorgehou. Net vir ingeval.

Wat is Hollands vir “wen die stryd, maar verloor die oorlog” nou weer? Verstappen, wat tweede langs Hamilton weggetrek het, het dié lessie nog duidelik nie kleingekry nie. Sy meesterlike sleurstroomduikaksie – net bondig genoeg vir die vereiste spoed om langs Hamilton op pad na die eerste draai te bou, gevolg deur ’n bullebak-verbydrukbeweging aan die Mercedes se binnekant toe hulle die eerste stel kontoere begin deurkerf, was van die YouTube-breek-gehalte.

Onwetend (en ironies) sou dieselfde aggressiewe afrokkelingsmaneuver van die voortou; en Verstappen se gevolglik versengende pas in sy verbetenheid om weg te breek van Hamilton, later sy ondergang veroorsaak. Met die Brit steeds vasgeplak in sy spieëls is Verstappen met die aanvang van die 24ste rondte by die kuipe in vir sy enigste verwagte besoek; en Hamilton vyf rondtes later – met oënskynlik dieselfde plan. En tog, gegewe Barcelona se stratosferies onmoontlike verbysteekvlak sou dié taktiek vir Hamilton wéér net agter Verstappen laat vassteek: dit sou nie deug nie.

Maar toe kom die Mercedes-strategiste se Einstein-oomblik: só warm was Verstappen se pas (en Hamilton s’n op sy hakke) dat daar ’n gaping groot genoeg agter hulle gevorm het vir laasgenoemde om nóg ’n kuipestop sonder enige bedreiging van agter te kon uitvoer – en daarna ’n eens oorhaastige Verstappen op verouderende bande rondte ná rondte soos ’n bloedhond te kon jaag en inkatrol.

Eers tóé het dit duidelik vir die gesnoekerde Red Bull geword dat ’n tweestopstrategie die enigste wenstrategie van die dag was.

Die besef van ’n fout is een ding, maar die pyniging van die vertraagde uitspeel van die gevolge oneindig erger.

Sonder die strategiese aanpasbaarheid van die beskikbaarheid van ’n tweede stel mediumdigte bande, was die eens vreeslose Verstappen nou ’n flou makou. Ongeag dat die tydsverskil tot Hamilton ná dié se kuipestop voldoende vir ’n tweede kuipe­stop van sy eie was (24 sekondes, met 22 rondtes oor), moes die vlieënde Hollander as gewonde albatros hulpeloos toekyk hoe Hamilton sy voortou hap ná hap teen bykans 1,5 sekonde per rondte verskeur; totdat hy oplaas in die sesde laaste rondte uit sy ellende verlos is.

Die laaste uit die drie beheerbare faktore binne Red Bull se beheer, was die rol – of afwesigheid – van Verstappen se spanmaat, Sergio Pérez. As dié Mexikaanse jaer binne trefafstand van die topdrie was, kon Red Bull hom strategies inspan om Hamilton óf twee keer te laat dink oor ’n tweede kuipestop óf ophou sou laasgenoemde dit hoegenaamd gedurf het. By vier uit vier van 2021 se renne was Pérez sover nog van geen hulp in Verstappen se voorpuntstryd nie, en sy kasaterwater-uitslae nagenoeg nutteloos in die horinggeklap teen Mercedes in die vervaardigerstryd.

Die Spaanse ren, wat verbasend spannend was gegewe sy reputasie vir topspoed-stoete, het wél sekere feite vasgelê. Oor een rondte staan daar nou niks tussen die Red Bull en die Mercedes nie. Eersgenoemde verhit sy bande gouer tot die optimale gebruikstemperatuur, maar hou daarna aan om hulle te kou; terwyl die Mercedes die sneller renpas geniet juis omdat hy mooier en langer na sy bande omsien. Daarom was Red Bull se vierde Spaanse les – die enigste buite hul beheer – dat hulle Sondag slegs die tweede vinnigste motor gehad het; en ’n onderspitdelwery op Mercedes se sterkste speelveld nagenoeg onafwendbaar was.

Verlede week het dit aan die lig gekom dat die Mercedes-span £325 miljoen uitgegee het aan hul vernietigende 2020-kampioenskapstriomf. Ingevolge vanjaar se verpligte begrotingsplafon móét daardie syfer krimp tot £115 miljoen.

Vir spanne soos Mercedes en Ferrari, waar hoenderkop-besteding tot die begin van vanjaar regverdigbaar was met die najaag van uitslae, behoort dié inkorting ten minste erge kopkrappery te veroorsaak; of Zupta-vlakke van boekknoeiery te noodsaak.

Ook vir Red Bull; maar bygesê sou beter bandbegroting en slimmer strategie hulle Sondag nie ’n enkele sent kos nie: dit is ’n feit soos ’n (geslagte) koei.

  • Volg die Monaco Grand Prix volgende Sondag regstreeks vanaf 15:00 op kanaal 215 op SuperSport.
  • Puntestand: 1. Lewis Hamilton (Mercedes, 94 punte), 2. Max Verstappen (Red Bull, 80), 3. Valtteri Bottas (Mercedes, 47), 4. Lando Norris (McLaren, 41), 5. Charles Leclerc (Ferrari, 40).
Meer oor:  Motors  |  Formule 1  |  Wedren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.