Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Ekskuustog?!

Met die aanwysing van Mercedes-Benz se A-klas as SA Motor van die Jaar vir 2019 het die debat oor die formaat van die kompetisie weer opgevlam. Egmont Sippel ontleed.

Vanjaar se SA Motor van die Jaar, die Mercedes-Benz A-klas, is op Kyalami en die omringende omgewing getoets.

Het jy al ooit teen Gary Player of Ernie Els gholf gespeel?

En gewen?

Nie sommer nie.

Maar daar ís ’n manier om die speelveld gelyk genoeg te maak sodat enigiemand ’n kans het: gholf se voorgee-stelsel.

Die ou met ’n 18-voorgee wat 12 oor baansyfer behaal, teken eintlik dus ’n telling van ses onder baansyfer aan en sal dus vir Gary klop as die Swart Ridder niks beter as vyf onder behaal nie. Dit nou as mnr. Player van ’n sogenaamde “skrêtsj”-voorgee af speel.

Waarmee ons dus te make het, is twee verskillende stelsels.

In die eerste – soos in die Amerikaanse Meesters – wen die man met die beste bruto-telling. In die tweede wen die man met die beste netto-telling, nadat voorgeë in berekening gebring is.

Nie een van die twee modelle is “reg” of “verkeerd” nie.

Maar mens moet vóóraf besluit watter een betrekking het, nes mens vóóraf die reëls moet vaslê.

Die groepfoto toon George Mienie en Letshego Zulu (links) wat die trofee aan Mayur Bhana en Angelique Lynch oorhandig. Letshego is die ontslape renjaer Gugu Zulu se vrou en Mienie is die hoofborg, AutoTrader, se hoofindoena.

Die gees van MvdJ-kompetisies

So. Goed. Watter soort stelsel soek ons in ’n Motor van die Jaar (MvdJ)-kompetisie: ’n voorgee-stelsel; of iets wat die Tiger Woods van karre oplewer?

Indien die tweede, sal ons daarmee vir lief moet neem dat die wenner jaar ná jaar ’n feitlik onbekostigbare duur weeldewa gaan wees.

En ja, well, no, fine, ons kan almal saam besluit dat dít ons mikpunt is: die allerbeste motor en basta met prys, bekostigbaarheid, waarde vir geld, ensovoorts.

Maar dis in’t algemeen nie die gees waarin MvdJ-kompetisies bedryf word nie. In Europa wen goedkoper, kleiner motors soos klokslag; motors wat allemansbeursies pas.

Duurder wiele wen net by uitsondering, merendeels as hulle baanbrekend is, soos 1968 se NSU Ro 80 met sy Wankel-enjin, of die afgelope dekade se drietal vol-elektriese voertuie (die Nissan Leaf, Opel Ampera en Jaguar I-Pace).

In die 55-jarige bestaan van die Europese kompetisie is nog net een Porsche as MvdJ gekies: 1978 se 928.

By ons het vier Porsches in die afgelope sewe jaar geseëvier: die Boxster, die Boxster se vastekapbroer genaamd Cayman (in S-vorm), die Macan S Diesel en die Panamera.

Vir die wêreld daar buite lyk dit of die SA MvdJ-kompetisie soos gholf se Meesters-toernooi bedryf word. Die allerbeste deelnemer wen, en wees geseën as jy ongelukkig daaroor voel.

Watter kompetisiemodel om te kies?

Vanjaar was die Porsche Cayenne boonop tweede, kort op die hakke van nog ’n relatiewe duur Duitse motor, Mercedes-Benz se A-klas.

Buiten die Benz was ander plaaslike MvdJ-wenners sedert die uitbreek van die “Porsche-era” die Opel Astra en Volvo XC90, met die Astra as enigste plaaslike wenner wat in die afgelope sewe jaar as allemanswiele kon tel.

En ja, die SA Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ) hét die reg om die aard van die kompetisie te bepaal soos hulle wil, byvoorbeeld: “Anders as alle Eerstewêreldlande, kies ons – met een en ’n halwe voet in die Derde Wêreld – net elite-wenners.”

Dit sou ’n ommekeer wees van die filosofie wat deur die jare heen gevestig is. Veral in tye toe die briljante Johann van Loggerenberg in beheer van die plaaslike kompetisie was, het die motor wat móés wen, soos klokslag gewen.

Die struktuur van die kompetisie, die opstel van die telkaart, die toetsdae en -roetes en die gehalte van beoordelaars het daarvoor gesorg.

Verrotting

Toe sterf die onvervangbare Loggies en kort voor lank het ’n verrotting ingetree, met 2011 wat sommer twee Motors van die Jaar gelewer het: die VW Polo 1.6 TDI én die BMW 530d.

Gelyk het hulle boaan die punteleer geëindig. Maar voorsorg vir ’n uitklopstem is nie getref nie. Ai.

Voorts het die Beemer ’n identiese groottotaal as die VW geklok, bloot omdat een jurielid ’n 10 uit 10 aan die 530d gegee het, en ’n 0 uit 10 aan die Polo.

Hoekom? Wel, ons kan net raai. Maar BMW hét verwoed in die betrokke jurielid se tydskrif geadverteer, en VW nie . . .

Was daar ’n meganisme om die betrokke punt as ongeldig te verklaar? Ongelukkig nie. Is daar nog steeds vrot kolle in die stelsel? Ongelukkig ja.

Kompleks

Moet egter nie alte verbaas wees nie. Dis ’n besonder komplekse affêre om ’n agt- of tien- of 12-stuks motors van verskillende groottes en enjinkapasiteite en vermoëns, almal met uiteenlopende nuttighede en ontwerpe en pryse, in een mandjie saam te gooi en sinvol te beoordeel.

Om die taak te vergemaklik, het daar oor die afgelope klompie jare ’n siening ontwikkel dat finalismotors nie teen mekáár opgeweeg moet word nie, maar teen segmentteenstanders.

Nie dat dit nou maklik is om ’n (goeie) beoordelaar te wees nie. Deesdae verwag die Gildekomitee van jurielede om hul beoordeling in ’n baie kort tydjie aan die einde van die kompetisie op ’n elektroniese tablet te voltooi, en dit met ’n beperking op die getal agts, neges en tiens wat elke beoordelaar mag toeken – wat ’n kopseer kan raak, veral as die horlosie tik.

Maar dis alles strukturele ankers om die enkels wat maklik in die toekoms afgesny kan word.

Die groter uitdagings het betrekking op die keuse tussen ’n Meesters- en ’n voorgeestelsel; ’n elite-kompetisie of nie.

Die bekostigbaarheidsbeginsel

Van borge se kant was daar die laaste paar jaar groot druk om die beoordelingsproses met “objektiewer” kategorieë te laai, by name voertuigpryse en -verkoopsgetalle.

Rapport se motorredakteur het hard vir die beginsel van bekostigbaarheid baklei. Gebruik byvoorbeeld die afgelope dekade se uitslae, kies klein en goedkoop motors wat – in hul segmente – net sulke waardige wenners soos groot en duur motors in húl segmente sou wees, en werk die gemiddelde “voorgee” uit waarmee pikkies die speelveld sou moes betree om ’n gelyke kans teen die reuse te staan.

Tot dusver het die Gilde, nieteenstaande borgskapsdruk, eintlik maar min gedoen om ’n siening van hierdie aard te vestig. Sofistiese drogredenasies wou dit byvoorbeeld hê dat ’n Porsche net so bekostigbaar vir die ryk ou is as ’n Suzuki vir die armer man.

Op hierdie manier het die konsep van “uitmuntendheid” almaardeur hoogty gevier.

En wat is uitmuntender: ’n Cayenne of ’n Swift?

MvdJ versus Restaurant van die Jaar

Om bekostigbaarheid, of dan prys, as ’n allerrelevante beoordelingskriterium te ontken, is allerhande argumente gebruik om weeldewa-keuses te regverdig.

Die MvdJ-kompetisie, reken sommige, is presies soos ’n Restaurant- of Wyn van die Jaar-toekenning. Die allerbeste restaurant of wyn wen. Ergo: Die allerbeste motor moet wen.

Heelparty Jan Allemans kan egter die nodige geld uitkrap om hulself en hul families ’n slag of wat per jaar in ’n toprestaurant te trakteer, selfs met ’n snêzzie bottel wyn daarby, terwyl bitter min mense ooit die beste kar kan koop, al word hulle ’n eeu oud.

’n Motor is nie net ’n genieting, soos ’n restaurant-ete of ’n bottel wyn wat in een enkele aand verorber word en dan’s dit geskiedenis nie. ’n Motor is ook ’n belegging, en in baie gevalle ’n noodsaaklikheid, wat jare lank diens moet doen.

Om nou jaar in en jaar uit eksotiese wiele as wenners aan te wys, sou die breëre motorpubliek uiteindelik vervreem.

Goed, daar is die aspirerende aspek van droommotors. Nou en dan sal dit in orde wees om ’n Porsche te kies, soos die 928 in 1978 in Europa, of die Panamera in 2018 in SA.

Hoe minder dit gebeur, hoe meer is so ’n elite-sege ieder geval werd.

Maar om tweedeursportmotors soos die Boxster (2013) en die Cayman S (2014) te kies, veral as die BMW 3-reeks, die VW Golf en die Audi A3 teenstanders was, is onsinnig. Meer nog. Dis moeilikheid soek, veral as die reaksie op die probleem – van “ons kies, nes restaurant en wynbeoordelaars, net die aller-uitmuntendste” so stadig is soos die Gilde s’n oor die laaste paar jaar was.

Strafpunte vir opsionele ekstras

In 2019 was daar ander gramadoelas ook, soos onvoorsiene ontwikkelinge wat die herstrukturering van die Gilde se topstruktuur genoop het, met bitter min tyd oor om vanjaar se MvdJ-kompetisie te kon reël. Hoede af. Dit het bloedsweet gekos, maar dis gedoen, al was dit teleurstellend dat BMW en VW deelname van die hand sou wys. BMW eis dat die diversiteit van ons motormark beter deur MvdJ gereflekteer word.

Die Gilde sê die twee maatskappye was ongelukkig dat hulle in die verlede al te kwaai gestraf is vir ekstra toerusting op hul finalisvoertuie. En ja, dis werklik neusie verby as ’n wa strafpunte op die lyf loop, soos BMW se 3-reeks in 2013. Hy moes maklik gewen het, daai Drie. Maar toe lui die Boxster die “Porsche-era” in.

Hoe dus om motors te beoordeel wat met opsionele ekstras vir MvdJ-toetsdae opdaag?

Maklik. Nie met strafpunte nie, maar aan die hand van die prys van die duurste individuele toetseenheid (uit drie) wat deur die betrokke vervaardiger verskaf word. ’n Wa met ’n basisprys van R500 000 – plus R100 000 se ekstras – word dus as ’n motor van R600 000 beoordeel, finish en klaar.

Maar die Gilde wou nog nooit aan hierdie voorstel byt wat al herhaaldelik deur Rapport se motorredakteur ter tafel gelê is nie. Strafpunte moet dit wees.

Die gevolg? Geen BMW of VW in vanjaar se kompetisie nie.

En dis bisar, veral daar die hindernis so maklik uit die weg geruim kan word.

Positiewe en negatiewe gapings

Eintlik sou daar ook geen Mercedes in vanjaar se kompetisie gewees het nie. Benz weier wêreldwyd, volgens die Gilde, om aan MvdJ-kompetisies deel te neem.

Die organiseerders van SA MvdJ 2019 het egter drie Merc A250’s van ’n handelaar verkry en siedaar: ’n motor wat nie eens sou deelneem nie, word gekroon!

Nou’s die vraag of die Merc verdien het om te wen?

Wel, daar ís daai reël waarna reeds verwys is, dat beoordelaars finalismotors teen segmentteenstanders moet vergelyk. Die finalis wat dan die grootste gaping tot segmentmededingers ooprek, voldoen ten beste aan die vereiste van “motor-uitmuntendheid” en wen die kompetisie.

Nou’s dit ook so dat daar geen positiewe gaping tussen vanjaar se wenner, die Benz A-klas, en sy vernaamste segmentteenstanders is nie.

Om die waarheid te sê, registreer die A250 (R597 000) ’n duidelike agterstand teenoor VW se Golf GTI (R558 000), en nie net omdat hy R40 000 duurder is nie. CAR-tydskrif plaas selfs die Renault Mégane RS 280 óók bo die Benz.

En dís die ontstellende aspek van die A-klas-sege, dat hy nie eens ’n segmentleier is nie.

Ladings en gewigte

Hoe het dit gebeur?

Nugter weet, maar mens kan raai. Jurielede het die reël verontagsaam. Of swak geoordeel. Of ’n fout is in die ouditproses begaan. Enige van die drie, of al drie, is moontlik.

En ná die Gilde se Desember-opskudding het sekere nuwe komiteelede hulself dalk in belangeposisies bevind – of ingewurm – wat nie deur goeie ervaring in die motorjoernalistiek gerugsteun is nie, wat moontlik tot foute in stelselgebruik kon lei.

Want in ’n geveg op gelyke grond – selfs al was die Benz ’n klasbeste – sou die A-klas onmoontlik die Volvo XC40, Porsche Cayenne, Suzuki Swift of selfs die Honda Civic Type R kon klop nie.

Daarvoor is die Merc, goeie motor wat hy is, net te gekompromitteer. Selfs die stelsel is moontlik gekompromitteer. Nieteenstaande uiters spesifieke vrae oor die lading of gewig wat toegeken is aan elke beoordelingskategorie (soos enjin, ratkas, bougehalte, tegnologie, ontwerp, rit, hantering en dies meer), kon onsnet vae antwoorde kry en geen spesifieke syfers nie.

Ditto vir die lading van sogenaamde “objektiewe” kategorieë, soos bekostigbaarheid/prys, verkoopsgetalle en – volgens die komitee – waarde vir geld.

Ons sou laasgenoemde as ’n subjektiewe kategorie beskou, maar nou ja.

Die tellings, terloops, is deur Karum Haripersad geoudit.

Openbare deelname

Een van die groot vrae was of die publiek se stem in die finale ronde getel het, wat wel die geval met semifinalis-aanwysings was.

Huh? Het die openbare mening nou wraggies ’n invloed op ’n kompetisie wat veronderstel is om deur professionele mense beoordeel te word?

Inderdaad, ja. Maar solank dit tot die aanwysing van semifinaliste beperk word, is dit seker in orde, synde dat die hoofborg – in hierdie geval AutoTrader – daarop aandring.

Gelukkig word die publiek se stem nie vir die aanwysing van ’n wenmotor in ag geneem nie, maar vir die rekord: die publiek het óók vir die Benz gestem.

Wat mens laat wonder hoe sulke keuses geskape word? Hoeveel van die 55 000 mense wat gestem het, het al die hele finalis-katoetie bestuur, laat staan nog waarlik toets? Hoeveel het al selfs net ’n enkele finaliswa bestuur?

En hoeveel van dié wat vir die Merc gestem het, het al hoegenaamd in een gesit?

Wat word dus as rigsnoer gebruik, as mense vir motors stem waaraan hulle perdalks nog nooit eens geraak het nie? Voorkoms? Begeerlikheid? Handelsmerk-affiliasie?

Gevolgtrekking

Hoe ook al, dit is belangrik dat die publiek die uitslag aanvaar, wat net sal gebeur as die kompetisie ’n deurdagte proses weerspieël.

Vir hierdie doel is dit, volgens Rapport se motorredakteur, nie net van uiterste belang dat die Gilde ’n voorgee-formule vind waarmee die MvdJ-speelveld gelyk gemaak word nie, maar dat einste formule – plus alle kriteria, kategorieë en ladings wat daarmee gepaard gaan – syferpresies en deursigtig moet wees.

Uiteindelik moet die keuse van wenners deur grondige metodiek en rasionele ontleding eerder as vae mumbo-jumbo ondersteun word.

Lesse is dus te leer, want gooi al bo­staande bymekaar en vanjaar se regte wenner sou die Volvo XC40 gewees het, finish en klaar.

Meer oor:  Mercedes-Benz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.