Mercedes se opwindende eerste proesel van die massa-e-voertuigsegment, sy nuwe EQA, is pas oorsee internasionaal bekend gestel, maar jy gaan hom dalk nooit hier te sien kry nie. En hiervoor kan jy ’n hopelose ekonomie en pap rand blameer.
In stede wag Mercedes Suid-Afrika op die volgende e-model uit Stuttgart, die groter-lyf-EQC, wat later vanjaar sy opwagting sal maak.
Dis ’n jammerte, want die klein, stadsvriendelike EQA sou nommerpas vir Suid-Afrika se tipiese pendel-rystyl gewees het. Weens die swak rand maak dit egter nie sin om ’n stadsmotor teen ’n peperduur prys hier te posisioneer nie. Kopers gaan net wegdraai. Kopers het wel ’n groter aptyt vir dié tipe e-voertuie in die volgende, duurder klas van klein sedans en sportnutse – waarin die EQC wel sal meeding.
In Europa is Mercedes egter heel opgewonde oor die kanse van sy klein EQA (waar hy teen Volkswagen se ID.1 gaan meeding). Mercedes bemark die EQA teen €47 540, wat omtrent in die prysklas van ’n gewone C-klas is. Duurder dus as ander luikrûe, maar nie absurd duur soos die R1 miljoen wat hy hier sou kos nie.

Die klein EQA is Mercedes se eerste e-voertuig vir die massamark en is gerig op jong kopers wat in stede pendel.

Die kajuit is skoon met min fieterjasies. Die inligtingstelsel werk met stembevele.
Voorlopig is die EQA slegs as ’n middelslag-EQA250 te kry, maar ’n kragtiger model met 4x4-vastrap is later op pad, sowel as ’n langafstand-weergawe wat ’n reikafstand van meer as 500 km sal bied.
Die huidige EQA250 het ’n kraglewering van 140 kW en ’n reikafstand van 480 km. Meer batterye beteken ’n langer reikafstand, maar dit jaag ook weer die prys drasties op.
Mercedes se ingenieurs het heelwat moeite gedoen om die klein luikrug so glibberig as moontlik te maak. Die vloerpan onder die voertuig is heeltemal plat met geen openinge behalwe by die wiele nie. Die aërodinamika is ook ten volle digitaal met die hulp van rekenaars ontwerp. Lugvloei bo-oor, onderdeur en weerskante om die voertuig is met die hulp van skermpanele geoptimaliseer, en die wieldoppe is soos in die 1980’s mooi, plat skywe.
Saam met jou EQA sal jy ’n slim app op jou foon kry wat jou wys waar is 450 000 herlaaistasies oor Europa heen. Die roete-soek-funksie is nou ook so opgestel om jou via herlaaipunte te neem na jou bestemming. Die verwagte aankomstyd sal ook jou herlaaityd in ag neem.
Binne bied die EQA Mercedes se MBUX-stelsel wat al jou nutsfunksies huisves, en wat jy met stembevele kan oproep en aktiveer. Elke bevel begin jy deur “Hei, Mercedes!” te sê.