Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
EU speel hoofseun oor gas-syfers

Knormoer sien Volkswagen se grootse e-projek het op die vooraand van sy afskop ’n stewige terugslag ontvang.

Die gesaghebbende Auto Motor und Sport het pas in ’n ry-indruk geskryf die ID.3 wat hy onder hande gehad het, het talle foute gehad. Trouens, die voertuig is eintlik teleurstellend, sê die joernaliste. ’n Veel swakker voertuig as waaraan ’n mens van VW gewoond is.

Die ID.3 is Volkswagen se eerste massaproduksie-e-voertuig. So belangrik ag die Duitse reus die koms van die nuwe ID.3, dat hy dit as die Golf van die toekoms bestempel het. Trouens, dis ook waarna sy naam verwys: Die Kewer was die eerste groot gesinsmotor, die Golf die tweede, en nou die ID.3, die derde golf van massaproduksie-gesinsvoertuie, vir ’n ieder en elk.

Die vervaardiger het ’n pre-produksiemodel aan die tydskrif geleen. Nieteenstaande is die foute wat hulle raakgesien het, nogal verrassend. Die deurpanele was oneweredig. Die vermaakstelsel het lank geneem om aan te skakel. Die satnav-stelsel wou nie altyd werk nie. Selfs die onderkant van die enjinkap “het gelyk asof dit met ’n blik spuitverf beetgekry is”.

Nou ja, hierdie nagmerrie van die ontwerpkantoor is die Citroën Ami, hul jongste e-stadsmotor. Kompak? Perfek. Maar, um, waar’s die voorkant?

Van die rit het die tydskrif gesê die aandryfstelsel is opsigself heel bekwaam, maar dat die reikafstand slegs 360 km was.

VW het hoë ideale vir die ID.3, en die res van die e-voertuie wat op sy hakke gaan volg. Ons gaan wel nie die ID.3 kry nie, maar tog die ID.4, wat die sportnuts-weergawe is. VW beplan om ’n massiewe 1,5 miljoen e-voertuie oor vyf jaar te bou, en 29 verskillende e-modelle in sy portefeulje te hê teen 2029.

Maar dan sal hy sy sokkies moet optrek wat gehaltebeheer betref.

  • Dit lyk of die oorgang na die e-landskap die tradisionele vervaardigers meer onkant gevang het as wat ’n mens sou verwag.

Intussen, in Brussel

Terwyl Volkswagen – die wêreld se grootste motorvervaardiger – kennelik sukkel om die nuwe landskap van e-voertuie onder die knie te kry, het die Europese Unie pas die skroewe nog stywer vasgedraai met strenger wetgewing.

Die EU het van vandeesweek af die mag om voertuie se padwaardigheidsertifikate op te skort en selfs ’n hele reeks voertuie terug te roep sou dit bevind die modelreeks voldoen nie aan uitlaatgas-wetgewing nie.

In die verlede was die onus op lidlande self om die nodige uitlaattoetse op voertuie te doen, en op die gepaste strawwe te besluit. Met die jongste wetgewing kan die EU-parlement egter self direk ingryp. Vir so ’n stap om teen ’n vervaardiger of modelreeks op te tree, is al 27 die lidlande se toestemming ook nie meer nodig nie. Slegs ’n meerderheid stemme is nou nodig. Dit beteken dat die groot nywerheidslande soos Duitsland, Italië en Frankryk wat groot vervaardigingsnodusse is en wie se ekonomieë swaar op vervaardiging steun, sulke besluite nie meer kan veto nie.

Die EU het vir dié onthalwe reeds 7 miljoen opsygesit om twee nuwe toetslaboratoriums te bou.

Die bestryding van omgewingsbesoedeling en die kweekhuis-effek is fantasties.

  • Knormoer wonder net of die gans wat die goue eiers lê in Europa, nie nou deur oorgretigheid nek-om gedraai word nie.

Pandemie? Watter pandemie?

Knormoer is verlig om te sien in die rooswasige wêreld van die superrykes gaan dinge steeds dooddollies aan. Covid-19-pandemie of te nie.

Rolls-Royce het pas bekend gemaak sy verkope het in Junie, Julie en Augustus sommer vet gestaan. Amerika, Asië, Europa – al die belangrikste markte het naarstiglik na hul geliefkoosde rygoed by die Rolls-handelaar gaan soek.

  • Dis mooi, kêrels. Onthou ook die sy-gesigmasker as jy inklim. #doenditvirdieresvanons
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.