Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Europa kafgedraf in ’n MX-5

Hoe gemaak as die verlange na jou Mazda MX-5 in Suid-Afrika te groot raak? André Stemmet, woonagtig in Den Haag, het met ’n “nuwe” MX-5 op toer deur Frankryk gegaan.

Die Mazda MX-5 by die Delvillebos-gedenkteken in Frankryk. Foto: André Stemmet

My eerste kennismaking met ’n Mazda MX-5 was ’n paar jaar gelede in Suid-Afrika: ’n posbusrooi eerste-generasie NA waarmee ons aan die Pretoria-Maputo tydren deelgeneem het.

Die tydren het by die ou Maputo-renbaan klaargemaak, waar vele van die 1970’s se bekende renjaers destyds gejaag het. Name soos ons eie Formule 1-wêreldkampioen Jody Scheck­ter, Mike Hailwood en Helmut Marko, deesdae adviseur van die Red Bull F1-span en mentor van Max Verstappen, was bekende gesigte hier.

Die baan het sedertdien in onbruik verval, maar vervalle kuipe bied altyd ’n goeie agtergrond vir ’n atmosferiese foto.

Ek is later na die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag oorgeplaas, waar ek onlangs die kans benut het om weer ’n langpad-toer met ’n MX-5 aan te pak. ’n Pelgrimstog, kan jy maar sê, weer na die vervalle oorblyfsels van ’n renbaan. Dié keer was dit die Reims-renbaan, in die suide van Frankryk. My ryding, ’n 1990 tweedegenerasie-MX-5 in donkergroen.

Ek het die Donderdagmôre vroeg in die pad geval, die mikpunt Bastogne in die Belgiese Ardenne, via die Zolder-renbaan in België, en gelei deur die GPS wat ek “Suzie” gedoop het. Zolder was in die 1970’s die tuiste van die Belgiese Grand Prix.

Hierna, op die pad deur die woude na La Roche, slinger ons deur die berge. Die vering gee terugvoer aan die bestuurder, die ratwisseling is seepglad, die toereteller boer tussen 4 000 en 5 000 en die uitlaat maak musiek.

Veels te gou is ek in La Roche. Die skilderagtige dorp tussen die berge waaroor ’n Middeleeuse kasteel waghou, is feitlik totaal vernietig met die Ardenne-offensief van 1944 tydens gevegte tussen Duitse en Amerikaanse magte. Die klein maar uitstekende oorlogsmuseum is ongelukkig reeds gesluit.

Die volgende oggend is dit sonnig en Suzie gedra haar beter. ’n Besige program lê voor. Eerste op die agenda is ’n besoek aan die Bastogne-museum wat die veldslag om die Ardenne uitbeeld. Maar die tema van vrede is ook aanwesig: By die ingang begroet ’n uitstalling deur Duitse kunstenaars ’n mens: “Art Liberty: From the Berlin Wall to Street Art.” Dit gedenk die 75ste herdenking van die Ardenneslag asook die 30ste herdenking van die val van die Berlynse Muur, en ’n aantal Trabants beskilder met vredesmotiewe maak deel daarvan uit.

’n Pelgrimstog, kan jy maar sê, weer na die vervalle oorblyfsels van ’n renbaan.

Maar die tyd stap aan en ek val in die pad met my bestemming die “Circuit de Reims”, tuiste van die Franse Formule 1-Grand Prix tot 1966. Die grootste deel van die baan, wat in 1972 finaal gesluit is, het bestaan uit openbare paaie, en ek mik na die D27, die hoofpylvak. Die kuipe, hoofpaviljoen en tydhouerslosie is gevries in die 1970’s: Krummelende beton en afskilferende verf herinner aan die ou Maputo-baan.

Ek parkeer die MX-5 voor die kuipe vir ’n fotosessie, waar die Bugatti’s, Ferrari’s, Alfa Alfettas en Maserati’s van weleer oliekolle agtergelaat het. Die vernaamste renjaers van die vorige eeu het hier gejaag en gewen. Dis name soos Chiron, Wi­mille, prins Bira, Ascari, Fangio, Moss, Brabham, McLaren, Clark, Rindt, Stewart.

Die titaniese stryd tussen die Brit Mike Hawthorn (Ferrari) en Juan Manuel Fangio van Argentinië in ’n Maserati tydens die 1953 Franse Grand Prix word steeds beskou as een van die opwindendste Grands Prix ooit.

Die ou Franse renbaan by Reims, waar die pylvak vandag ’n gewone deurpad is. Foto: André Stemmet

Hierna mik ek wes na die volgende bestemming, Compiègne, noord van Parys. Sowel die Duitse oorgawe aan die Geallieerdes in 1918 as die Franse oorgawe aan Duitsland in 1940 is hier onderhandel en onderteken, op Hitler se aandrang in dieselfde treinwa om die Duitse vernedering van 1918 te wreek.

Die oorspronklike wa, 2419D, is later in die oorlog vernietig maar ’n replika is die fokuspunt van die klein museum. Maar die simboliek van vrede is vandag ook hier aanwesig: Die Duitse kanselier, Angela Merkel, en die Franse president, Emmanuel Macron, het op 11 November 2018 hier hande vasgehou tydens die honderdste herdenking van die beëindiging van die Eerste Wêreldoorlog.

Ek oornag naby Longueval, en Saterdagoggend is ek vroeg uit die vere op pad na die Suid-Afrikaanse monument net buite die dorp wat die Slag van Delvillebos herdenk. Tydens die Geallieerde offensief in die Somme in 1916 is die 1ste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade, as deel van die 9de Skotse Divisie, deur die Britse bevelhebbers gestuur om die strategies geleë bos “tot elke prys” teen die Duitsers te verdedig.

In bloedige gevegte is die bos totaal vernietig, en van die 3 153 soldate van die brigade wat op 15 Julie die bos ingestuur is, was slegs 780 ongedeerd toe die Suid-Afrikaners op 19 Julie onttrek is.

Slegs een boom het staande gebly.

Sedertdien is die bos herplant, onder meer met jong boompies uit Suid-Afrika.

Vandag is dit ’n stil en vredige plek. In die middel is die Suid-Afrikaanse gedenkteken en museum, gebou in die vorm van die Kasteel in Kaapstad.

Ek talm by die grafte van ’n paar Suid-Afrikaanse soldate in die militêre begraafplaas oorkant die monument, voor ek die MX-5 se neus terug stuur Den Haag toe, waar die afstandmeter 1 265 km aandui: ’n onvergeetlike reis in ’n ikoniese sportmotor.

Meer oor:  Frankryk  |  Europa  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.