Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
F1: Talle vrae ná Max se tol

Kaboem: Sondag se Britse Grand Prix sal onthou word as die dag wat die vonk in die kruitvat beland het. Die klimaks toe die ridder-rymkletser sir Lewis Hamilton se swartgeverfde Silwer Pyl terugveg en die pronkende bul van Max Verstappen in die kokende 2021-titeltweestryd geslag het.

Lewis Hamilton (Mercedes, regs) se voorwiel maak rakelings kontak met die agterwiel van Max Verstappen se Red Bull – en stuur die Hollander al tollende oor die gruis en in die bandemuur vas. Hamilton het voortgegaan en Sondag se Britse Grand Prix gewen. Foto: Reuters

Die Bulle se punteplaas is aan flarde geblaas nadat Verstappen as kroonprins ná vermybare kontak met Hamilton op dramatiese wyse teen nagenoeg 300 km/h van die baan gestamp is, en die veiligheidsmuur met ’n impak van 51 keer meer as gravitasiekrag getref het. Die gevolg? ’n Stukkende hart vir Verstappen en ’n gekraakte velling vir Hamilton.

Danksy F1 se beheerliggaam, die FIA, se meedoënlose werksaamhede om enkelsitplek-renmotors te beveilig, was Verstappen benewens effense harsingskudding byna heeltemal ongedeerd. Twintig jaar gelede sou sy ongeluk berugtheid verwerf het saam met YouTube se gruste Isis-onthoofdingsvideo’s. In stede is hy Sondagaand om 22:00 uit die hospitaal ontslaan.

Die wedren is gestop sodat die spermuur herstel kon word; en het die noodlot Hamilton vanjaar vir die tweede keer begenadig deurdat sy motor tydens die afsaaltydperk herstel kon word (en teen jaareinde hipoteties ’n verreikende invloed op die puntestand kan hê). Nieteenstaande ’n tiensekonde-tydboete; en afwesige noemenswaardige opposisie, was sy agtste Silverstone-sege ’n onbevredigende formaliteit; aangejou deur ’n skuimende see poloniepienk Britte en skaamteloos bevooroordeelde kommentators.

Wat aan die een kant nuwe lewe in vanjaar se titelstryd blaas, maar aan die ander kant ook sy gevolglike reaksie in ’n donker lig plaas.

Dié verskynsel – en die Verstappen-ongeluk – vereis konteks. Mercedes kwyn weg in die titelstryd teen Red Bull. Die Britse jaer kon ses renne laas ’n wedren wen en Red Bull almal daaropvolgend. Die Silwer Pyle is vanjaar afgestomp deur aërodinamiese beperkings asook die spaarvarkiestryd tussen 2021 en 2022 se ontwikkelingsprogramme.

Toe volg Silverstone, die wêreld se grootste sportbyeenkoms sedert die Covid-19-uitbreking van 2020, met 338 000 besoekers wat tussen Vrydag en Sondag deur Silverstone se hekke gestroom het om hul tuisheld by ’n Mercedes-vesting te sien seëvier. Daarso sou die W12 verskyn met 2021 se finale sarsie verbeteringe om die steeds sneller RB16B te probeer inhaal; en ten spyte van sy faux Amerikaanse aksent het Hamilton die druk gevoel om nie sy lojale landgenote teleur te stel nie. Waar hy lankal nie meer bly nie.

Ná ’n drag slae in die vorige dag se kwalifiseringsren, het Hamilton gewéét die openingsrondte sal sy enigste kans bied om verby die vlieënde Hollander te du. Met die wegspring is die handgranaat se pennetjie uitgeruk voordat 2021 se mees omstrede oomblik ontplof het.

Ná genoeg kykweers om jou SuperSport-veldore te smelt, blyk dit dat Verstappen genoeg plek vir Hamilton aan die binnekant van die blitsige Copse-draai gelos het om sy lompe verbydrukmaneuver te voltooi. Ter verswaring was Hamilton se trajek verkeerd, en nie na genoeg aan die binnekant van die draai waar daar spasie was nie; en hom gevolglik aldus die amptenary “hoofsaaklik verantwoordelik” vir die kontak met Verstappen gemaak het.

Eerlikwaar doen dit nie . . . Ons het die punte nodig. Hy het ’n gaping gelos. Toe vat ek dit.

Sy voorgee dat hy “langs Verstappen was” is verdag, want waarom het sy linkervoorwiel dan net Verstappen se regter­agterwiel getref?

Bygesê – en ongeag die rol van Verstappen se selfbeheersingstekort in sy eie ondergang, was dié Silverstone-insident geensins die eerste geval van swaardkruisery tussen dié twee gladiators nie.

Die rammetjie-uitnek Kaaskop se reputasie is immers gegiet om sy veglustigheid; en by die eerste rondtes van die Imola- sowel as by die Barcelona-ren was Hamilton die een wat vanjaar onder die selfversekerde Hollander se dom­astrantheid deurgeloop het. Met niks om te verloor nie, het Hamilton sy voet by Silverstone neergesit.

Die grys halmpie tussen aggressie en roekeloosheid wat in ewewig gehou word deur oordeel en oorlewingsdrang is oor tyd té dun geskaaf; en het die drukpot eindelik dog voorspelbaar oorgekook.

Hamilton se hoenderkopviering van sy sege en reaksie op Verstappen se opname in die hospitaal was verwag onvanpas. Toe hy deur die media gepols is of Verstappen se beserings enigsins ’n demper op sy wenvreugde plaas, het hy geantwoord, “Eerlikwaar doen dit nie . . . Ons het die punte nodig. Hy het ’n gaping gelos. Toe vat ek dit.”

(Dit herinner nogal aan sy kinderheld, Ayrton Senna, se gesegde van “as daar ’n gaping bestaan en jy vat dit nie, is jy nie meer ’n renjaer nie”.)

Die Mercedes-jaer, wat sy Red Bull-aartsvyand se voorsprong tot agt punte versnipper het, se gebrekkige empatie is egter nie al wrang smaak wat die Silver­stone-naweek benewens louwarm bier en gissende vis en skyfies in die mond gelaat het nie. Sy tien­sekonde-straftyd was blote lippediens aangesien hy die ren nogtans kafgedraf het.

Die FIA kap terug en sê dat die uitkoms van ’n skermutseling nie in ag geneem word tydens vonnisoplegging nie, en sulke oortredings deurlopend ’n standaardstraf van vyf of tien sekondes ontvang.

Watter presedent skep dit? Beboet jy ’n miljardêr of stuur jy hom tronk toe waar hy sy straf kan vóél?

In ’n ongekende jaar waar elke sent twee keer omgedraai word, is die gewigtigste oorblywende vraagstuk oor hoeveel duwweltjies die herstel van Verstappen se wrak op Red Bull se ontwikkelingskurwe vorentoe gaan saai.

Terwyl Mercedes se skietgoed nou op is en die W12 darem nou meer vergelykbaar teenoor die RB16B vertoon, voel ’n mens Red Bull se vasberadenheid om nog verbeteringe aan die motor te bring ten einde ordentlik biltong van Mercedes te maak, nou net nóg vuriger as tevore brand.

Gal en wraak het geen gelyke nie: die titelstryd is nou ’n voldonge wilstryd.

  • Volg die Hongaarse Grand Prix aanstaande Sondag (1 Augustus) vanaf 15:00 regstreeks op kanaal 215 op SuperSport.
Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Grand Prix  |  Formule Een  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.