Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ferrari gly in ‘eie’ tifoon

Asof dit reeds nie moeilik genoeg is om opgewonde te raak oor vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi nie – hoofsaaklik vanweë Japan se drink-en-braai-onvriendelike tydsverskille teenoor Bellville en Danville, is sportaktiwiteite in dié gasheerland verlede naweek nog verder bedreig deur die tifoon Hagibis.

Ook by die Suzuka-renbaan. Só erg is daar gevrees vir die verwoesting wat die storm kon saai, dat daar besluit is om Saterdagmiddag se tradisionele kwalifiseringstydgleuf te verskuif tot die volgende oggend toe, enkele ure voor die Grand Prix.

Charles Leclerc se Ferrari laat die vonke op die verkeerde manier spat ná sy botsing met Max Verstappen tydens Sondag se Japanse Grand Prix. Foto: AP

Maar teen Sondagoggend was die tergende tierasem in die turboaanjaers van die twee Ferrari’s die enigste oorblywende teken van die tifoon.

Dit is toe Sebastian Vettel onder ’n persblou horison Ferrari se vyfde opeenvolgende vinnigste wegspringplek van die jaar los­gejaag het, met sy spanmaat, Charles Leclerc, langs hom en die Mercedesse van Valtteri Bottas en Lewis Hamilton ná hulle.

Sedert 2014 is Mercedes onoorwonne op Suzuka, maar Ferrari se aspirasie om die Stuttgartse monopolie te beëindig, is sekondes voor die resies begin het soos ’n strooihuisie voor ’n sikloon platgevee.

Vettel het sy SF90 voortydig tydens die wegtrekprosedure op die afdraande-pylvak vorentoe laat kruip en dadelik ankers gegooi uit vrees dat hy vir ’n oorhaastige wegspring gestraf sou word.

Dié verlies aan momentum het hom te min tyd toegelaat om die enjin weer genoeg toere te voer – waarna Bottas, met ’n perfekte wegkoms buite-om Vettel, van derde tot eerste gebokspring het.

Laasgenoemde was kennelik gelukkig om sy tweede plek te kon behou, maar Leclerc se lot was vrotter as ’n verkoolde lewer-skilpadjie.

Sy aarseling by die aanskouing van die chaos rondom Vettel het die Red Bull van Max Verstappen kans gegun om ook aan sý buitekant te probeer verbydruk.

Die kombinasie van ’n vernouende radius van Suzuka se eerste draai, onderverhitte bande en die tydelike verlies van afwaartse druk oor sy voorvlerk nadat Verstappen voor hom ingedruk het, was soos seepskuim onder die Pronkende Hings se hoewe en het sy snoet in ’n horing omskep, waarna hy die Honda-aangedrewe Red Bull voor sy tuisskare van die baan gegaffel het.

Leclerc het daarna voortgestoom terwyl sy skawende voorvlerk ’n see van vonke oor die baanoppervlak gestort het.

Ondanks sy skade het Leclerc mededingende rondtetye gelewer en aangedring om sy gevolglike kuipestop om die skade te herstel so lank moontlik (en vir Hamilton agter hom) uit te stel, maar ná ’n vingerwysery deur beamptes van die beheerliggaam vir die Ferrari-span, moes hy eindelik gehoor gee.

Leclerc het sy pad van laaste tot die sewende plek oopgeveg nadat hy met 15 sekondes gestraf is – vyf sekondes vir sy botsing met Verstappen en tien sekondes vir sy koppigheid.

Intussen het ’n kat-en-muis- spel tussen die tinfoelie-perdevleispakkie van Bottas, Vettel en Hamilton uitgespeel; met ’n briesende Hamilton as die poedelpryswenner, aanvanklik oortuig dat ’n enkele kuipestop voldoende sou wees om verby albei motors voor hom, wat elk twee kuipestoppe uitgevoer het, te kan kom.

Hy het egter die skoonmaakeffek wat die voorafgaande stormreën op die baanoppervlak gehad het en wat bandslytasie aansienlik vererger het, onderskat en is later ook oplaas vir ’n tweede keer kuipe toe, maar kon steeds nie verby Vettel kom nie.

Hul teëspoed in Japan het Vettel, Leclerc en Verstappen se onderskeidelike vooruitsigte om vanjaar as jaerskampioen gekroon te kan word, nekomgedraai, wat beteken dat slegs een van die Mercedes-jaers wêreldkampioen kan word.

Mercedes se bene was langer as Ferrari s’n in die resies (teenoor hul korter kwalifiseringsasem) en saam met beter bandgebruik en die moontlikheid dat hulle vir Bottas en Hamilton op verskillende renstrategieë kon sit om Vettel se vordering te vertraag, was die Ferrari-jaer tevrede dat sy tweede plek soos die eerste prys was.

Bottas se sege – sy eerste sedert Azerbeidjan in April – het sy puntetekort agter Hamilton tot 64 punte verminder.

Ongeag dat die verkeerde Mercedes-jaer die boonste podiumtrap bestyg het, het die span die geskiedenis herskryf deur die vervaardigers- sowel as die jaerskampioenskap vir die sesde opeenvolgende jaar te wen.

Dié prestasie het ’n uitsonderlike hol klank in 2019, want met die uitsondering van 2014, was vanjaar die jaar waarin Mercedes dié dubbele kroon met die minste teenstand verower het.

Maar in 2019 was daar geen, want die kampioenskap is ontvang op ’n skinkbord belyn met teleurstellende, maar metronomiese onderprestasie en strategiese voetskietery van Ferrari en tot ’n mindere mate van Red Bull.

Uit dié ongemaklikheid is daar hope lesse te leer, maar ook is daar geen pil wat bitterder is om te sluk nie as die wete dat die laaste twee renne deur Mercedesse gewen is op dae toe die Ferrari’s heel voor weggetrek het.

En dat daar les bes eers iets sterker as ’n tifoon van veran- dering deur Ferrari sal moet ruk voordat hulle weer kan droom van aanspraak op ’n wêreldtitel.

  • Die Mexikaanse ren vind op 27 Oktober plaas.
Meer oor:  Renjaag  |  Grand Prix  |  Motors  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.