Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fiat en Peugeot wil afhaak, maar nog jawoorde kort

Europese owerhede se ystergreep op uitlaatgasse en binnebrand­enjins het nog twee ikoniese vervaardigers gedwing om hul individualiteit prys te gee en eerder saam te werk om koste te bespaar.

FiatChrysler het verlede week bevestig dat hy en die PSA-groep tans ver gevorderd is met saamsmeltgesprekke. Die Italiaanse reus beplan om ’n 50-50-samesmelting met die Franse groep te vorm, maar die nuwe direksie van 11 lede sal uit vyf van Fiat en ses van Peugeot bestaan.

Carlos Tavares, grootbaas van die PSA-groep, sien baie sinergie-moontlikhede in hul nuwe samewerking met FiatChrysler.Foto: Getty Images

FiatChrysler het skaars vyf maande gelede nog voelers na Renault uitgesteek om in ’n moontlike huwelik met hom te tree. Die Franse was gewillig, maar sy Japanse vennoot Nissan het baie vrae gehad. Die proses is dramaties stopgesit toe die Italianers die gesprekke skielik kortgeknip het.

Die nuwe samesmelting tussen Fiat en Peugeot sal die wêreld se vierde grootste vervaardiger vorm wat verkoopsvolume per jaar (8,7 miljoen) betref.

In Europa word geglo Carlos Tavares, nuwe PSA-grootbaas, is ’n groot dryfveer vir die proses om te slaag. Onder Tavares het Peugeot in 2017 vir Opel bekom, wat toe al meer as 70 jaar onder die Amerikaanse General Motors geval het.

Nadat Opel meer as tien jaar nie ’n wins kon toon nie, het Tavares binne 18 maande die groep omgeswaai en sy balansstaat terug na die swart gebring.

Waarom die planne?

Kostebesparings is tans ’n gonswoord in die Europese motorbedryf. Hoewel Sergio Marchionne, FCA se vorige grootbaas wat vroeër die jaar oorlede is en deur John Elkann vervang is, nog altyd samesmeltings gepropageer het as die bedryf se redding in die toekoms, is dit nou eers onder Elkann wat die rubber die teer begin slaan.

Marchionne was enersyds ’n knap bestuurder wat Fiat terug op die winspad gebring het en ook die oorname van Chrysler (wat Dodge, Jeep en Ram insluit) suksesvol gehanteer het. Maar hy het halsstarrig ontken dat e-voertuie die toekoms is.

Derhalwe het Fiat nooit in e-mobiliteit en navorsing belê nie. Dit het die Italiaanse reus nou ingehaal, met Europese wetgewing wat al meer binnebrandenjins uitrangeer ten gunste van e-voertuie.

Elkann besef dus dat vir FCA om nou van nuuts af te belê en in te haal, ontsaglik baie gaan kos. Daarom dus die soeke na ’n vennoot wat reeds oor die nodige tegnologie beskik.

Die Renault-Nissan-alliansie was ’n ideale huismaat aangesien Renault reeds sy Zoë het, en Nissan al vir jare die Leaf bemark.

Peugeot is hul tweede keuse, maar die groep het wel met sy CMP-platform bewese e-tegnologie wat hy vir sy Peugeot e-208 en Opel e-Corsa inspan. Straks nie so gewild as die Leaf en Zoë nie, maar dit is reeds daar.

In ruil vir die e-tegnologie kan Fiat sy Amerikaanse markte aan die groep oopstel, waar hy veral suksesvol is met sy Jeep-handelsmerk.

Maar daar is spoedwalle

Die transaksie is egter nog glad nie afgehandel nie. Die mededing­ingsowerhede in Frankryk en Italië sal eers hul kopknik moet gee, terwyl vakbonde wat vrees dat fabrieke toegemaak en werkers afgedank gaan word, ook in die transaksie geken sal moet word.

Daar word juis gesê dat Tavares se omkeer-sukses met Opel kom nadat hy al Opel se ingenieursafdelings in Frankfurt gesluit het en dié dienste deur sy eie afdelings in Parys laat hanteer het.

Hy het Opel se nege platforms na net twee verminder, en albei is bestaande Peugeot-platforms.

Slotsom

Sedert Marchionne oorlede is en Nissan se voormalige grootbaas Carlos Ghosn in die tronk is terwyl ’n saak van belastingontduiking teen hom in Japan ondersoek word, is die Europese motorlandskap onderstebo gekeer. Marchionne en Ghosn was albei beskou as ikone van die bedryf.

Die samesmelting beteken ook vir petrolkoppe al minder differensiasie onder voertuie. Renault en Nissan deel alreeds enjins en platforms, terwyl Peugeot, Ci­troën en Opel vandag voëls van eenderse vere is.

In die groot FCA-stal vind jy weer vir Fiat, Alfa, Maserati, Jeep, Chrysler, Dodge en Ram.

Onder e-mobiliteit gaan ons ál meer eenderse hardeware hê, met ’n mooi, unieke bakwerk daaromheen gevou. Bemark as ’n gans ander voertuig.

Meer oor:  Fiatchrysler  |  Peugeot  |  Motors  |  Motorbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.