Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fiat se Toro ’n fris kêrel

Terwyl die aandag vandeesweek op Hyundai se windmaker nuwe Santa Cruz-bakkie was, was dit gaaf om te sien wat elders in hierdie marksegment gebeur.

In Suid-Amerika, waar talle vervaardigers hul eie aanlegte het en ook produkte daar suiwer vir daardie mark ontwikkel en eksklusief bemark, het Fiat pas die sluier gelig van sy opgeknapte Toro-bakkie.

Daar’s sommer heelwat Dodge Ram in hierdie klein Brasiliaanse Fiat-bakkie. Die Fiat Toro is tans net vir die Suid-Amerikaanse mark bestem, maar ons reken hy sal ’n paar harte in Boksburg en Bellville sag maak met hierdie voorkoms.

In Suid-Afrika het ons reeds ’n paar jaar al die Mitsubishi Triton-gebaseerde Fullback-bakkie wat onder die Fiat-handelsmerk versprei word, saam met die Triton. Maar in Brasilië bou die Italianers ook ’n kleiner, halfgrootte dubbelkajuit wat net soos die Hyundai Santa Cruz (en Honda Ridgeline) ’n suiwer leefstylbakkie is. Dus, nie ’n robuuste veldryer wat op ’n leerraam-onderstel gebou is met bladvere en goeie grondvryhoogte nie.

Die Brasiliaanse bakkie heet die Toro en is al sedert 2015 op die mark, waar hy inderdaad heel gewild is. Die Toro is op die Fiat 500X en Jeep Renegade se platform geskoei en bied dus ’n middelslag-grootte leefstylbakkie vir die Suid-Amerikaanse mark.

Ons hou veral van die Toro se omgekrapte voorkoms. Fiat se stileerders het beslis ’n week of drie bestee by hul Dodge-eweknieë in Amerika, want die Toro se fors rooster staan groot uit, nes die Dodge Ram s’n. Met sy swart afwerkings by die neus, sierwiele, dakrak en rolstaaf lyk die Toro nie net modern nie, maar ook windmaker genoeg vir ’n aspirant-cowboy van die stad.

Slim kenmerke sluit in die agterklap wat in twee dele verdeel is en soos ’n hangkas se deure horisontaal oopswaai. Binne is ’n groot raakskerm vir nutsfunksies en dié is net soos Volvo se instrumente ook vertikaal geposisioneer eerder as die tradisionele horisontaal.

Onder die enjinkap sit ’n klein 1.3-liter-petrolturbo van Fiat wat 134 kW en ’n gewillige 270 Nm-wringkrag met ’n outomatiese sesgangratkas na die voorwiele uitstoot.

Meer oor:  Motors  |  Fiat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.