Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Padlangs:
Flou wet – of flou beampte?

As hierdie land ’n euro kon verdien vir elke komitee, ondersoek en nuwe wet wat uitgedink word wanneer ’n probleem sy kop uitsteek, het ons al ’n skool vir elke township gebou en sommer Eskom ook gefieks.

Ons hou van nuwe planne. Daar moet ’n komitee wees, en dié moet ’n ondersoek van stapel stuur en dan moet almal dit bespreek. Dit is ’n prosesgedrewe kultuur. Die gedans om die vuur is belangriker as die gaarheid van die tjops op die kole.

Strenger wetgewing word voorgestel om ons padsterftesyfer af te bring. Maar lê die fout werklik by ons wetgewing?

’n Goeie kollega wat op sy dag hoog op in die maatskappy gevorder het, het op ’n keer gesê sy filosofie oor die ineenstorting van die Sowjetunie met sy uitgebreide stelsel van kommunisme is dat dit bloot was weens die massiewe administrasielas.

Sosialisme (en dan in sy uiterste vorm, kommunisme) is prosesgedrewe. Dit is dol op komitees, ondersoeke, die opteken van data en boekhou van als. Die proses om by ’n oplossing te kom word die afgodjie self. Die doelwit wat jy wou bereik, raak byna vergete. Solank ons net nog ’n wet of reël kan instel, en ’n komitee wat dit moet monitor.

Die resultaat hiervan is dat jou administratiewe las massief word. Boekstawing van inligting, enersyds, maar bloot ook net om besluite uitgevoer te kry in hierdie burokratiese doolhof van prosesse maak dat die stelsel – selfs in ’n supermoondheid – eindelik tot stilstand knars.

Onder sy eie gewig.

Dis nou ’n lang ompad, maar in die afloop van die somervakansie het ons eie minister van vervoer, Fikile Mbalula, hierdie sosialistiese onderrok weer laat uithang met sy versugting dat die dronkbestuurwet nog strenger gemaak moet word.

Sien? Die proses neem weer die middel van die dansvloer in. As daar padsterftes is, moet daar meer, en nuwe, wette gemaak word. Want die fout lê by die administratiewe proses.

’n Verrigting- of uitkomsgebaseerde kultuur sal die fokus plaas op die toepassing van die stelsels. Wat bereik ons op die oomblik, en wat kan ons doen om dit effektiewer te maak?

Ons het oorgenoeg reëls en regulasies in hierdie land. Ons regstelsel is robuus en selfs tegemoetkomend, tot op die punt van agteroor buig. Kyk maar hoe ry die oudpresident al meer as ’n dekade lank die stelsel in sy guns om sy korrupsieklagte te systap.

Ons stryd is nie met die proses nie. Maar helaas, dalk sus dit net die oneffektiewe burokraat se gewete.

Ons sal egter ’n ratverandering moet maak as ons positiewe verandering wil sien. Die refleks­reaksie van die sosialis om ’n nuwe of strenger wet voor te stel om ’n probleem op te los, moet nou laat vaar word.

Fokus eerder op verrigting. Dit is juis prakties aangesien verrigting meetbaar is.

Stel ’n doelwit (die uitkoms) daar, en meet jou mense se verrigting daaromheen. Is amptenare goed genoeg opgelei? Het hulle die nodige toerusting? Kan ons aanklaers oortreders suksesvol aan die pen laat ry?

Laasgenoemde is nogal ’n seer toon. Ek onthou statistieke dat iets soos slegs 5% van oortreders uiteindelik suksesvol vervolg word. Watter afskrikmiddel is dit? Onthou enigeen die regter Motata-voorval van destyds in Gauteng?

Verder, op watter aspekte fokus ons in ons wetstoepassing? Word leerlingbestuurders se bestuursvernuf gemeet aan hul vermoë om te kan parkeer, of om op ’n driebaan-snelweg in spitsverkeer goeie besluite te neem?

Wil ons iemand betrap wat teen net meer as die 60-perk buite ’n dorp “jaag”, of moet ons eerder die persoon aankeer wat in die geel baan (of aankomende baan) verby ’n string voertuie jaag omdat hy ongeduldig is?

Fokus ons op geldinsameling (die ridder van die koeltebome met sy spoedkamera), of op konstruktiewe en informatiewe wetstoepassing op paaie?

Om nou buite die wynplaas te gaan bestuurders vang wat een bier gedrink het, terwyl die oorlaaide minibus op ’n sperstreep teen ’n blinde hoogte voertuie verbysteek, is om jou fokus verkeerd te plaas.

Ons stryd is nie met die proses nie. Maar helaas, dalk sus dit net die oneffektiewe burokraat se gewete.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Beampte  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.