Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fluitjie blaas vir Audi se stadsbuks

Ná skaars tien jaar en twee generasies wil dit lyk of die eindfluitjie geblaas het vir Audi se kleinste model, die A1.

Die A1 gebruik dieselfde platform as die Volkswagen Polo, en is as ’n koepee- en vierdeur-luikrug (die A1 Sportback) aangebied. Audi se grootbaas, Markus Düsmann, het egter verlede week laat val dat daar nie ’n opvolger vir die A1 beplan word nie.

Audi se dilemma is die Europese Unie (EU) se al strenger reëls vir binnebrandenjins. Die EU druk die vervaardigers met strenger vereistes om hul voertuie te elektrifiseer ten einde klimaatsverandering te bekamp.

Sê dan maar koebaai aan die Audi A1. Plaaslik was die Polo-gebaseerde model heel gewild as ’n stadsryding vir enige jongeling wat sy (of veral haar) status wou wys.

Groot stede maak ook hul bydrae hiermee, deur al meer petrol- en dieselvoertuie uit hul middestede geheel en al te verban.

Die probleem vir die vervaardigers is dat elektrifikasie nog peperduur is.

Dit kos gemiddeld drie keer soveel om ’n elektriese voertuig op die mark te plaas as wat hy sou kos sou hy ’n gewone petrolmodel wees.

Vervaardigers begin derhalwe met groot, duur voertuie as ’n eerste proesel van e-modelle. ’n Duur voertuig kan makliker en meer van die hoë insetkoste in sy prys absorbeer as ’n klein stadsmotortjie wat ’n lae rakprys moet hê.

Die A2 van 20 jaar gelede het nog heelwat diepgang in die harte van Europeërs, al was hy nooit so suksesvol as wat Ingolstadt gehoop het nie.

Die A1 moet dus of ’n petrol- en dieselmodel wees, of hy moet sy plek in die groot motorargief van vergane modelle gaan inneem.

Düsmann se plan blyk nou te wees om ’n ietwat groter e-motor as stadsbuks op die mark te plaas, en dan die A2-benaming daarvoor te gebruik. Die VW-groep werk reeds aan so ’n platform, wat Audi se insetkoste sal beperk.

Die A2-kenteken sal goed by so ’n stap inpas. Die naam dui aan dit is ’n groter voertuig as die A1, wat hy inderdaad sal wees. Maar dan ook sal daar heelwat mense wees wat nog die oorspronklike A2 kan onthou, wat Audi kort ná die millennium-oorskakeling op die mark geplaas het.

Destyds was die klein A2 met sy halwe-brood-voorkoms nie die mark se gunsteling nie. As ’n stadsbuks was hy sy tyd vooruit, hoewel ligte alumi­nium-tegnologie hom gehelp het om ’n goeie verbruiksyfer daar te stel.

Die A2 is nooit in Suid-Afrika bemark nie, maar was redelik sigbaar in Duitsland.

Dis op hierdie positiewe sentiment en praktiese aard van die nomenklatuur waarop Audi nou sy geld verwed met die wegskop van die A1, en die naderwink van ’n nuwe, batterygedrewe A2.

Meer oor:  Audi  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.