Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ford wil kopers met weelde lok

Die segment vir gesinsbussies is redelik beperk met Toyota se gewilde Quantum wat ’n sterk speler is, gevolg deur Hyundai se bekostigbare (en gewilde) H-1 ’n kortkop agter hom. Volkswagen se Caravelle en Mercedes se V-klas ding weer in die boonste deel van die segment vir weeldebusse mee.

Tussen dié gegrom om ’n paar bene probeer Ford ook lêplek vind vir sy netjiese Tourneo Custom-bus. Die redelik deftige bussie het ’n moderne voorkoms en afwerkings binne, maar hy kon nog nie sy kleim behoorlik afsteek in die mark soos Ford sekerlik sou verwag het nie. Die Quantum en H-1 het werklik die mark aan die keel beet, met veral toeroperateurs en hotelgroepe wat absoluut dol is oor die Hyundai se balans tussen weelde en bekostigbaarheid.

As ’n nuwe stuk lokaas om die oog van potensiële kopers nader te wink, het Ford nou sy mooie bus met twee ekstra weeldemodelle uitgebrei. Boonop kry dié twee elkeen ook ’n gemaklike sesgang- outomatiese ratkas by, om die bestaande slegs-handratkas-keuses aan te vul.

Die Tourneo Custom-bussies het nou ’n outomatiese ratkas as keuse ryker geword.

Ford sê in ’n verklaring hy het agtergekom al hoe meer kopers soek in dié segment na ’n outomatiese bussie. Dit maak sin, want hedendaagse outo’kaste is werklik gerieflik en dit laat daardie rit vanaf die lughawe na die hotel net soveel stylvoller en geriefliker geskied.

Ford het egter slim gespeel met al die moderne tegnologie wat vandag tot sy beskikking is. Kyk byvoorbeeld net na wat als in die Ranger- en Everest-reekse beskikbaar is, wat enjins en ratkaste betref.

Vir die twee nuwe Tourneo-bussies het Ford ’n 2.0-liter-turbodiesel met ’n sesgang- outomatiese ratkas gekombineer. Dié enjin is egter ook in twee kragvlakke beskikbaar. Die Trend is die meer basies afgewerkte model en sy dieselenjin bied 96 kW en 385 Nm wringkrag, terwyl die Limited die deftiger model sal wees met meer woema onder die enjinkap (136 kW, 415 Nm).

As jy kan onthou, die Ranger het dieselfde enjin as ’n opsie, maar jy kan hom ook bestel met twee turbo’s (vir meer krag) en gekombineer met ’n tiengang- outomatiese ratkas. Dit is egter ’n duurder kombinasie, en ’n mens vermoed Ford wou sy pryspunt in die mark so naby as moontlik aan sy Koreaanse en Japanse mededingers hou. Daarom dat op die enkelturbo-dieselenjin van die tweeliter besluit is, saam met die ouer tegnologie en dus goedkoper sesgang-ratkas.

Die nuwe Trend- en Limited- bussies kom standaard met ’n AdBlue-stelsel in die uitlaat, ’n generiese bemarkingsnaam vir ’n vloeistof wat in die uitlaatstelsel gespuit word om die stikstofgasse grootliks te neutraliseer en dit dus skoner te maak as dit die voertuig verlaat.

Die Trend sowel as die Limited kry ’n opgeknapte binneruim, maar die Limited het nou ook ’n groot raakskerm waarmee jy jou slimfoon koordloos kan koppel. Bestuurdershulpmiddels soos aanpasbare spoedbeheer is opsioneel beskikbaar.

Die bestaande 2.2-liter-turbodiesel met ’n sesgang-handratkas is steeds in sy drie afwerkingsvlakke te kies, naamlik Trend, Ambiente en Limited. Hulle sal die onderste deel van die prysvlak uitmaak, terwyl die twee outomatiese modelle hulself bo-aan sal aansluit.

Meer oor:  Ford
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.