Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Formule 1: Mercedes se greep op sukses

Hoewel Frankryk die gewildste toeristebestemming ter wêreld is, is sy aantrekkingskrag allesbehalwe absoluut – en bied hy, nes ander lande, ook sy skadukante wat avontuursoekers met vrymoedigheid kan vermy.

Sondag se Franse Grand Prix, wat op die Paul Ricard-baan aangebied is, is ’n voorbeeld hiervan. As twee weke gelede se Kanadese ren ’n heldhaftige skoot tequila-en-tabasco met tafeldansery en vlieënde onderklere was, was Sondag se weergawe ’n druiwesap-affêre by ’n nagmaal, kompleet met safaripakke en kerkhoede.

Die kampioenskapsvoorloper, Lewis Hamilton, het ongehinderd en voorspelbaar sy sesde sege van die jaar ingepalm. En sy Mercedes-span bly tot dusver nog onoorwonne in 2019.

Jip, nog ’n Formule Een-ren, nog ’n een-twee-prosessie vir Mercedes se Lewis Hamilton en Valtteri Bottas wat die naweek se Franse Grand Prix in emfatiese styl gewen het. Gaan dit Sondag dieselfde storie wees op Spielberg, in Oostenryk? Foto: Reuters

Vir die Franse ren het Ferrari ’n smorgasbord aërodinamiese verbeteringsbonbons aan die SF90 opgedis; onder meer ’n herontwerpte vloer en drukvlerke. Dié kelkie het egter weinig of selfs ’n negatiewe uitwerking op hul rondtetye gehad – hul verrigting was die swakste sedert die openingsren in Australië.

Dit teenoor Mercedes wat foutloos en sonder inspanning voortstoom na die soveelste jaer- en vervaardigerskroon.

Maar hoe kry ’n span dit reg om ses opeenvolgende jare onoorwonne te bly; en veral in 2019 met die nuwe spesifikasie (en ekstra koppige) Pirelli’s?

In 2017 en 2018 was Monaco, met sy kruipspoed-spaghettidraaie, die baan waar die Silwer Pyle hul stompste vertonings gelewer het. Die Mercedes se (relatief) langer asafstand as die Ferrari en Red Bull is só gekies om gunstiger te hardloop op bane met medium- en hoëspoeddraaie waar sy enjin sy l-a-a-ng bene kan strek. Daarom was laasgenoemde twee spanne se motors ratser om die haarnaalddraaie.

Boonop was die Red Bull se Renault-krageenheid se asem korter, maar het meer slaankrag teen laer toere gebied – en het van die Mercedes ’n gapende vis uit die Middellandse See rondom die Grimaldi’s se tuinpaadjies gemaak.

En vanjaar? ’n Vuisstamp-groet, ’n vatvyf-sprong en selfies met Charlène – op die boonste podiumtrappie. Maar hierna, by bane wat uitleggewys lynreg teenoor Monaco staan triomfeer Hamilton wéér.

Vanweë die obsessie met die brute krag van F1-enjins is aërodinamika lank as sekondêr tot die motors se lewering van vinnige rondtetye beskou.

Ja, die Mercedes se enigste oorblywende swakheid – hoe die motor omgaan met draaie wat ’n lae snelheid vereis – het in 2019 gesneuwel soos die onwillige Charlène se lewenslus die dag toe sy vir prins Albert die ja-woord gegee het.

En die geheim daaragter is dat hulle ’n rigtingbesluit geneem het om ’n motor wat aanvanklik vaartbelyn was te verruil vir een met meer afwaartse druk en meer sleur in die pylvakke.

Waarom? Wat betroubaarheid betref, was die Mercedes-enjin met die aanvang van die turbo-hibriede era in 2014 reeds so ver voor sy mededingers dat hulle uitsluitlik kon fokus op sy kraglewering, terwyl die verblufte Ferrari en Renault gesukkel het om die blote konsep te verstaan.

Toe dié agterstand uitgewis is, het Mercedes besef dis tyd vir nóg ’n troefkaart: sy onder­pres­tasie deur stadige draaie.

Die media laat nie op hul wag met die nuutskepping van leksikale kwinkslae en pseudo-spitsvondighede nie. Een so ’n voorbeeld is “Brexit”.

Daar is baie te sê vir afwaartse druk teen lae snelhede – en Red Bull se herhaaldelike prestasies by kenmerkende kronkelbane soos Monaco, Hongarye en Singapoer het die skille van Mercedes se oë laat afval.

Die gevolg was ’n intense ondersoek na die verbetering van die aërodinamika en vering, wat die bande op die baanoppervlak moet hou en belangrik is vir die motor se stuur-, rem- en versnelaksie.

Vanweë die obsessie met die brute krag van F1-enjins is aërodinamika lank as sekondêr tot die motors se lewering van vinnige rondtetye beskou.

En tog is dit so dat enige ekstra spoed wat in (stadige) draaie bekom word – danksy die drukvlerke, vering, of die bande – bydra tot ’n flinker rondtetyd.

Met hierdie evolusionêre klemverskuiwing na aërodinamiese greep deur stadige draaie, het Mercedes ’n motor ontwikkel wat vandag vreesloos staan vir enige gekurfde trajek.

Die verdere voordeel is optimale bandbenutting; wat op sy beurt bepaal word deur hoe vinnig hulle verhit kan word om hul ideale temperatuurstrek te haal.

En dis iets wat Mercedes in 2019 beter as die res kon vermag. ’n Sirkelvormige sleutel tot sukses: Om deur die stadige draaie te kan sing, soek jy warm rubber, maar om die rubber al dente te kry, soek jy spoed.

En Mercedes sit vanjaar met altwee hierdie wenresepte: kook en geniet.

Die media laat nie op hul wag met die nuutskepping van leksikale kwinkslae en pseudo-spitsvondighede nie. Een so ’n voorbeeld is “Brexit”.

Op eie bodem is daar die lompe “Morelexit”.

Waarna sou ’n “Formule Eenexit” verkort kon word? “Fexit”?

Of enige ander f-woord waaraan jy kan dink?

  • Die volgende Grand Prix vind Sondag by die Red Bull Ring in Oostenryk plaas.
Meer oor:  Mercedes Benz  |  Ferrari  |  Lewis Hamilton  |  Renjaag  |  Motors  |  Formule 1  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.