Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fortuner baat met fyn gesig, ekstra perde
Platter ligte en ’n forser rooster gee die Toyota Fortuner weer nuwe lewe. ’n Kragtiger enjin en beter sleepvermoë sal ook punte verdien by boswa- en bootslepers.

Kort op die hakke van sy Hilux-reeks het Toyota nou ook sy gewilde Fortuner ’n matige opknapping gegee. Die fris sportnuts kry ’n nuwe gesig, moderner kajuit en kragtiger enjin, onder meer.

Wat het ons hier?

Die Fortuner is Toyota se ry-enige-plek-boswa en is een van die gewildste sportnutse op ons mark. Met sy sewe sitplekke, laestrekratkas en Hilux-onderstel is hy nie net prakties nie, jy kan ook haas op enige stofpad met hom in Afrika gaan ry.

Hoe sal ek hom uitken?

Vir die opgeknapte model het Toyota die Fortuner nou ’n groter rooster gegee. Weerskante is plat hooflighulsels met LED-lampe, en agterlangs is die remligte ook platter gemaak met LED-lampe wat saans ’n duidelike beeld skep.

’n Nuwe blou kleur maak ook sy verskyning op die model-leer.

En wat’s nuut binnelangs?

Toyota het weggedoen met die bruin leerbekleedsel en nou gekies om vir elke Fortuner ’n swart leerbekleedsel te gee. Grys stikwerk bied ’n mooi aksent daarby. Toyota sê die bruin het te maklik vuil merke gewys.

Ons wonder of die eintlike rede nie straks is omdat ál meer stedelike kopers vir swart bekleedsel, soos wat hul gesinsmotors het, gevra het nie.

Die instrumentpaneel kry nou ook ’n groter raakskerm wat al jou nutsfunksies huisves. Oral in die kajuit, soos by die deurpanele en rondom die instrumente, is daar nou ook meer chroom-insetsels.

Meganika ook verander?

Versterkings by die agteras en -vering het gemaak dat al die modelle nou ’n 3,3 ton-sleepvermoë het – nadat sommige intreemodelle voorheen net 2,5 ton gehad het.

Die grootste nuus is egter dat Toyota eindelik sy 2.8-liter-turbodiesel (die GD-6) weer ’n slag met bloudraad bygekom het.

Die enjin het ’n nuwe turbo en beter lugvloei vir goeie asemhaling en verkoeling ontvang, wat die kragsyfers redelik help opstoot het.

Waar die ou weergawe 130 kW en 450 Nm gelewer het, bied die opgeknapte enjin nou 150 kW en 500 Nm.

Dit nou grootliks omdat die Hilux ál meer agter begin raak het (wat syfers betref) by die Ford Ranger se jongste 2.0-liter-biturbodiesel.

Toyota sê die enjin bied voortaan ook ’n laer verbruiksyfer en laer geraas- en vibrasievlakke (’n balanseerstaaf is hiervoor ingevoeg).

En wat van die modelreeks?

Die reeks is grootliks herrangskik met die ou 2.7-liter-petrolenjin wat nou heeltemal weggeval het uit die Fortuner-gesin.

Daar is ook geen handratkas meer nie. Toyota sê daar was net te min belangstelling in sy handrat gewees, omdat vandag se outomatiese ratkaste al so goed is.

Die Fortuner-reeks bestaan dus nou slegs uit dieselenjins, die 2.4-liter- en die 2.8-liter-diesels.

Daar is ook net twee afwerkingsvlakke, naamlik ’n standaard- en ’n VX-vlak, maar steeds die 4x2- en 4x4-modelle ook.

Goed toegerus?

Hoewel almal die raakskerm het, kry topmodelle items soos dinamiese volgbeheer, ’n satnavstelsel, trukamera, elektries verstelbare luikdeur en swaaibeheer vir jou sleepwa (dit werk sweepslag deur jou sleepwa teen).

Daar is ook enkele items wat jy gewoonlik op ’n sedan sou verwag, soos ’n selfstopfunksie as die blikbrein vermoed jy gaan in iets vasry, verhitte sitplekke voor en ’n gonser sou jy uit jou baan uit dwaal.

Meer oor:  Toyota  |  Motors  |  Fortuner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.