Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Freestyle net reg vir naweek

Ford se tydsberekening met sy nuwe Figo Freestyle was perfek.

Halfpad deur die inperkingstyd in Julie het die Amerikaanse vervaardiger die Freestyle plaaslik bekend gestel, net toe almal begin rondkyk het na meer bekostigbare vervoer.

Die bestaande neiging van afskaling na kleiner en goedkoper voertuie, of na gebruikte motors, het vanjaar behoorlik momentum gekry. En die Freestyle boks presies in daardie kryt.

Soos sy naam wil sê, is die Freestyle ’n nismodel in die Figo-gesin. Ford het sy gewone Figo geneem, hom so amper 2 cm hoër in sy sokkies laat staan, swart plastiekbeskermingstroke by die wielboë vasgebout en ’n silwerkleurige skermstrook voor, onder by die neus, en agter by die stert vasgemaak. Gereed vir stofpad-diens as jy die naweek na jou bergfiets-byeenkoms wil gaan.

Juis in hierdie gees het die Freestyle dan ook ’n dakrak as standaard, wat nuttig is as jy jou fiets daar wil vasmaak.

Twee modelle is te kry, die basiese Trend en die deftiger Titanium, wat ’n langer toerustinglysie het en ook die model is wat ons getoets het.

Roei daai ratkas

Onder die enjinkap sit Ford se 1.5-liter- natuurlik geaspireerde enjin (drie silinders) wat goed genoeg is vir 91 kW en 150 Nm wringkrag.

Slegs ’n vyfgang-handratkas is te kry en die krag gaan na die voorwiele.

Ford se nuwe Figo Freestyle is stofpad-gereed, maar sonder dat hy soos ’n bullebak lyk. Foto: Marnus Hattingh

Dit lewer straks ons enigste frons wat die nuwe Freestyle betref: Ons sou graag ’n outomatiese ratkas as bykomende keuse wou gesien het, en waarom ook nie die groep se puik 1.0-liter-turbo inspan nie?

Ons vermoed koste, in albei gevalle, is hier ter sprake. Plus dat die Freestyle in Indië gebou word (logistiek). Maar steeds, ’n moderner enjin en ratkas sou die pakket net nog opwindender gemaak het.

In die Titanium-afwerkingsvlak kry jy ’n tru-kamera, ’n aansitknop, ’n raakskerm wat ook met stembevele werk en koordloos met jou slimfoon kan “gesels”.

Wel wetende dat buitelewe-mense die Freestyle gaan gebruik nadat hulle heeldag in die stof en modder gaan draf en fietsry het, het Ford ook vir duursame vloermatjies in die Freestyle gesorg, ’n gawe kopknik dat Ford weet wie sy kopers is en hoe hulle hul voertuie gaan gebruik.

Ek het die handrat ietwat lastig in die dorp gevind. Jy moet behoorlik roei tussen verkeersligte soos jy tussen die ratte wissel.

Die aansitknop is ook diep agter die stuurwiel weggesteek, maar as jy eers op dreef is, ry die Freestyle heel gaaf.

Verbysteek verg ’n bietjie beplanning, maar die stuuraksie is lig en in die dorp ry hy lekker gemaklik.

Afsaal

Die segment vir dié tipe rygoed is stadigaan besig om lyf te kry.

Daar is reeds die VW Polo Vivo Maxx en die Renault Sandero Stepway, terwyl die Toyota Etios Cross met sy oordadige aanplaksels ook aanhangers het. Met ’n prys van net onder R250 000 vir albei modelle en ’n nuttige 4 jaar/60 000 km-versieningsplan is die Freestyle ’n heel gawe koopproposisie.

Nou net vir daardie ratkas, Ford.

Prys: Ford Figo Freestyle Titanium – R247 500.

Meer oor:  Naweek  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.