Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fris GLE slaan res vir ’n ses

Hoewel die swak ekonomie, wat nou al in sy derde jaar van doldrums dryf, die meeste van die middelsegmente in die motorlandskap flou gekou en kopers na goedkoper (en kleiner) modelle gejaag het, byt daar nog enkeles aan die weeldekant van die mark vas.

Die heel agterste ry is maar vir klein lywe bedoel, maar die kajuit is steeds funksioneel en prakties vir alle smake.


Veral groot sportnutse, soos die VW Touareg, BMW X5, Porsche Cayenne, Volvo XC90 en die Range Rovers het almal nog ’n klein gevolg om handelaars gelukkig te hou. Van dié groep moet Mercedes se immergroen GLE (vroeër jare as die ML bekend) straks een van die gewildstes wees.

Mercedes se groot GLE is ’n behoorlike weeldeskip, maar in sy liga slaan hy die kitaar. Foto: Marnus Hattingh

Laat verlede jaar het ’n nuwe GLE op ons paaie verskyn, en hierdie slag met ’n 7 cm langer asafstand en ’n dak wat so drie vingers hoër by die A-pilare is. Groter in lyf dus, ja, en steeds ’n beesagtige 2,2 ton op die skaal. Maar danksy nuwe dieselenjins kon Mercedes selfs die EU (voorlopig) tevrede hou.

Die voorkoms het nie te veel verander nie. Merc het by sy wenresep gehou en die bakwerk is dadelik herkenbaar. Ek hou van die skerp aksente, regaf lyne en hoekige voorkoms wat hom fors en doelgerig daar laat uitsien. Soos dit ’n ernstige sportnuts betaam.

Binnelangs kan jy hom as ’n vyf- of sewesitplekker bestel, met daardie ekstra asafstand wat juis hiervoor nuttig is. Die kajuit is nogal ’n kragtoer in deeglikheid, want talle “gits, dis nou slim”-oomblikke sal jou begroet as jy fyn rondkyk.

So kan jy die agterste rugleunings in ’n kits elektronies platslaan met die druk van ’n skakelaar. Of die voertuig laat sak as jy gemaklik wil in- en uitklim. Maar straks die beste truuk is die nuwe, totaal digitale instrumentpaneel wat soos iets uit ’n Jetsons-animasieprent lyk.

Die hele middelkonsole is nou een lang digitale skerm, van voor die bestuurder af tot doer oorkant by die passasier. Die skerm is in twee dele opgedeel wat inligting kan vertoon. Die linkerkantse deel huisves jou nutsfunksies soos die klimaatbeheer, radio, trukamera en satnavstelsel, terwyl die skerm voor die bestuurder die gewone toere- en spoednaald wys asook ritspesifieke inligting. Jy kan dié inligting in verskeie permutasies en prente afwissel na jou smaak.

Die middelste skerm is ook nuttig; jy kan jou 4x4-stelsels hierop sien werk soos jy oor klippe klouter. Dit wys hoeveel krag tussen voor en agter versprei word, wat jou voertuig se hoek is en hoe skerp jy oorleun.

Die kajuit lyk modern met sy breë digitale panele en treffende beelde. ’n Raakpaneel in die middelkonsole vervang die draaiknop van ouds.

Die jongste GLE is met twee dieselenjins – albei nuut – en ’n 3.0-liter-turbopetrol te kry. Ek het die 300d-model getoets, die kleinste diesel in die gesin, wat ’n gawe 180 kW en mammoet-agtige 500 Nm wringkrag losdraai.

Kyk mooi na daardie syfers. Vir ’n tweeliter het Merc iets ongeloofliks reggekry: 180 kW vir ’n tweeliter-diesel. Dis iets wat ’n Golf GTI met ’n tweeliter-turbopetrol net-net regkry. Maar dan kom daardie armdraai-wring van 500 Nm nog by ook.

Die alternatiewe is die inlyn-ses-drieliterdiesel (253 kW, 700 Nm) en die inlyn-ses-petrol (286 kW, 500 Nm). Die petrolweergawe lewer sportmotor-verrigting, maar sy verbruik (13 liter in die dorp) is die materiaal vir ’n Briels-liedjie.

Die 3.0-liter-diesel bied ’n aks meer krag onder die regtervoet, maar ek sou raai die middel van die kolf is met die jongste tweeliterdiesel te vind. Daardie 180 kW gee jou die nodige ratsheid as jy wil verbysteek, terwyl niemand met 500 Nm se wring kan stry nie. Jy gaan jou boot of woonwa sleep sonder dat jy weet hy is agter jou, en steeds 700 km met ’n tenk brandstof haal.

Gepraat van verbruik, my syfer (sonder ’n Sprite) het maklik tot net bokant 6,0 liter gedaal, selfs in dorpsgebruik. Dis puik vir ’n 2,2 ton voertuig.

Klagtes? Enigiets van R1,2 miljoen is baie geld, as ’n vertrekpunt. Maar dan ook, die inligtingstelsels in die voertuig word nou met ’n raakpaneeltjie beheer, waar dit altyd ’n draaiknop was. Soos jou vinger oor die oppervlak gly, skuif die ikone wat belig word ook daarmee saam. Maar sodra jy per ongeluk te hard druk, aktiveer hy daardie ikoon asof jy dit gekies het. Die stelsel is redelik sensitief hiervoor, en om vinnig van kant tot kant oor die skerm te beweeg, verg fokus en fynspierkontrole.

Dis lastig en moeiliker as die draaiknop. Hoewel, Merc sal sê jy kan als met stembevele manipuleer ook, maar selfs dié is maar wisselvallig om te verstaan wat jy sê.

Om saam te vat: As jy die beste dinamika soek, draf na die X5 M50d. As jy die beste balans van moderniteit, verrigting en verbruik wil hê, is Stuttgart se aanbieding beter.

Prys: Mercedes GLE 300d – R1 216 699.

Meer oor:  Mercedes  |  Mercedes Gle 300D  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.