Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fris Isuzu tweede kyk werd
Isuzu se dubbelkajuitbakkies is ’n gewilde keuse as werkesel en ’n leefstylbakkie.

Suid-Afrika is nie noodwendig uniek ten opsigte van sy voorliefde vir dubbelkajuitbakkies bo gesinsvoertuie nie, maar ons moet naby die top van die lys wees! Die Isuzu KB is ’n ou staatmaker en gunsteling in hierdie spesifieke marknis. Die Isuzu was nog nooit eintlik ’n mededinger vir die Toyota Hilux, en meer onlangs, die Ford Ranger wat verkope betref nie, maar oor die jare het dit ’n lojale ondersteunersgevolg opgebou – wat hierdie Japanner deeglik verdien.

Agtergrond

Die Isuzu is bekend as ’n taai, geharde en duursame ryding, en dit is gevolglik geen verrassing dat hy met net 24 300 km op die klok vir alle praktiese doeleindes nog nuut is nie. En dus ry hy ook nog soos die dag wat hy die monteerfabriek verlaat het. Die Isuzu was selfs toegerus met vier splinternuwe General Grabber-veelterreinbande. Dis ook duidelik dat hierdie dubbelkajuit nog glad nie hard gewerk het nie – die rubberlaag van die laaibak is heeltemal ongeskonde!

Verrigting en ekonomie

Die Isuzu se drieliter-turbodiesel ontwikkel 130 kW en 380 Nm se wringkrag, wat deurgevoer word na die trekwiele via ’n outomatiese sesgangratkas. Alhoewel verrigting nie heeltemal kan kers vashou met die Ranger en Hilux nie, bied die Isuzu steeds genoeg trekkrag by lae enjintoere om ’n rustige alledaagse rit te verseker. Die ratverhoudings van die glad skakelende outomatiese sesgangratkas is goed gespasieer en dra by tot die uitstekende brandstofverbruiksyfer van ’n skrale 7,8 liter/100 km.

Hoe voel die Isuzu op die pad?

Soos ’n mens van ’n bakkie kan verwag, is die rit aan die ferm kant. In die jongste Isuzu-bakkies is die ritverfyning opmerklik in vergelyking met die ouer modelle, en die rit is eintlik heel aangenaam. Ook opmerklik is dat daar aansienlik minder enjin- en windgeraas is, hoewel jy, veral by hoër snelhede, bewus is van die gedruis van die veelterreinbande op die teer. Dis maar ’n bakkie-ding!

Die kajuit

Die kajuit is netjies, aangenaam en gebruikersvriendelik, met leerafwerking op die sitplekke, instrumentpaneel en deurbeslag. Die middelkonsole spog met ’n byderwetse infovermaakstelsel met al die funksies wat jy verlang. Die jongste kajuitverfynings beteken dat die Isuzu se kajuit nou heelwat nader aan sy vernaamste mededingers beweeg het. Ongelukkig is die plastiekbeslag in die kajuit steeds ietwat aan die harde kant, maar lyk tog heel goed. Die dubbelkajuit se geriefstelsels is omvattend en sluit eienskappe in waarvoor gewoonlik ekstra opgedok moet word.

Ruimte en nut

Soos in sy mededingers is daar meer as genoeg gerieflike sitplekruimte vir vier tot vyf volwassenes in die kajuit. Die laaibak is bedek met ’n rubberlaag, wat nog in ’n perfekte toestand is. Die Isuzu-dubbelkajuit kan ’n vrag van tot 1 085 kg met gemak hanteer en ’n sleepwa met ’n oorslagrem van tot 3,5 ton aanhaak. Ook nuttig was die bindhake in die laaibak.

Opsomming

Die Isuzu D-Max is ’n waardige teenstander en goeie alternatief vir die Toyota Hilux en die Ford Ranger. Die nuwe model is aansienlik meer verfyn as sy voorgangers, maar hy spog steeds met dieselfde betroubaarheid, duursaamheid en taaiheid wat Isuzu oor die jare heen gelief onder kopers gemaak het. Dis duidelik dat die vorige eienaar besonder goed na hierdie spesifieke Isuzu omgesien het, en dit is, wat ons betref, ’n goeie gebruikte kopie.

Meer oor:  Isuzu  |  Bakkies  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.