Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fris veldryer lyk soos Jeep, maar pas jou sak

China se jongste motor-aanbieding kom in die gedaante van ’n fris 4x4 wat redelik baie aan die Jeep Wrangler herinner.

BAIC (Beijing Automo­tive Industrial Corpora­tion) het pas sy nuwe B40 by die Festival of Motoring in Johannesburg kom wys en in die proses bevestig dat die veldryer vroeg volgende jaar hier te koop sal wees.

Jeep Wrangler? Nee, dit is China se nuwe B40 van die Beijingse BAIC-groep. Goeie grondvryhoogte en ’n laestrekratkas is van sy 4x4-hoogtepunte.

Hoewel BAIC nog geen pryse kon vasstel vir sy B40 nie, sal dit ’n sakpas-sportnuts wees wat die meeste van vandag se groot veldryers die loef sal afsteek wat prys betref.

Benewens die redelik identiese Jeep-voorkoms volg sy meganika ook dieselfde resep. Die B40 is op ’n leerraam-onderstel geskoei wat hom gedug in die veld sal maak, terwyl 4x4-vastrap en ’n laestrek-ratkas ook standaard is.

Aandrywing geskied deur BAIC se twee 2.0-liter-turboenjins, petrol en diesel onderskeidelik. Kopers sal ook kan kies tussen ’n vyfganghandrat- en ’n sesgang- outomatiese ratkas.

Grondvryhoogte word op ’n praktiese 22 cm gestel, terwyl sy nader- (37) en vertrekhoeke (31) ook nie te versmaai is nie. Die agterste gedeelte van die dak kan nes die Wrangler s’n ook afgehaal word, sou jy jou lyf kameelperd agter wou hou.

Binne is daar ’n klein raakskerm wat al jou nutsfunksies beheer, terwyl die instrumente voor die bestuurder digitaal is. Drie temas is vir jou instrumente te kies, Trek, Speed en Classic.

Verwag die nuwe B40 vroeg volgende jaar by jou naaste BAIC-handelaar met pryse wat dan ook bevestig sal word.

Meer oor:  Festival Of Motoring  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.