Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Fris XC40 gee jou weelde én woema

Dit was ’n knipoog voor middernag toe ek die jong ontwerper van Volvo se nuwe XC40 ’n glas Spaanse rooi in die hand stop en sê: “Dié wa van jou, wat was die plan met daardie ingetrekte wange op sy deure?”

Ons was 27 vloere hoog, in ’n blink hotel se draairestaurant, en onder het Barcelona se kuierendes pas die strate begin invaar op pad na nog ’n aand van fuif, kuier en als wat jonges se lewe lekker maak.

Dit was die internasionale bekendstelling van die Swede se nuwe baba-sportnuts, vandag so anderhalfjaar gelede. En doer bo in die hotel het ek die kans waargeneem om ’n ietwat aangeklamde ontwerper sy bedryfsgeheime te laat uitlap.

Ek ken al die geheim. Jy begin met heuning om die mond: “Jou inspirasiebord by die kantoor moes seker vol interessante knipsels wees.” Elke ontwerper het ’n inspirasiebord. Dit lei hul gedagtes. Dan hul pen op wit papier.

Hy’t die glas geneem en hysbak toe gestap. Sewe-en-twintig vloere later stap ons in die voorportaal uit, waar ’n XC40 op ’n podium as uitstalling gestaan het. En toe vertel hy.

Nou, Mej. Heelal op soek na wêreldvrede kan ’n besielende praatjie afsteek. ’n Ontwerper wat jou die fynere nuanses van sy skepping wil uitlig, met ’n glas in die hand, haak een rat hoër.

Vandag het ons eindelik die model wat die XC40 as petrolkop begeerlik maak: Die topmodel-T5, toegerus met ’n 2.0-liter-turbo (185 kW, 350 Nm) en ’n wit dak. Met sy kompakte grootte boks is die XC40 presies waar die aksie vandag is. In hierdie topmodel-gedaante is hy straks net te duur (amper ’n driekwart miljoen) om ernstig opgeneem te word. Die aksiepunt is maar om R500 000.

Maar sou jy wou weet wat kán so ’n klein Volvo-sportnuts doen, is die T5 jou antwoord.

Die bakwerk is lekker lig sodat daardie 350 newtons jou soos ’n wafferse sedan oor die pad laat skiet. Versnel, verbysteek, voet in die hoek, dis als die T5 se kos.

Saam met die T5-pakket kry jy ook al die weelde wat jy sou verwag in ’n deftige sportnuts.

Ons hou van Volvo se topmodel in sy XC40-gesin, die nuwe T5. Fris krag is in daardie kompakte lyf van hom verpak. Die dieselmodelle bied straks ’n meer gebalanseerde keuse. Foto: Marnus Hattingh

Die meeste is bestuurshulpmiddels, soos ’n terugdu-funksie as jy uit jou baan sweef of gonsers vir elke kriek en mier wat om jou roer. Die meeste van dié stelsels skakel ek af, want dit raak irriterend as jy op gewone rywerk wil konsentreer.

Maar in die dorp is dit soms nuttig (soos die selfstop-funksie, as ’n voetganger of kind skielik oor die pad hol).

Die XC40 tref die middel van die kolf met sy lekker kompakte afmetings, wat genoeg sitplek vir vier volwassenes bied en ’n bietjie pakplek vir so drie, vier sagte sakke. Maar steeds nie ’n lompe ryding is waarmee jy sukkel om te parkeer nie.

Ek hou ook van die groot digitale inligtingskerm wat vertikaal in die middel van die instrumentpaneel sit. Die ikone is groot en die stelsel werk redelik maklik. Jy sit lekker hoog in die Volvo en jou sig reg om jou is heel goed. Een ding wat wel lastig was, is die rathefboom, wat jy twee keer moet agtertoe pluk om van P na D te verwissel.

Net een trek en jy bly nog in neutraal en dan begin die voertuig agteruit rol.

Slotsom

Die beste koop sal een van die dieselmodelle wees – goeie krag en ’n lae verbruiksyfer. En heelwat goedkoper as die T5. Maar, met die T5 kry jy al die weelde en hulpstelsels plus die fris enjin wat jou soos die koning van die July laat voel. Iets om oor te dink, sou ons sê.

Prys: Volvo XC40 T5 – R731 500.

Meer oor:  Volvo  |  Xc40
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.