Julle skryf dat dit nogal sin sal maak vir Volkswagen om Skoda na Suid-Afrika te bring, gegewe die feit dat VW die Skodas meer bekostigbaar sal kan prys.
Julle verwys ook na die goedkoper afgewerkte Seats wat destyds na Suid-Afrika gebring is, maar wat hier vir heelwat meer as die ekwivalente Volkswagens verkoop is.
Ek het destyds my eie belewenis van Seat gehad. In dieselfde tyd wat die eerste Seats hier vrygestel is, het ek ’n bloedrooi 1969 Opel GT aangeskaf.
Vrydae, as ek met die Opel GT werk toe is, het ek altyd verby ’n Seat-handelaar gery.
Op ’n keer stop ek by die verkeerslig skuins oorkant die handelaar waar sy splinternuwe Seats almal te pragtig in ’n ry geparkeer staan.
Die volgende oomblik vang my oog ’n vragmotor wat teen ’n hengse spoed in die straat afgestorm kom.
Die bestuurder kon gelukkig die kragstuurlose vragmotor met bomenslike krag na links dwing en deur die een blinknuut Seat ná die ander ploeg.
Nie lank daarna nie het ek op pad werk toe verby ’n verlate Seat-handelaar ge- ry.
Die ironie van die saak is, as Volkswagen destyds nie die kopers se intelligensie onderskat het nie en die Seats realisties geprys het, sou hulle heelwaarskynlik vandag nog ’n florerende handelsmerk in Suid-Afrika gewees het.
Ek stem saam dat Volkswagen vir Skoda hierheen moet bring, teen bekostigbare pryse, sodat hulle kan opmaak vir waar hulle so gruwelooslik met Seat verbrou het.