Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Gawe 2008 ’n nis-buks

Vervaardigers sê graag hul voertuie is enig in hul soort, maar met Peugeot se nuwe tweedegeslag-2008 wat pas in die land aangekom het, het ons inderdaad ’n stadsnuts wat nie werklik mededingers het nie.

Die 2008 is ’n sjiek, stylvolle kwasi-sportnuts geskoei op die lyf van die 208-luikrug, maar met ’n aks meer grondvryhoogte en daardie allerbelangrike skermstroke by die some en wielboë. Jy sal twee volwassenes en twee tieners gemaklik in hom kan inpas. Plus nog ’n sagte sportsak of vier in die laairuim.

Maar as ’n volwaardige sportnuts vir die bergfiets-brigade sien ons hom nie werklik as sy rol nie. Die 2008 is meer van ’n stylvolle stadsrondritser vir die jongklomp as die Qashqai of CX-5 wat jy by elke fiets-saamtrek sal sien.

Franse kat

Dit gesê, die 2008 is werklik mooi gestileer. Binne en buite. Ons het hom in die topafwerkingsvlak (GT) as toetsmodel gehad, wat natuurlik sy vere die beste wys. Maar ook die intree­-Active en middelkind-Allure lyk nie te onwaffers nie.

Kyk net na daardie neus. Die rooster het ’n reeks blink pennetjies wat ’n driedimensionele gevoel aan die sierrooster bied. Weerskante is die hoofligte, afgewerk met drie vertikale lampe, en al teen die hoeke afwaarts is so ’n lang LED-streep wat regdeur die dag skyn en soos ’n sabeltand-tier se oogtand lyk. Daar’s meer oerwoud-njarrr as straatbrak-woef in hierdie Franse kat.

Peugeot se nuwe 2008 laat die koppe behoorlik draai. Sy kajuit is selfs nog mooier afgewerk, reken ons. Foto: Marnus Hattingh
Peugeot se kragtoer

Binne word die tema met ’n rat hoër geskuif. Heelwat dowwe aluminiumpanele kikker die andersins somber swart panele op. Maar sagte, fyn strepies LED-beligting en kontrasterende stikwerk help ook om die 2008 se kajuit na ’n bladsy uit ’n modetydskrif te laat lyk.

Peugeot span sy jongste generasie van sy i-Cockpit in die kajuit in. Eerstens, die stuurwiel is ekstra klein sodat jy bo-oor die wiel na die instrumente kyk. Net links is ’n breë inligtingskerm (in die topmodelle bevat dit ’n raakpaneel) en onder die skerm sit ’n rytjie horisontale knoppies, soos wasgoedpenne, wat jou direkte toegang tot enkele funksies bied. En ’n aparte volumeknop, dankie, Peugeot.

Die bo-oor-kyk na die instrumente is ’n snaaksigheid, maar dit pla nie. Die stuur sit so effe in jou skoot, maar dis ’n posisie wat ek self meermale verkies.

Die beeld voor jou is in die topmodel driedimensioneel. Dis eintlik twee skerms wat bo-oor mekaar geplaas is, maar die diepte-effek is fantasties en lyk treffend. Jy kan jou skerm se digitale beeld verander (kleur en inligtingspanele), maar helaas kan jy nie jou ritinligting permanent laat vertoon nie.

Nog ’n gawe kenmerk is die koordlose herlaai-bakkie vir jou slimfoon, net voor die ratkierie. Kompleet met ’n swart klappie wat jy kan toewip om als buite sig te los.

Gooi kole

Al drie die afwerkingsvlakke is met die Peugeot-groep se 1.2 liter-petrolturbo (met drie silinders) toegerus. In die topmodel bied hy wel ’n aks meer krag. Die enjin se twee sterk punte is eerste hoe stil hy werk – by die aanskakel en versnelling hoor jy hom skaars – en sy lae verbruiksyfer. Ek het maklik 5,7 liter gehaal teen 80 km/h.

Op die oop pad voel die 2008 lekker sag en gemaklik, en pad- en windgeraas is afwesig in die kajuit.

Ek sal nie lang afstande op grondpaaie met hom wil ry nie, bloot omdat sy bande se profiel te laag is en die grondvryhoogte ’n sentimeter of twee makeer. Maar sy sagte vering maak dat sy rit op enige oppervlak droomsag is.

Afsaal

Peugeot se grootste uitdaging gaan wees om kopers by sy handelaars te kry sodat hulle agter die stuur kan sit en sien hoe mooi en modern sy kajuit is. Die prysreeks is heel mededingend en die knaap lyk werklik mooi terwyl die jongste tegnologie geïnkorporeer is. Persepsie mag net ’n paar kopers laat huiwer, wat jammer sou wees.

Prys: Peugeot 2008 GT – R479 900.

Meer oor:  Peugeot  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.