
Ons Ford Ranger in sy middelslag-XL-afwerking bied goeie waarde vir geld vandag.
Ford se middelslag-Ranger 2.2 XL-bakkie, ons gebruikte voertuig van die maand, bied deesdae werklik goeie waarde. Ons bepaalde Ranger het nie net ’n billike prys nie, hy is ook gelaai met ’n lang lys standaardeienskappe.
Toestand
Die Ranger se skoon voorkoms, binne en buite, het ons dadelik opgeval. Ná 33 000 km lyk alles nog nuut. Selfs die rubberbedekte laaibak lyk asof daar nog nooit ’n vrag op was nie. Die bande is dalk nie meer splinternuut nie, maar die Goodyear Wranglers het nog baie kilometers se loopvlak oor. Ons het ook gehou van die aantreklike, opsionele swart 17-duim-vellings.
Verrigting
Ons Ranger het ’n turbodieselenjin van 2.2 liter (118 kW, 385 Nm) en ons was heel aangenaam verras deur hoe fluks hy werk. In stadsverkeer versnel die Ford glad en gemaklik, terwyl hy op die oop pad heerlik en moeiteloos voortdraf. Ook die outomatiese sesgangratkas bied ’n soomlose skakelaksie. Ons het ’n verbruik van sowat 6,5 liter op die oop pad gekry met die Ranger.
Daar is min verskil in die rygehalte tussen dié middelslag-Ranger en sy duurder stalmaats. Trouens, die rygehalte was meer as gerieflik en dis net op grondpaaie waar jy die stywer vering en fermer rit sal opmerk.
Afwerkings
Hoewel ons Ranger een van die intreemodelle in die reeks is, kry jy in hierdie XL ’n handvol standaardeienskappe. Dit sluit items in soos ’n vermaakstelsel met ’n digitale skerm, lugreëling, parkeergonsers agter, elektriese vensters, en outomatiese hoofligte.
Ons hou ook van die drie USB- en 12 V-sokke wat in die kajuit versprei is. Die bakkie het ook ’n sleepstang, ’n elektroniese sluitewenaar agter en stabiliteitsbeheer, terwyl die laaibak met ’n rubberlaag uitgevoer is
Daar is meer as voldoende plek vir vyf volwassenes in die kajuit. Die bakkie kan ’n ton se vrag dra, en ’n sleepwa met sy eie remme van 3,5 ton sleep.
Wat sê ons?
Die Ranger is ’n heel veelsydige dubbelkajuitbakkie – en teen minder as R400 000 bied hy goeie waarde vir geld.