Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Gegroet, era van slim ontwerp
Chris Bangle (oudontwerper by BMW) voor die tekenbord – toe motorontwerp nog ’n spel met lig op metaalflanke was.

Jy sou dink ná honderd jaar en meer van konstante ontwikkeling is die moderne motor die perfekte toonbeeld van selfvervoer.

Foutjie. Veel eerder is dit soos ’n adjunkministerspos of kant op onderklere ’n viering van die onnodige. Wel, vir die meeste ure van die dag.

Ja, ek veralgemeen. Maar wanneer laas het jy jou in ’n moderne, duur ryding bevind? Vandag se gesinsmotor bevat meer lawwe truuks as wat Schuster in twee kyk-ure kan opdis.

Dis asof hedendaagse motorontwerpers hul innerlike Boswell Wilkie na hul nuwe produk kanaliseer. ’n Deur wat homself styf toetrek as jy dit net half op knip toegestamp het? Die meeste duur rygoed het dit.

Of wat van die embleem wat saans van onder uit die handvatsel op die sypaadjie voor jou voete geprojekteer word? Nuttig dalk as jy in die parkeergarage wonder of dit werklik joune is of nie. Andersins . . .

Vervaardigers is lief daarvoor om nuwe slimgoed in hul motor te sit – of jy daarvoor gevra het of nie – en dit dan in die bemarkingsmateriaal as iets onmisbaars voor te hou.

Hoe bedoel jy jy kon nog altyd oor die weg kom sonder dat daar lugverfrisser deur die lugversorger blaas?

In ’n mate sou jy verwag hoe duurder die voertuig, hoe gesofistikeerder die tegnotruuk.

Wel, nie altyd nie. Die duurste Maybach het speldeprikgaatjies in die dakvoering waardeur LED-liggies skyn. Ja, ’n sterretjiesdak. Soos Heksie s’n.

Soms kry jy die vervaardiger in ’n mate jammer. Jy kan sien wat die bedoeling was; waarheen die ontwerper gemik het met sy nuwe plan. Daar was belofte in die idee. Maar toe moes Ingenieurswese dit bou. En toe kry Bemarking dit in die hande.

Die gonser wat waarsku as ’n ander voertuig naby joune kom, is ’n goeie voorbeeld. In Europa ry Sven altyd 3 m ver van Lars. Dis hul kultuur. Persoonlike ruimte, selfaktualisering, elkeen vir homself. Daardie goed.

Maar ry nou in Afrika met daardie slimmotor. By die eerste verkeerslig storm drie verkoopsmanne op jou af. Die sensor links voor, regs agter – en is daar een op die dak? – lui soos die klok by ’n rofstoeigeveg. Die klerehanger-verkoper laat spaander. Maar die kêrel met die foonkabels byt nog vas. Tegnologie praat met hom.

Kêrels, ’n sjokolade-melkskommel bly ’n tjoklit-melkskommel, of Steers, Wimpy of Spur hom maak.

’n Nuutjie wat my saans skuustog-gebede laat opsê, is ’n ding wat met ’n ouderdomsbeperking moet uitkom: tussen 65 en 70 jaar. Te jonk en jy gaan die stuurwiel byt. Te oud en hy gaan jou ’n ongeluk laat maak.

Bemerk die blikbrein jy sweef uit jou baan, sal hy die stuur ’n ligte pluk gee om jou fisiek weer terug na die baan te bring. Of net om ’n volwaardige draai van die stuurwiel te inisieer.

In teorie klink dit goed. Jy dut in agter die stuur. Die stuur beweeg skielik na links in jou hand. Jy skrik wakker en voltooi die beweging, weg van die gevaar in die ander baan. Slim.

In die praktyk raak dit egter dubbelsinnig. Jy mik nog na die wit stippelstreep om so wyd as moontlik met jou draai te begin en dan, net as jy op die streep is, ruk die wiel in jou hand. Ek het só al byna ’n motor omgegooi.

Dalk sou dit als steeds aanvaarbaar wees, soos ’n warm bier as jy lank in die kroeg se tou moes wag, as die vervaardigers nie die lafste name vir hul truuks uitgedink het nie: Comand, of Blis.

Kêrels, ’n sjokolade-melkskommel bly ’n tjoklit-melkskommel, of Steers, Wimpy of Spur hom maak. En as die kerkkoor “Love Me Do” sing, word dit nie ’n Psalm nie. Al sal aanhangers van The Beatles met jou verskil.

Dalk is dit ’n teken ons het die toppunt van motorontwerp bereik. Vier wiele, ’n enjin en ’n stuurwiel. Wat bly oor? O, ’n slimtoepassing en ’n gonswoord. Die motor van môre? Jy’t hom gister al gery.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Padlangs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.