Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Geluksgodin van Charles de Gaulle

In ’n dorpie in die noordooste van Frankryk is sekerlik een van die bekendste en geliefste Citroëns van ons era, skryf André Stemmet.

Frankryk se naoorlogse held pres. Charles de Gaulle in sy kenmerkende posisie in sy oopdak-Citroën DS.

Colombey-les-Deux-Églises is ’n dorpie in die ooste van Frank­ryk, en sou in obskuriteit verdwyn het indien genl. Charles de Gaulle, Franse president van 1958 tot 1969, hom nie ná sy aftrede daar gevestig het nie. De Gaulle, sy vrou en dogter is in die plaaslike begraafplaas begrawe, en sy villa en die De Gaulle-museum in die dorp is gewilde toeristebestemmings. Boonop is die museum ook die bewaarplek van sekerlik die beroemdste Citroën ter wêreld.

De Gaulle was ’n weermag­offisier wat nie die oorgawe van Frankryk aanvaar het ná die Duitse inval in 1940 nie. Hy en ’n getal ondersteuners het na Brittanje gevlug en die Free France-beweging begin, wat die Geallieerdes se oorlogspoging ondersteun het. Ná die Geallieerde inval in Frankryk in 1944 en sy triomfantlike terugkeer, het De Gaulle die politiek betree met die oog op die heropbou van Frankryk ná die vernietigende oorlog. Terselfdertyd het die ingenieurs van die Citroën-fabriek aan die werk gespring om die verouderde Traction Avant, wat nog uit 1934 gedateer het, met ’n nuwe, revolusionêre model, die DS, te vervang.

Toe die DS (oftwel déesse wat godin beteken) op die Paryse Motorskou in 1955 bekend gestel is, was dit ’n sensasie. Nie net het die aërodinamiese, futuristiese bakwerk die kollig gesteel nie, maar meganies was die DS sy tyd ver vooruit.

As die eerste produksiemotor toegerus met skyfremme, het dit oor ’n heel nuwe hidrouliese veringstelsel beskik wat die ryhoogte outomaties by die padomstandighede kon laat aanpas.

Dis hier waar De Gaulle op 22 Augustus 1962 in die prentjie kom. De Gaulle, wat ná ’n uitgerekte en bloedige oorlog onafhanklikheid aan Algerië toegestaan het, was toe reeds verskeie kere die teiken van sluipmoordaanslae deur ontevrede weermaglede wat hom van verraad beskuldig het.

De Gaulle sou tot sy dood lojaal bly aan Citroën.

Terwyl De Gaulle se ampsmotor, ’n swart DS, in Parys se Avenue de Libération van sy kantoor in die Élysée-paleis na die Orly-lughawe onderweg was, het 12 sluipskutters op die kavalkade losgebrand. Twee lyfwagte op motorfietse is dood en drie bande en die agterruit van die Citroën is getref. Die bestuurder kon beheer behou en na veiligheid jaag met drie pap bande, te danke aan die Citroën se gevorderde vering. De Gaulle en sy vrou was ongedeerd.

Die Citroën, nog met die koeëlgate in die bakwerk, is een van die gewildste uitstalstukke in die De Gaulle-museum. Frederick Forsyth, tydens die aanslag op De Gaulle se lewe ’n joernalis in Parys, het The Day of the Jackal geskryf oor ’n fiktiewe sluipmoordpoging op De Gaulle. Die rolprentweergawe begin met ’n dramatiese toneel van die aanslag op die Citroën.

De Gaulle sou tot sy dood lojaal bly aan Citroën. In 1969, toe die Franse Michelin-familie Citroën aan Fiat wou verkoop, het die De Gaulle-regering Fiat se aandeel tot 15 persent beperk, en in 1975 is bankrotskap afgeweer toe die Franse regering Peugeot gefinansier het om Citroën te koop en in die nuwe PSA-groep te inkorporeer.

Ook op Suid-Afrikaanse stofpaaie was die DS ’n bekende gesig, en is van 1959 tot 1975 hier vervaardig.

  • André Stemmet is verbonde aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Den Haag, Nederland.
Meer oor:  Frankryk  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.