Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Germaanse aanslag laat Renault spring met nuwe jas

Dit is die stryd van die swaargewigte, met sowel Volkswagen as Renault wat vanjaar hul gewildste luikrugmodelle opknappings – of ’n heel nuwe model, in VW se geval – gaan gee.

Renault moes vinnig spring om sy Megane-gesin nommerpas te kry in die tyd wat Volkswagen sy nuwe Golf-familie gaan bekend stel.

Die nuwe Golf 8 maak sy buiging in die Europese somer en dit beloof groot nuus vir die Europese mark te wees. Volkswagen gaan egter ook sy susterhandelsmerke se modelle wat op die Golf gebaseer is, die Seat Leon en Skoda Octavia, met nuwe weergawes vervang wat almal die Golf se meganika benut.

Om hierdie Germaanse aanslag van nuwe luikrûe oor die hele prysspektrum (Skoda ding in die sakpas mark mee, en Seat bied ’n sportiewe aanslag) teen te staan, moes Renault noodgedwonge sy verfrissings vroeër bekend maak.

Die Franse het dus pas die foto’s bekend gestel van hul opgeknapte Megane wat nou ’n nuwe jas aangetrek het.

Wel, ons sê ’n nuwe jas, want eintlik is die uiterlike opknappings maar baie effe.

Die grootste nuus wat die vierdegeslag-Megane se voorkoms betref, is dat hy nou LED-hoof- en misligte kry. Dit geld vir alle modelle in die reeks. Die buffer en rooster is ook effens aangepas.

Binnelangs volg die Megane die tendens wat jy nou regdeur die mark gaan vind, naamlik die verruiling van analoog-instrumente met ’n groot, breë digitale glaspaneel.

Klein veranderings soos ’n raamlose truspieël en nuwe skakelaars is van die veranderings wat binnelangs aangebring is.

Soos met ander voertuie die geval is, sal die Megane se breë paneel uit twee inligtingskerms bestaan. Reg voor die bestuurder word jou tradisionele spoed- en toerenaalde gewys, saam met enkele ander ritinligting, terwyl die tweede skerm in die middel van die paneel sal sit. Dié huisves al jou nutsfunksies soos die satnav-stelsel, die tru-kamera en die radio.

Vir interessantheid het Renault ook klein aanpassings aan die binneruim aangebring soos ’n nuwe, raamlose truspieëltjie en nuwe knoppies op die instrumentpaneel wat glo ergonomies beter is.

Topmodelle kry ook ’n nuwe, deftiger sitplekbekleedsel terwyl die bestuurder se sitplek elektries verstelbaar is.

Onder die enjinkap sit Renault se 1.3-liter-petrolturboenjins in verskeie vlakke van kraglewering. In Europa kry intreemodelle ’n sesgang-handratkas, terwyl topmodelle die groep se sewegang- outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-tipe) ontvang.

Daar is selfs ook ’n paar dieselweergawes (1.5-liter), wat in die lig van die Franse se voorgenome streng optrede teen dieselmotors heel verrassend is.

Die Megane RS en RS Trophy kry ’n warmer weergawe van hul 2.0-liter-turbo. Die enjin lewer nou 221 kW en 420 Nm wringkrag, wat ’n sprong van 15 kW en 30 Nm behels.

En laastens gaan jou warm Megane RS ook ’n slag ordentlik kan knor by die verkeerslig. Dit nou danksy ’n nuwe meganiese klep in die uitlaatstelsel wat oopgaan vir ’n growwer klank as jy in Sportmodus is. Ideaal om ingedagte voetgangers by die kruising wakker mee te raas, sê ons.

Meer oor:  Renault  |  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.