Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Gevalle indoena
In F1 is Ferrari besig om Mercedes in ’n blik te druk. Die heropstanding het begin by die man wat Fiat en Chrysler gered het. Egmont Sippel bring hulde aan ’n grote. 

Sergio Marchionne het hard gepraat, selfs al was die volumeknoppie deurgaans op sag gestel.

Sergio Marchionne het nooit ’n das gedra nie. Sy sake-uitrusting was ’n geruite wit-en-blou hemp, ’n swart oortrui, swart jeans. ’n Das, het hy gesê, sal hy dra op die dag dat Fiat Chrysler Automobiles (FCA) skuldvry is.

Marchionne het ook nooit gebulder of geskree nie. Maar hy’t hard gepraat, selfs al was die volumeknoppie deurgaans op sag gestel.

Dis die ínhoud van sy gesprekke en uitsprake wat so getref het, soms soos ’n blok sement.

Maar dis ook met sy direkte, eerlike, uitgesproke, onverbiddelike, genadelose en dikwels kontroversiële benadering dat die pas afgestorwe Italiaans-Kanadese sakeman weer lug in die longe van twee motorreuse kon pomp.

As professionele boekhouer en prokureur had Sergio min tyd vir sentimentele praatjies. Hy’t groot doelwitte gehad en soms buitensporige verkoopsgetalle geteiken.

Maar aksie het nooit ontbreek nie. Marchionne was ’n doener. Eers het hy Fiat gered, toe Chrysler en op die koop toe ook Ferrari se F1-span.

Alliansie met Chrysler

Getrou aan sy siening dat die oorlewing van kleiner motormaatskappye (wat minder as ses miljoen voertuie per jaar bou) net deur samewerking en samesmeltings verseker sou kon word, het Sergio in 2009 ’n strategiese alliansie tussen die herlewende Fiat en bankrot Chrysler bewerkstellig, voordat die twee vervaardigers in 2014 as FCA sou saamsmelt.

Anders as Daimler-Benz en Chrysler se samesnoering in 1998 – wat ter aanvang as ’n “hemelse huwelik” deur die Benz-indoena Jürgen Schrempp beskryf is – was Marchionne se alliansie tussen Fiat en Chrysler ’n sukses.

Een van die groot redes is dat Marchionne bereid was om sterstatus aan Chrysler-produkte te gee. In DaimlerChrysler se geval was die troue nooit “een van gelykes” soos dit vooraf deur die grootkoppe voorgehou is nie. Die skaal was te ongebalanseerd: Mercedes is ’n weelde- en Chrysler ’n massavervaardiger.

Uiteindelik was dit maar net ’n oorname deur Mercedes, sonder lonende sinergieë en integrasie.

In 2001 het Chrysler se Plymouth-handelsmerk byvoorbeeld gesneuwel en in 2007 is die Amerikaanse vervaardiger ná hewige verliese verkoop. Ná 2008 se finansiële krisis het Chrysler om bankrotskapbeskerming aansoek gedoen.

Samesmelting met Chrysler

Marchionne, Fiat-indoena sedert 2004, het onmiddellik 20% van Chrysler bekom en WCM (World Class Manufacturing) as vervaardigingstelsel ingevoer. Feitlik oornag het die Ram-handelsmerk en die Jeep Grand Cherokee uiters gesog en suksesvol geword.

Binne twee jaar is Chrysler se lening van $7,6 miljard ook aan die Amerikaanse en Kanadese tesourie terugbetaal, waarna Fiat die twee regerings se een-derde-aandeel in Chrysler uitgekoop het.

Kanada se hulp het juis gespruit uit Chrysler se noue verbintenis met die Kanadese konglomeraat Magna, Noord-Amerika se grootste motoronderdeelverskaffer en eienaar van Oostenryk se bekende Magna Steyr-aanleg.

Dat Marchionne, vlot in Italiaans, Frans en Engels, in Kanada grootgeword het en lank daar werksaam was, het gehelp.

Teen die tyd dat FCA in 2014 gebore is, was die Jeep- en Ram-handelsmerk al super-gesond. So vol selfvertroue was Marchionne teen daai tyd dat hy kliënte ontmoedig het om die elektriese weergawe van die Fiat 500 te koop.

“Dis vir Kaliforniese uitlaatregulasies gebou,” het hy verklaar. “FCA verloor $14 000 op elke eenheid.”

Sergio Marchionne het hard gepraat, selfs al was die volumeknoppie deurgaans op sag gestel.

Alfa, Maserati en Ferrari F1

Die groep se sukkelendes – Maserati, Alfa Romeo en die Ferrari F1-span – het Sergio ook na aan die hart gelê. Ferrari mag nou wel (sedert 2015) nie meer deel van Fiat wees nie, maar Marchionne het tot sy dood president van die Pronkende Perd gebly.

Dit nadat hy in 2014 – Alonso se laaste jaar as Ferrari F1-jaer – onhoudbare druk op die vorige Ferrari-president, Luca Montezemolo, asook die F1-spanbestuurder, Stefano Domenicali, uitgeoefen het. Albei het bedank en sedertdien het die F1-span– met Marchionne se personeel-aanstellings – van krag tot krag gegaan.

Tragies jammer sal dit dus wees as Ferrari vanjaar titelvreugdes sonder Sergio beleef. Vettel is juis ’n gemaklike gunsteling vir sy vyfde jaerstitel.

Domenicali het destyds na Audi verkas en sedert 2016 is hy die Lamborghini-indoena. Die ironie is treffend: Lamborghini is Ferrari se natuurlike vyand in die supermotor-arena. Dis die een of die ander.

Intussen het Marchionne ook F1 as bemarkingsinstrument vir Alfa Romeo begin inspan. Die oorhoofse idee was om ’n motormaatskappy te vorm wat wêreldwyd in sowel massa- as weeldemarkte kon speel, alhoewel die hergeboorte van Maserati en Alfa tot dusver stotterend was. Marchionne is telkens gedwing om ambisieuse mikpunte uit te stel of aan te pas en die vonk moet nog behoorlik vlamvat.

Tog het Marchionne Fiat se markwaarde in sy 14 bewindsjare vertiendubbel. Vanjaar was boonop die eerste waarin FCA dividende sou betaal. Marchionne het sy oog uiteraard ook op elektriese en outonome voertuie gerig. Die plan was voorts om Fiat-verkope in Amerika op te skort en ’n einde te bring aan massaproduksie in Italië (deur dit elders te doen, in laekostelande soos Pole).

Visie vir die volgende vyf jaar

Marchionne se visie en prioriteite het pal ontwikkel, in die laaste drie jaar oorwegend in die rigting van voertuie wat teen ’n premiumprys kan verkoop, soos sportmotors en veral lewenstylers uit die stalle van Alfa, Maserati, Jeep en Ram.

Marchionne se vyfjaar-doelwit, pas voor sy dood – en tegnies pas voor sy beplande aftrede vroeg volgende jaar – was om die maatskappy se winste tot $35 miljard te verdubbel.

Die noodlot het dit anders bestem. Op 1 Junie vanjaar het die Fiat-messias ’n das om sy nek geknoop om die nuus in Turyn te lewer dat FCA nou skuldvry is.

Minder as twee maande later, op 25 Julie, het Sergio Marchionne weens beroerte en/of ’n brein-embolisme ná ’n skoueroperasie beswyk. Sommige beweer dat die finale slag deur longkanker toegedien is; die werkverslaafde Marchionne was ook ’n kettingroker.

As Ferrari vandag dus weer vir Mercedes op Monza kettingrook – Vettel eerste, Räikkönen tweede – moet jy weet waar die wortels vandaan kom; Sergio se spierwit pluime sidder nog en sal lank so doen, al is hy heen.

  • Die Italiaanse GP word vanmiddag vanaf 15:05 uitgesaai, die opbou vanaf 13:30 en ’n heruitsending van gister se kwalifisering vanaf 12:00, alles op SS1.
  • As Sebastian Vettel vandag wen met Hamilton tweede, sal die Hamer se puntevoorsprong na 10 krimp. As Vettel egter wen met Räikkönen tweede, sal Hamilton ten beste net 7 punte voor wees; ’n voorsprong wat in Singapoer uitgewis sal word as alles volgens huidige vorm verloop. Ferrari se SF71H is nou F1 se vinnigste motor.
  • Was dit nie vir ’n paar kleiner maar ook drie blatante foute op Baku, Hockenheim en Paul Ricard nie, moes Vettel in die eerste helfte van die seisoen omtrent 74 meer punte verwerf het. Selfs dit in ag genome behoort Seb vanjaar se jaerstitel te wen. ’n Verslag volg binnekort.
  • Plaaslik het FCA pas die uiters ervare en hoogs bekwame Graham Eagle as uitvoerende hoof aangestel. Eagle was voorheen by Honda en Nissan. Dit sal moeilik wees om iemand in Suid-Afrika te vind met ’n dieper kennis van motors, motorsport en die motorbedryf. Sterkte, Graham!
Meer oor:  Sebastian Vettel  |  Sergio Marchionne  |  F1  |  Mercedes  |  Fiat  |  Ferrari  |  Chrysler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.