Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Giniel rook die pyp in Marokko

Suid-Afrika se Dakar-koning, Giniel de Villiers van Stellenbosch, het dit weer gedoen – die vierde keer, om presies te wees.

De Villiers en sy Spaanse navigator, Alex Haro, het verlede week in die Marokkaanse veldren eerste oor die wenstreep in hul Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux gejaag. In die proses het De Villiers sy planne duidelik gemaak vir volgende jaar se Dakar-ren, wat in Januarie vanaf Suid-Amerika na Saoedi-Arabië verskuif.

Gooi mielies, Giniel! Suid-Afrika se Giniel de Villiers het die naweek met ’n puik sege in die Marokkaanse veldren in sy Toyota Hilux weggestap.Foto: Motorpress

De Villiers-hulle – in een van vier Suid-Afrikaans geboude Hilux-bakkies – het die voortou op die voorlaaste dag geneem nadat sy spanmaat Nasser Al-Attiyah, wat die eerste drie dae los voor was, hom aan die ren moes onttrek.

De Villiers moes die laaste twee dae ’n verbete aanslag van die Mini-jaers Stéphane Peterhansel en Carlos Sainz afweer. Die Peterhansels (Stéphane en sy navigator-vrou Andrea) het hul motor die voorlaaste dag teen ’n steil sandduin laat omslaan en rol, maar het ongedeerd uit die wrak geklim.

Dít het “El Matador” (Sainz) die enigste jaer gemaak wat die Hilux-jaer nog kon inhaal, maar dit sou ook nie gebeur nie – ’n waterpyp het net 20 km voor die einde gebreek en Sainz se Mini gestrand gelaat.

Hy was in daardie stadium net sowat ’n halfminuut agter De Villiers-hulle op die pad (maar meer as vyf minute algeheel agter). Hoewel die gestrande Mini deur ’n medejaer uitgesleep is, is Sainz-hulle uiteindelik 17 minute 42 sekondes agter De Villiers in die tweede plek geklassifiseer.

“Dit is heerlik om weer hier in Marokko te wen,” het De Villiers na afloop van die ren gesê.

“Ek het hierdie ren al drie keer voorheen gewen, maar het sedertdien ’n lang, droë tydjie gehad en ek is behoorlik in my noppies om weer op die boonste trap van die podium te staan.”

Die laaste skof van die ren was ook ’n skoon lopie vir Fernando Alonso en Marc Coma, wat die agtste vinnigste tyd opgestel en die 21ste posisie algeheel ingeneem het. Alonso-hulle sal hul opleiding saam met die span voortsit met die oog op ’n moontlike inskrywing vir die Dakar.

Meer oor:  Dakar  |  Giniel De Villiers  |  Motors  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.