Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
GLA 45 – botterbul uit Beiere

Dit is ongelooflik wat tans in Affalterbach aan’t gebeur is, maar vir petrolkoppe is dit net goeie nuus.

Vir ’n ryding wat die kragtigste tweeliter ter wêreld het, lyk die nuwe GLA 45 baie bedees. Frisser vering, kragtiger remme en natuurlik daardie drukvlerk verklap egter sy DNS.

Mercedes se AMG-afdeling, waar hy sy radikaalste verrigtingsvoertuie ontwikkel en na die mark bring, het pas die nuwe Mercedes-AMG GLA 45 bekend gestel en dié keer het hy die magiese 300 kW-kerf met ’n blaf van die uitlaat loshande deurgebars.

In die Affalterbach-buurt net buite Stuttgart, waar Mercedes sy hoofkantoor het, is AMG se hoofkantoor en dis hier waar ’n paar takhaar-ingenieurs ’n tweeliterturbo aan die keel beetkry dat hy vaderlandsliedere op Meidag sal sing.

Waar die Golf GTI mik-mik met 180 kW uit sy 2.0-liter-turbo, en ouens soos die Honda Civic Type R, Renault Megane RS en Hyundai i30N ’n toon in die stof krap met net meer as 200 kW, kom die jongste GLA 45 S en speel “Wie’s jou pappa?” met 310 kW. Ja, by AMG vind jy die wêreld se kragtigste tweeliter-enjin, doelgemaak vir jou regtervoet-pret.

Die nuwe GLA is in wese die frisgemaakte sportnuts-weergawe van die gewone A-klas-luikrug. Hierdie keer sal jy uit twee modelle in die AMG-familie kan kies. Daar’s ’n “gewone” GLA 45, en dan ’n warmer GLA 45 S.

Albei is standaard met vierwielaandrywing toegerus met ’n sluitewenaar op die agteras. Die gewone GLA 45 bied 285 kW en 480 Nm draaimoment, terwyl die frisser GLA 45 S die vertrek soos ’n Chippendale binnestap met 310 kW en 500 Nm wringkrag op sy naamkaartjie.

Soos die geval met die groter C63 AMG sal jy ook ’n ritmodus-draaiknop op die stuurwiel hê wat jou toegang tot ’n rits verstellings en modusse sal gee. Die ratkas is Mercedes se agtgang- outomatiese stelsel met twee koppelaars. Die vering en remme is als opgeknap om die kragtige GLA 45 se ekstra donkieskop te kan hanteer. Die remskywe voor is nou 36 cm groot terwyl die skokbrekers drie voorafgestelde parameters het wat jou fermheid inkrementeel aanpas.

Ons hou van die geel aksente in die kajuit. Die instrumente is nou als digitaal, maar die luginlate is nog “ouskool” en boots ’n vliegtuigturbine na.

Visueel sal dit nie te moeilik wees om die nuwe GLA 45 op die pad raak te sien nie. Die fris drukvlerk agter op die luikdeur is weer daar, net soos die dubbele uitlaatpype agter en groot lugsnoer tussenin.

Uitgeboude wielboe, ’n enjinkap met twee lang bulte en ’n sierrooster met ’n donker motief is als standaard. Die GLA 45 draf ook op enorme 19-duimers, maar sou jy wou kan jy 20- of selfs 21-duimers laat opsit.

Suid-Afrika behoort slegs die GLA 45 S te kry wanneer die nuweling later die jaar ons mark betree.

Meer oor:  Mercedes  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.