Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
GR Yaris het meer krag in ligter lyf

Daar’s ’n nuwe Samoerai-ramkat op die pad wat groot name nog lelik op die neus gaan laat kyk. Dis nou wat verrigting en verkope betref.

Toyota het pas sy warm GR Yaris aan die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel, en hoewel die derde vlaag van die Covid-19-pandemie ons kanse om self agter sy stuur te spring gekniehalter het, lyk die klein Japanner beslis na ’n vlymskerp ritser met ’n heel billike pryskaartjie.

“Hou vas en kyk hoe maak ek nou!” Toyota se witwarm GR Yaris beloof ure se pret danksy ’n doelgeboude klein lyf, breër spoor agter, woelige turbo-enjin en ouskoolse sesgang-handratkas.

Nie jou gewone Yaris nie

Soos Toyota die afgelope tyd maak, gebruik hy sy Gazoo Racing-handelsmerk as die nuwe aanduider van ’n spesiale ren­gefokusde model. Die Supra is byvoorbeeld ook nou as die GR Supra bekend, met die nuwe 86 wat voortaan die GR 86 nomenklatuur sal dra.

Maar waar kom die klein warm Yaris vandaan? Toyota sê hy wou ’n homologasie-model vir sy volgende WRC-tydrenmotor bou, en daarom dan al die spesiale truuks en verrigtingskomponente wat hy in hierdie klein pakket ingepas het.

Spesiaal en uniek is hierdie Toyotatjie gewis. Byvoorbeeld, die platform is uit twee dele geleen: Die voorste deel kom uit die nuwe, Europese Yaris (ons kry deesdae die goedkoper, eenvoudiger Asiatiese Yaris hier), terwyl die agterste helfte die platform van die nuwe Corolla benut, met sy breër spoor vir beter hantering.

Die lyf is ook uniek gevorm en boots ’n driedeur-Yaris na, maar danksy daardie breër agteras het Toyota heelwat unieke panele gebruik vir sy spesiale nismodel. Die dak is ook met ’n hele 9 cm laer gemaak as ’n gewone Yaris s’n.

Maar ook die metale is uniek. Die dak is onder meer van koolstofvesel, en die enjinkap en luikdeur van aluminium. Dit nou als om nog ’n ekstra paar kilogramme te bespaar.

Onder die enjinkap sit ’n klein 1.6-liter-petrolturbo (198 kW 360 Nm) met net drie silinders, wat menige blitsbuks met ’n 2.0-liter-enjin skaam sou maak.

Die enjin is terloops verder terug in die enjinruim geskuif as wat hy in die gewone Yaris sit, terwyl die battery agter in die laairuim ingepas is. Ook hierdie stappe is vir renbaan-doeltreffendheid gedoen: ’n meer sentrale gewigverspreiding tussen die asse vir ’n gebalanseerde hanteringsvermoë.

’n Mengsel van ouskool en nuwerwetse tegnologie. ’n Sesgang-handrat en analoog instrumente verklap die GR Yaris se rengefokusde aspirasies.

Druk net die knoppie

In die kajuit het Toyota die ratkierie vir die sesgang-handratkas hoër geplaas, dat dit nader aan die bestuurder is. Die oorgooi-aksie is ook korter, terwyl die swaar koppelaar ’n skerper bytpunt het.

Voor die bestuurder sit ’n klein, vet-greep stuurwiel met twee analoog-wysers op die paneel: Vir jou toere- en spoednaald, onderskeidelik.

In die middel van die instrumentpaneel is die nou gewone digitale inligtingskerm, wat onder meer allerhande enjindata wys, soos jou turbodruk en enjintemperature.

Reg voor die rathefboom sit ’n klein draaiknop wat jou toegang tot die drie ritmodusse bied: Normal, Sport en Race. Krag gaan na al vier die wiele, maar ’n sentrale sluitewenaar wissel die mate waarin dit versprei word. In Normal gaan 60% krag na die vooras, in Sport gaan 70% na die agterwiele, en in Race is dit 50-50 verdeel.

Yaris

Afsaal

Die klein GR Yaris is plaaslik in twee weergawes te kies. Die standaard GR Yaris bied LED-hoofligte met outomatiese dompfunksie standaard. Die GR Yaris Rally kry sluitewenaars op elke as bykomend, plus kleppe in die uitlaatstelsel wat oopgaan as jy vet gee vir ’n dieper gegrom. Daar is ook ruitinligting vir die bestuurder, en ’n terugdu-funksie as jy uit jou baan uit sou dwaal.

Met net 1 280 kg om te karwei, beloof die warm Yaris heelwat pret op die teerpad (en grondpad). Toyota maak aanspraak op ’n versnellopie van 5.5 sek., terwyl topspoed tot 230 km/h beperk word.

Met sy aantreklike pryse, in vergeleke met sy veelgeroemde en geliefde mededinger die Golf GTI, en baie meer krag uit ’n kleiner enjin en ligter lyf, maak dit min sin om meer te hoes vir die ikoon van ’n GTI. Kom ons sien wanneer ons hom self onder hande geneem het.

Meer oor:  Toyota  |  Yaris  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.