Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Groot name jaag met ‘ons’ Hilux-bakkies

Met sy eerste Dakar-titel agter die rug nadat Nasser al-Attiyah in Januarie in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux-bakkie ’n soet sege vir Toyota Suid-Afrika in die laaste Suid-Amerikaanse Dakar-ren behaal het, wil die SA span in 2020 se ren in Saoedi-Arabië hul teenstanders sommer behoorlik pak slae gee.

Die groep het pas sy vier jaer­spanne vir Januarie se Arabiese safari bekend gemaak en dit sluit van die beste veldrenjaers in wat tans beskikbaar is. Almal gaan weer in die SA geboude Hilux-bakkies meeding, wat onder die wakende oog van Glyn Hall in Gauteng aanmekaargesit word.

Toyota Suid-Afrika het ’n gedugte span internasionale topjaers saamgestel om met vier Hilux-bakkies – almal plaaslik gebou – aan Januarie se Dakar-uithouren in Saoedi-Arabië te gaan deelneem.

Die vier spanne is: Al-Atti­yah en sy navigator Mathieu Baumel; Giniel de Villiers en Alex Haro; Bernhard ten Brinke en Tom Colsoul; en dan die oud-F1-kampioen Fernando Alonso en sy ewe ervare navigator Marc Coma, wat ’n legende op sy dag op twee wiele was.

In Al-Attiyah en De Villiers het die span twee ervare Dakar-renjaers met die Katarees wat graag volspoed jaag en meer bereid is om kanse te waag. De Villiers op sy beurt volg ’n meer waaksame benadering en jag die voorlopers soos ’n wildehond totdat hulle van uitputting fouteer en hy hulle kan verbysteek.

Alonso se deelname is natuurlik die grootste ope geheim in motorsport vanjaar. Die Spanjaard het al talle suksesse agter die stuur, wat insluit sy twee F1-titels, ’n Le Mans-titel vir Toyota, en ’n sege in die Daytona-uithouren oor 24 uur.

Hy het in die verlede gesê dit is sy doel om die goue droom na te jaag van motorsport, naamlik om titels te behaal in Formule Een, Le Mans en die Dakar-uithouren.

Dit is derhalwe ’n groot klop op die skouer vir die SA Toyota-span (dit is nie ’n formele inskrywing vanaf Toyota Japan nie) dat Alonso vir hulle gevra het om in hul voertuig sy droom te probeer bewaarheid, en nie by Mini se BMW-deur aangeklop het nie.

* Die Hilux waarmee die jaers in Januarie in Arabië sal aantree, het ’n 5.0-liter-V8 sonder enige turbohulp. Die enjin sit tussen die twee jaers net agter die vooras en aandrywing gaan na al vier die wiele.

Die 2020-ren begin op 5 Januarie in Djedda, aan die Rooisee. Hierna kies hulle koers na die hoofstad, Riaad, in die binneland waar ’n rusdag geneem sal word, voordat hulle weer deur die woestyn en duine gaan ploeg om op 17 Januarie in Al-Kiddijah te eindig.

Meer oor:  Nasser Al-Attiyah  |  Tydrenne  |  Toyota Hilux-Bakkie  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.