Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Groter som as sy dele

Vanjaar was ’n grote vir Hyundai-lewenstylers. Die splinternuwe Santa Fe buig eersdaags in Suid-Afrika, kort op die hakke van die oulike nuwe Kona, terwyl die Tucson en Creta ook onlangse vernuwings ondergaan het. Egmont Sippel het die gekuurde Creta-turbodiesel bestuur.Ons kan altyd oor die ekstras en die ekstreme en die eksotiese praat.

Moderne motors word daarmee oorlaai: stembeheer, selfryfunksies, nagsig, litium-ioon-batterye, magnesium, titanium, koolstof, rodium, boorstaal, noem maar op. Dis toerusting en stowwe wat reeds in Bentleys, Lamborghini’s, Porsche’e en topklas-Mercs, -Maserati’s, -Audi’s en -BMW’s te vinde is.

Voeg hierby die volgende ontwikkeling­stappe soos soliedestaat-batterye, of grafeenbatterye, of ingeboude modems met hul eie SIM-kaarte wat met voorsieners kan kommunikeer – om jou byvoorbeeld na die naaste vulstasie te navigeer, waar die modem self die pomp aanskakel en self die betaling doen, sonder dat jy ’n selfoon of kredietkaart benodig – en die toekoms van motorry lyk effens anders as die verlede.

En dis goed en wel.

Maar soms soek jy nie kreef en garnale nie. Soms soek jy net ’n goeie ordentlike sny brood met ’n growwe, gesonde volgraantekstuur en ’n stewige korsie.

Hyundai se Creta is daai sny brood.

Sak vol aardsout

Eens op ’n tyd was logika en ’n goeddeurdagte wieleproduk feitlik die prerogatief van Europese vervaardigers.

Yank-tenks was te groot en swaar en hul enjintegnologie te oud. Japanse motors het kostegewys sin gemaak, maar op ander vlakke tekort geskiet. Een van die frustrasies was kajuit-ergonomie. Ligte het hier aangesit en daar afgesit. Hoofligte was op hierdie spriet, flikkerligte op daardie spriet. Lugverkoeling is met ’n knoppie onder die voorpaneel beheer en waar nou weer om die reënveërs te aktiveer?

Dit alles terwyl mens net ’n soliede sout-van-die-aarde-soort motor met die basiese toerusting, ’n goeie groepering van instrumente en funksies, genoeg pak- en stoorplek, genoeg ruimte voor en agter, ordentlike sitplekke, ’n voorspelbare stuur en motorreaksies, veilige remafstande, ’n geoliede ratkas, ’n betroubare enjin, aanvaarbare verbruik en daai warm gevoel van waarde vir geld gesoek het, herverkoopwaarde ingesluit.

En dit klink so maklik . . .

Op papier, ja. Maar in’t praktyk is dit heelwat moeiliker. Daar’s min motors wat ’n vol mandjie sonder ’n vrot eier of twee lewer; daar’s min motors wat ’n properse sak vol aardse sout lewer.

Ontmoet Hyundai se Creta.

Onsigbare grens oorgesteek

Aangesien feitlik alle modelreekse dimensioneel van een geslag na die volgende groei, en die Hyundai Tucson deesdae veel groter maar veral ook veel duurder as 2004 se eerstegeslag-weergawe is, het daar in die laaste paar jaar ’n duidelike gaping aan die onderpunt van Hyundai se lewenstylsegment ontstaan.

Dis ’n gaping waarin die Creta – en selfs Hyundai se sexy nuwe Kona – netjies pas.

Die Creta, wat sedert 2014 in Indië gebou word en vroeg in 2017 in Suid-Afrika bekend gestel is, het onlangs ’n middel­lewekuur ondergaan wat al die gebrekkige punte op die oorspronklike model regstel. Nie dat daar veel fout was nie.

Maar tel die klein verbeteringetjies op die gekuurde model bymekaar, en skielik lyk en voel die Creta na ’n veel beter voertuig. Hy’t nou net mooi netjies oor daai onsigbare lyn geglip wat die grens vorm tussen ’n lekker sny warm brood en ’n lekker sny warm brood met so ’n smeertjie grondboontjiebotter daarop. Dis einste hierdie motor wat ons pas in 1.6-liter-diesel- en outo-formaat getoets het.

Eksterieure kikkeringe

Op ’n vinnige, oorsigtelike manier verskil die gekuurde weergawe van die Creta nie veel van die uitgaande model nie.

In ooreenstemming met Hyundai se moderne interpretasie van Fluidic Sculpture-ontwerp soos ook te vinde op die Tucson- en Santa Fe-lewenstylers, is die Creta se rooster vernuwe om tot teen die kopligte te vloei.

Die Kona, as iets nuuts en funky, maak die kopligte weer los van die rooster, juis om hulle as dun juweelslierte aan te bied.

Die hersiene Creta kry ook nuutgevormde misligte en ’n baldadiger lugdam-omboorsel in fop-chroom, plus laer-profieldakrelings.

Die nuweling se stert is feitlik identies aan sy voorganger s’n, maar agterligte spog nou met LED-tegnologie, die buffer is hersien en voorste én agterste skuurplate is groter.

Dit nou op ’n besie waarvan die pens ieder geval 190 mm bo die grond troon, wat goeie ruimte vir ligte veldwerk toelaat.

Veer- en dempverbeteringe

Dis egter klein tegniese verstellings aan die voorvering en agterste dempgeometrie wat die Creta se ritgehalte op gebroke oppervlakke net die nodige hupstootjie gee.

Op ’n agterste wringbalk het selfs hoë 65-profielbande voorheen gesukkel om die rit op riffelpaaie gelyk te stryk en vering is steeds robuus, maak geen fout nie.

Maar ritgehalte is merendeels bevredigend, terwyl elke aspek van die res van die motor selfs nog hoër punte behaal.

Die spaarwiel is byvoorbeeld volgrootte, ’n ware plus vir ’n lewenstylertjie wat dalk heelwat grondpad in sy lewe moet kou. Die laairuim is so-by-so van aanvaarbare noord-suid-afmetings vir ’n kleintjie wat ’n ordentlike spaar dra.

Kajuit en toerusting

Kajuitveranderinge is oënskynlik ewe ondramaties, maar die leeroorgetrekte stuurwiel word nou deur geperforeerde leerbekleding gekomplementeer, ’n opgradering wat uit die bloute ’n amperse premium binneruimgevoel vestig.

Kruisbeheer vanaf die stuurwiel is ook ’n welkome nuwigheid om saam met kragspieëls, ’n agterste parkeerkamera, ses lugsakke, ABS, EBD en ’n raakskerm (met radio, MP3, iPod, RDS, Bluetooth en USB-funksionaliteit) ’n moderne versameling toerusting te bied.

Dit alles as komplement tot ’n kajuit wat uiters goed verpak is met byvoorbeeld hope kop-, knie- en voetruimte vir alle insittendes, insluitend die bestuurder, wie se knieë gemaklik agter die stuur kan oopvou terwyl die linkerskoen op ’n ordentlike voetrus vastrap.

Sitplekke is gemaklik, indien effe ferm, terwyl die bestuurstoel hoogteverstelbaar is. Elmboogleunings is boonop sag, deursakke is alom groot (die voorstes huisves twee bottels elk), instrumente is eenvoudig en maklik leesbaar, draaiknoppe is duidelik en in goeie ergonomiese posisies en die info-vermaakstelsel is logies en eenvoudig, alhoewel die herontwerpte skerm steeds te veel in direkte sonlig blink.

Sat-nav is ’n R2 500-opsie.

Enjin, ratkas en verbruik

Die enjin en ratkas word wel oorgedra, maar die vorige geslag se 1.6-liter-vier­silinder­­­turbodiesel (94 kW, 260 Nm; enkelspoorinspuiting; drukverhouding van 17.3:1) is ’n beproefde en klassieke oliebrander wat ruweg in die orde van 6.2 tot 7 liter/100 km suip om die Creta 1.6 D se 1 310 kg deur die voorwiele rond te sleep.

Met ’n 55-liter-tenk sal dit omtrent
600 km op die langpad lewer, wat beteken dat jy die pad tussen Bloemfontein en Beaufort-Wes maklik met ’n enkele tenk kan dek, as jy rustig ry.

Nie dat die CRDi jou tot vuurwerke aanspoor nie; die enjintjie is ’n tipiese werkesel. Die 0-100 km/h-versnellopie duur 12 sekondes, topspoed is in die orde van amper-amper 180 km/h, verbysteek verg soms ’n bietjie beplanning, en remwerk is redelik konstant en aanvaarbaar, alhoewel mens van die gekners van ABS-tegnologie bewus word.

Die sesgang-outokas is wel vinnig en glad en rat vanself op, indien nie vanself af nie, terwyl die stuur effe star en dood is, al is hy goed genoeg belaai om jou lyn met vertroue te kies.

Prys e n teenstanders Teen R400 000 is die Creta 1.6-diesel ’n deeglike proposisie. Teenstanders kom in die vorm van die Ford EcoSport 1.5 TDCi (R265 000, maar met ’n handratkas asook veel valer krag en toerusting), die Renault Duster 1.5 dCi (R308 000 vir voorwieldryf; R312 000 vir ’n handrat-AWD, maar die Duster is veel primitiewer en robuuster) en die Kia Soul 1.6 CRDi Start (R340 000, met ewe veel krag, maar ook ’n handrat en effe swakker toerusting en waarborg- en diensvoordele).

Uiteinde van die saak?

Hyundai het die kompakte lewenstylmark met ’n wennertjie gevul, veral as mens ’n vyfjaar/160 000 km-waarborg en ’n vyfjaar/90 000 km-diensplan bytel. Die Creta is op eerste beginsels geskoei.

Hy bied niks ekstra of eksoties of ekstreem nie, net die nodige, en dit op ’n eenvoudige, soliede, sout-van-die-aarde-manier.

Maar hier’s die bonus: Die som is groter as sy dele.

Dís die Creta se ware geheim.

  • Pryse: Hyundai Creta – R340 000 tot R400 000

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.