Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
GT-R laat dekade later jonges op hul neus kyk

Soms is net drie letters nodig om ’n halwe mensleeftyd van opwinding, kragtige verrigting en magiese renseges te beskryf, en as jy GT-R noem, weet enige motorgeesdriftige presies waarvan jy praat.

Oor ’n tydperk van 50 jaar het die GT-R-superblits wêreldwyd kultus-status verwerf, en nou is die jongste weergawe in die reeks – spesifiek bekend gestel om hierdie halfeeu-mylpaal te gedenk – ook in Suid-Afrika beskikbaar.

Dié model is die laaste in ’n lang lys spesiale variante – soos die SpecV, Black Edition, Track Edition, Nismo en Nismo N-Attack – wat al die lig gesien het sedert die R35 GT-R aanvanklik in 2007, ’n hele 12 jaar gelede, bekend gestel is.

Nissan se ystervreter, die magtige GT-R, nou al ook ’n rukkie met ons. Sy verrigting kan egter nog met die beste van Europa saamgesels.

Die GT-R, en sy Skyline-voorgangers (’n naam oorgedra van die Prince-motormaatskappy toe dié deur Datsun-Nissan oorgeneem is), bestaan ook nie eintlik ’n volle 50 jaar nie.

Nee. Terwyl die eerste model, die legendariese Hakusoka, in 1969 sy verskyning gemaak en tot 1972 gebou is, is die vervaardiging van sy Kenmeri-opvolger in 1974 gestaak (nadat net 197 gebou is). ’n Hiatus van 16 jaar het gevolg alvorens die legendariese R32-model sy merk gemaak het.

Dié model het met sy oorheersing van die Australiese Toermotor-renreeks in 1990 die Skyline GT-R die naam “Godzilla” (Monster van Japan) besorg, voordat dit in 1995 deur die R33 vervang is. Die vyfdegeslag-R34-model, alom beskou as die Godzilla-ikoon, het in 1989 verskyn en is tot 2002 vervaardig.

Teen hierdie tyd was Nissan reeds besig met die ontwikkeling van die R35 – op ’n geheel nuwe platform en met ’n nuwe 3,8-liter dubbelturbo-V6-enjin wat in sy oorspronklike vorm 375 kW gelewer het.

Hierdie model is ’n dekade gelede plaaslik bekend gestel, en buiten dat dit tot 2011 ’n string internasionale pryse ingepalm het, is dit ook voortdurend vernuwe, onder meer met ’n ligte opkikkering in dieselfde jaar.

Die gedenkweergawe

Die jongste GT-R-weergawe, wat in April vanjaar op die New Yorkse motorskou bekend gestel is, is in ander markte in Pure-, Prestige- en Nismo-gewaad beskikbaar, maar plaaslik net met Premium- of Black Edition-afwerking te kry.

Die Anniversary Edition vier egter die GT-R se ryk geskiedenis met drie erfenis-era-tweekleur-kombinasies wat die blits se livrei in die Japanse GP-reeks verteenwoordig – die kenmerkende Bayside (Wangan)-blou met wit renstrepe wat op die R34 GT-R gebruik is, of pêrelwit met rooi strepe of supersilwer met wit strepe.

Die sesgangratkas mag dalk oudmodies voel, maar vir ’n tien jaar oue ontwerp draf die Nissan GT-R nog heel fluks, dankie.

Ander veranderinge is subtiel, soos die spesiale ligte allooi-sierwiele met blou aksente, grys binneruimkleur en bykomende herdenkingsmodel-kenmerke wat unieke stuurwiel-, rathefboom- en sitplek-afwerking insluit.

Volgens Nissan is enjinkrag danksy Nismo-insette soos aangepaste turbo’s vanuit die GT3-renmodel van 390 kW tot 408 kW opgestoot (hoewel die spesifikasieblad op 410 kW aanspraak maak) en vir oorsese modelle word dit as 419 kW aangedui, terwyl die draaimoment as 632 Nm aangegee word.

Wat ook al die aangeduide kraguitset, die jongste geslag GT-R voel selfs kragtiger, en op die toetsroete aan die buitewyke van Gauteng was dit moeilik om die gevierde blitskoepee onder die spoedgrens te hou.

Kraglewering vanuit die kragbron is feitlik liniêr regdeur die toerestrek, en selfs bo 200 km/h (in beheerde toestande) het die GT-R steeds onverpoos voortgestu.

Sy heerlik borrelende sessilinder-enjinklank deur die nuwe titaan-bedekte uitlaatpype is selfs teen hoë toere eintlik te beskaaf gedemp, maar neem g’n niks weg van sy dinamiese kragvermoëns nie.

Met wegtrekbeheer (in R-modus) kan die GT-R volgens Nissan in so min as 2.7 sekondes tot 100 km/h flits en ’n topspoed van sowat 330 km/h bereik – nie sleg vir ’n sportblits wat reeds meer as ’n dekade feitlik onveranderd gebou word nie. Dit laat mens ook wonder wat die Nismo-weergawe, met 441 kW onder die enjinkap, kan vermag.

Die GT-R se sesgang-dubbelkoppelaar-ratkas (ander soortgelyke blitse gebruik nou al ratkaste met nege gange) is ’n verdere aanduiding van sy ouderdom, maar met nuwe sagteware is sy skakelings blitsig. En met soveel enjinstukrag mis mens nie regtig meer ratte nie.

Ook opvallend is sy ferm dog plooibare rit in normale rymodus; ’n besliste verbetering teenoor die rygehalte van vroeëre GT-R’s, en goed gebalanseerde, presiese stuurgevoel, veral teen hoë snelhede.

Die jongste fyn verstellings op sy elektronies beheerde veerstelsel werk goed (ná meer as ’n dekade van oefen behoort dit) en ’n groter remversterker verseker beter en meer moduleerbare remkrag.

Die GT-R se gewigtigheid is nog altyd met groot kraglewering oorkom, en die gedenkweergawe is g’n uitsondering nie. Sy massa van 1 765 kg is wel voelbaar wanneer hy vinnig in kort draaie moet krink. En ja, sy lang asafstand en vierwieldryfstelsel maak sy draaisirkel groot.

Dis egter kleinighede in die groter geheel, en hoewel Godzilla nou bejaard raak, is hy steeds hups genoeg om superblitse vanuit Maranello, Woking, Sant’Agata, Ingolstad, München en Stuttgart die loef af te steek.

Hierdie gedenkmodel-monster is waarskynlik ook een van die laaste in sy soort, en dus ’n moontlike versamelstuk vir die toekoms . . .

Meer oor:  Gt-R  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.